Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Anton Goosen se eerlikheid is skáárs

Soos in sy lewe en loopbaan is Anton Goosen in sy biografie prakties en takties in sy gevegsbenadering: Hy het gewag dat almal hul sê sê en nou wys hy saam met Hanlie Retief hulle op hul foute, maar hy verwoord ook dinge wat jy nooit geweet het jy voel nie, skryf Deon Maas.

Anton Goosen. “Die kombinasie van hom en Hanlie klink dalk op die oor af soos ’n Afrikaanse sangpaar uit die 1970’s, maar wie ook al dié pryswennermusikant en bekroonde joernalis saamgebring het, verdien ’n Kersbonus.”

Anton Goosen: Liedjieboer deur Hanlie Retief. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

As appelplukkers en prostitute die mensdom se eerste werknemers was, glip biograwe sekerlik maklik in die derde plek. Hofnarre en troebadoers wat eeue gelede hul koning se lof ver buite die grense van sy koninkryk moes gaan besing, het soms die waarheid gepraat en soms ’n bietjie hype ingegooi, maar vir Jan en alleman was dit altyd fassinerend.

Nou is die strate geteer, die rotplae min of meer in bedwang en ons het aanbeweeg na spoeltoilette, maar ons stel steeds belang in die private lewe van beroemde mense.

Die vroegste biograwe – manne soos Cornelius Nepos en Plutargos – het geskryf wat aan hulle voorgesê is. Die moderne biografie is eers in 1791 gebore met die verskyning van James Boswell se The life of Samuel Johnson. Boswell het nie net na Johnson geluister nie, maar ook onafhanklik navorsing gedoen en argiefmateriaal en ooggetuieverslae gebruik om alle aspekte van Johnson se lewe so eerlik moontlik te bekyk.

Dié boek was die begin van ’n nuwe genre wat oor die laaste paar honderd jaar verskeie vertakkings gehad het.

Deesdae word kunstenaars deur biograwe geëvalueer en elkeen skilder dan sy eie prentjie van die persoon – dink maar aan Albert Goldman se Elvis, wat hemelsbreed van Peter Guralnick se Elvis verskil. Kortom: Daar bestaan nie iets soos ’n neutrale biografie nie.

Sy humor word vermeng met stories wat jou insuig.

’n Uitgewer moet ’n paar goed in gedagte hou wanneer hy iemand nader om ’n biografie te skryf. Gaan hulle dit doen soos Theunis Engelbrecht in Jack Parow: Die ou met die snor by die bar (2015), waar die onderwerp in die eerste persoon praat? Dalk soos die medeskrywer Carel F. Cronjé, wat in Karin Eloff se ontkleedans-biografie, Stiletto: My lewe in die seksbedryf (2009), deel word van die storie? Of Willem Pretorius, wat vir sy biografie Kerkorrel (2004) grootliks op navorsing staatgemaak het? Of Koos Kombuis, wat dit met Seks & drugs & boeremusiek: Die memoires van ’n volksverraaier (2002) sommer self gedoen het?

Die kombinasie van Anton en Hanlie klink dalk op die oor af soos ’n Afrikaanse sangpaar uit die 1970’s, maar wie ook al dié pryswennermusikant en bekroonde joernalis saamgebring het, verdien ’n Kersbonus of ten minste, as ’n mens die huidige omstandighede in die joernalistiek in ag neem, om hul werk te behou.

Hanlie verdien ook ’n prys vir uithouvermoë, soos enigeen wat al ’n groot projek saam met Anton aangepak het jou sal kan vertel. En die uitgewer se prokureurs verdien ’n spesiale Valium-voorskrif vir wat hulle alles voor publikasie moes deurmaak, want Anton draai nie doekies om nie.

Hy sê op bl. 294: “Soos ’n mens ouer word, word jy ook eerliker. Mense hou nie altyd daarvan nie.”

Koos Kombuis en Anton in 2019 ná jare se stilte.

Net soos in sy lewe en loopbaan is Goosen in sy biografie prakties en takties in sy gevegsbenadering.

Hy het gewag dat almal hul sê sê en wys hulle nou op hul foute. Revenge is a dish best served cold.

Goosen het ’n reputasie as ’n veglustige persoon – dis te verstane as jy die eerste dissident in die Afrikaanse musiekbedryf was. Sy twiste met die establishment het die weg gebaan vir soveel andersdenkendes wat ná hom gevolg het.

Goosen was ook die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat geveg het om die regte vir sy musiek te behou – ’n paadjie wat mooi verduidelik word in die boek.

Verder het hy ’n unieke manier van praat: Hy kan dieselfde woorde gebruik om jou te prys én jou op jou plek te sit. Sy humor – droog en soms half terloops – word vermeng met aardverskuiwende stories wat jou insuig soos hy van onderwerp tot onderwerp spring. Is dit hy of is dit Hanlie?

Dis moeilik om te besluit en maak ook nie regtig saak nie, solank ’n mens onthou Goosen het nog altyd daarvan gehou om met woorde te speel. As liriekskrywer is hy bekend vir sy dubbele betekenisse en statements tussen die reëls.

Goosen se passie vir musiek kom sterk na vore. Daar is lirieke oral – nie net sy eie nie, maar ook vele ander kunstenaars s’n – wat hy gebruik om homself beter te verduidelik, soms om ’n punt te maak of die storie aan te help.

Hy praat sonder skroom oor sy depressie en selfmoordpoging, vertel stories uit die slaapkamer en oor ander popsterre – genoeg om meer as een uitgawe van Huisgenoot vol te maak. Alles lees so lekker en is soveel pret . . . totdat jy by die hoofstuk oor Voëlvry kom waarin hy die oudonderwyser in hom sterk na vore laat tree (en die stout skoolseun in my).

Goosen het niks met Voëlvry te doen gehad nie, so dis vreemd om ’n hoofstuk daaroor in die middel van sy biografie aan te tref. Dié hoofstuk word dan ook gebruik om te verduidelik waarom hy meer vir Afrikaans gedoen het as die Voëlvry-beweging en hoe onbeduidend Voëlvry was: Hulle het hom eintlik maar net nageaap, sonder enige erkenning.

Dié wrewel teenoor Voëlvry kom al jare aan – dis ’n teorie wat Goosen al met vele joernaliste en om talle braaivleisvure gedeel het. Hy het sonder twyfel die eerste rock in Afrikaans gemaak – die rock van Bob Dylan en Neil Young. Voëlvry se rock het meer in die rigting van punk en post-punk geneig en aanhangers van dié soort het Dylan en Young verwerp as oudmodies en deel van die establishment – dieselfde rede waarom Voëlvry vir Goosen verwerp het.

Hoekom dit laasgenoemde soveel pla sal net hy weet, want niemand hoef tussen Musiek-en-liriek en Voëlvry te kies nie. Goosen beweer op bl. 74 die Musiek-en-liriek-beweging was “vier, vyf keer groter” as Voëlvry, maar hy kwalifiseer nie regtig sy stelling nie. Die feit is dat Musiek-en-liriek ’n groot platform by die SAUK gekry het, terwyl die uitsaaier geen lugtyd aan Voëlvry afgestaan het nie.

Nadat Voëlvry op sy plek gesit is, word Johannes Kerkorrel in twee hoofstukke getakel waardeur Goosen ligweg sy eie loopbaan vleg (om dit te regverdig), maar dis duidelik met kwade gevoelens geskryf.

Hy vertel in emosionele detail hoe oneerbiedig Koos Kombuis in Seks & drugs & boeremusiek oor die dood van ’n vriend se kind geskryf het en hoe hy toe ’n prokureursbrief aan Kombuis gestuur het wat gelei het tot ’n apologie en skikkingsooreenkoms. Maar dan doen hy presies dieselfde deur ná die selfmoord van ’n minnaar van Kerkorrel na die man te verwys as “een van Kerkorrel se floozies”.

Maar dit is natuurlik Goosen se storie en hoe hý sake sien – dit is sy reg om die storie te vertel soos hy wil en dis ons keuse of ons dit wil lees of nie.

Tog is daar foutjies waarop ’n mens moet wys: Die naam van die koffiewinkel in Hillbrow waar hy uitgehang het, was Café de Paris; Shane MacGowan het lank­al nie meer vrot tande nie; en daar is geen historiese bewyse dat Abraham Lincoln “You can’t fool all the people all of the time” gesê het nie. Dis kleinighede, ja, maar wys tog die geheue is nie altyd te vertrou nie. Maar hoekom verwys Goosen na Abdullah Ibrahim as Dollar Brand as dié reeds in 1968 amptelik sy naam verander het? Dit is soos om Muhammad Ali Cassius Clay te noem . . .

Moedswillig of ’n oorsig?

En dan is daar die manier waarop Goosen na vroue verwys: “chicks” (bl. 141 en 229); vroue wat ná ete skottelgoed moes was voordat hulle kon huis toe gaan; en die “pragtige wulpse BBC-vrou van Londen” wat huis toe is “met redelik baie vingerafdrukke op haar bloes” (bl. 203). Vir my klink dit ’n bietjie boykierig – net nog ’n bewys dat daar nie veel verskil tussen rugbyspelers en musikante is as dit by die reuk van vroue kom nie. Drie veldslae maak egter nie ’n oorlog nie en ondanks dié ongemaklikhede sal ek die boek weer lees en vir enigiemand aanbeveel.

Ons leer dat Goosen ’n romantic is en ’n 100%-mens – jy is óf aan sy kant óf teen hom. Ons leer hy is selfsugtig, maar hy sien dit eerder as “artistieke temperament”. Tog is daar ’n dapper eerlikheid hier wat jy nie sommer in enige biografie sal raakloop nie. Hy is bereid om die breë publiek op sy eie foute te wys. Sy aanslag is reguit en rou – iets wat ’n mens selde by sterre kry – en verklaar waarom soveel goed in die boek mense kan affronteer. As jy eerlik is oor jouself sal jy ook eerlik wees oor jou gevoelens oor ander mense.

Verder is Goosen slim en amusant – altyd ’n goeie kombinasie in ’n skrywer – en die biografie handhaaf ’n goeie balans tussen sy lewensfilosofieë en staaltjies.

Soos in sy songs sê hy vreesloos wat hy wil sê sonder om sy boodskap in jou keel af te druk. As jy slim genoeg is, sal jy dit vang.

Sy wyshede verwoord dinge wat jy nooit geweet het jy voel nie – goed wat jy nie kan kwantifiseer nie, maar as hý dit eers sê, weet jy dit is hoe jy al lank voel.

Dit is tog hoekom ons kunstenaars het: Hulle laat ons weet hoe ons dink en voel oor goed wat ons nie eens geweet het ons oor moet dink of voel nie.

As jy al ooit oor Anton Goosen se liedjieskryfvermoëns getwyfel het of nie hou van sy styl nie, sal hierdie biografie jou nie noodwendig oortuig om van standpunt te verander nie. Dit sal jou wel oortuig van watter goeie skrywer en storieverteller hy is. Kortom: Selfs al is jy nie ’n bewonderaar van sy musiek nie, is daar ’n goeie kans dat jy van dié boek sal hou.

Ek sien uit na volume 2, waarin Goosen waarskynlik al die stories sal vertel waarvan hy in dié een vergeet het, veral die stories wat hom nou skaam maak.

  • Deon Maas is ’n skrywer en joernalis van Berlyn. Sy boek Witboy in Berlyn het vroeg verlede jaar verskyn.
Meer oor:  Anton Goosen  |  Hanlie Retief  |  Resensie  |  Biografie  |  Liedjieboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.