Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Anzil Kulsen se verbeelding kry lewe in haar boeke

Sy was nog altyd ’n dromer en het van kleins af geweet sy móét skryf.

Reeds in haar kinderjare het die skrywer Anzil Kulsen, boorling van Keimoes aan die Oranjerivier, se verbeelding vlerke gehad en het sy die lewe deur “’n kleurvolle bril” aanskou.

“Ek het hierdie vreemde stories vertel terwyl my verbeelding met my weggehol het - en ek is nou nog só. Ek sal met jou ’n gesprek voer en dan raak ek net weg,” sê Kulsen met haar groot glimlag en glinsterende bruin oë.

“Ek is ook nie iemand wat goed kan skinder nie, want jy sal nooit weet is dit die waarheid of is dit my verbeelding nie,” skater sy oor haar vermoë om in die kringlope van stories te verdwaal.

Die skrywer Anzil Kulsen van Upington. Foto: Anena Burger

En dit is hierdie vermoë om haar verbeelding op loop te laat gaan wat haar in staat stel om stories in mense te sien.

“My kinders sê: ‘Mammie gaan in ’n zooooone.’ En dit is ook normaalweg die tye wanneer hulle vir my goed vra wat hulle weet hulle nie kan kry nie, want dan sê ek vir als ja,” sê sy terwyl sy ’n slukkie van haar cappuccino drink.

Kulsen, wat bekend is vir haar kinder- en jeugboeke, het in Julie haar volwasseneroman, Reënboogmelodie, die lig laat sien.

Anzil Kulsen Foto: Anena Burge

Sy het daarmee saam ook nog ’n jeugboek, wat deel van die Bitterbosbende-reeks uitmaak, met die hulp van haar seun, Keenan, uitgegee.

Reënboogmelodie is die tweede volwasseneroman wat Kulsen geskryf het en takel sy in dié storie, soos in haar eerste boek, Skarlakenkinders, sensitiewe taboes wat die samelewing op enige goeie dag ongemaklik in sy skoene laat.

Waar Skarlakenkinders oor mensehandel gegaan het, pak Kulsen die komplekse onderwerp van eetversteurings, verslawing en huweliksverhoudinge in Reënboogmelodie.

Maar om stories oor sensitiewe en tasbare kwessies te skryf kan uitmergelend wees, veral as jy soos Anzil die storie en sy karakters so intens beleef - en daarom is dit belangrik om ’n klankbord te hê.

Vir Anzil is daardie klankbord haar man, Hein, wat geduldig op hul namiddag wandelinge geluister het hoe een van die hoofkarakters in die boek, Robert, stadigaan begin gestalte aanneem soos Anzil se navorsing oor sy karakter gevorder het.

“Ek het die hééltyd oor hom gepraat. So my arme man is my klankbord, of my sielkundige. Verbeel jou nou jy’s nou met my getroud en jy moet nou die heeltyd hoor van ’n ander ou se sekslewe,” lag sy.

Maar hoe pak sy die navorsing oor die karakters in haar stories aan?

Sy is die stil een in ’n geselskap wat luister en die inligting in haar onderbewussyn stoor sê sy.

Dit is uit sulke gesprekke, onderhoude met mense oor hul eie ervaringe en dan haar verbeelding waaruit haar karakters uiteindelik ontwikkel.

“Vir die tipe goed wat ek skryf is dit moeilik om mense se toestemming te vra. ’n Mens kan nie ’n persoon 100% in ’n karakter weergee nie en daarom neem ek ’n stukkie van jou en ’n stukkie van iemand anders en so vorm die karakter. My man sê ek luister professioneel af. Ek sal hier sit, maar na die gesprekke in die agtergrond luister wat ek dan stoor.”

En so intens beleef sy haar karakters in haar stories dat haar gesin haar al beskuldig het dat sy van hulle praat asof hulle familie is.

Sy raak emosioneel by die lewe van haar karakters in haar boeke betrokke, soveel so dat wanneer sy klaar geskryf het sy soms fisiek siek raak.

“Ek het dit vir myself baie bewustelik gestel ná hierdie boek wil ek oukei wees. So ek het letterlik kort breuke tussenin gevat en baie hard probeer om nie só betrokke te raak nie.”

In Reënboogmelodie moes sy ook trompop die emosies van albei die karakters beleef.

“Ek was Diané (die ander hoofkarakter in die boek) terwyl ek dit geskryf het, maar ek het ook empatie met Robert gehad. Dit was ook belangrik dat die lesers hierdie komplekse emosies verstaan en waar die karakters se optrede teenoor mekaar vandaan kom.”

Met die boek Skarlakenkinders het sy in die hospitaal beland.

Dit is ook daarom dat sy minder boeke oor sensitiewe kwessies skryf.

“Emosionele energie gewys moet ek myself spaar en moet ek teen ’n hanteerbare tempo werk.”

Kulsen bied ook skryfwerkswinkels aan en sê sy voel hierdie werkswinkels is ’n belangrike uitlaatklep en ’n stuk gereedskap vir mense wat met seer saamleef en nie noodwendig ’n sielkundige kan bekostig nie.

“Seer is ’n pes, verwerping en vernedering is ’n pes. Jy sal my nie glo nie, maar in elkeen van my werkswinkels is daar altyd ten minste een persoon wat een van dié kwessies saam met hulle dra. Skryf is so ’n kragtige terapie.”

Die aanbieding van skryfwerkswinkels by die tronk in Upington het haar ook in kontak gebring met vroue wat uit moeilike agtergronde en situasies kom.

“Ons is so geneig om bevooroordeeld te wees en mense op hul baadjies te takseer sonder dat ’n mens werklik die situasies verstaan waaruit mense kom. Maar in hierdie tronk het ek geleer om my vooroordeel vir myself te hou, want jy weet nié wat daai persoon deurgemaak het om te wees waar hy is nie. En jy weet ook nié, as jy dieselfde moes deurmaak, of jy sou wees wat jy vandag is nie.”

Hoewel Anzil nog graag ’n mooi liefdesverhaal wil skryf, duik die ernstige kwessies en taboes altyd op wat aangepak moet word sê sy.

Om ’n volwasseneroman en ’n jeugboek saam uit te gee was ook nie maklik nie.

“Dit was werk, want die sperdatums vir die twee boeke was teen mekaar. Jy moet ook die ingesteldheid van jou brein tussen ’n volwasseneroman met heftige kwessies en ’n kinderboek die heeltyd afwissel. En ek is ’n melankoliese mens. Toe ek Reënboogmelodie klaar geskryf het wou ek eintlik net eers in ’n hoekie gaan sit het en myself bejammer en dalk ’n glas wyn gedrink het,” skerts sy.

Dit is hoekom Keenan, wat al van kleintyd af storietjies op sy ma se rekenaar skryf, aangebied het om te help.

Hy het ook met lekker vars idees vir die storie vorendag gekom, want om kinderboeke te skryf is nie so maklik as wat dit lyk nie.

“Jy kan nie net vir kinders ’n storie opdis nie. Hulle wêreld vandag bestaan uit inligting en hulle gaan kyk of jy jou feite agtermekaar het.”

Al is hy trots op die Bitterbosbende-boek wat hy saam met Anzil aangepak het, weet Keenan nog nie of hy ook eendag soos sy talentvolle ma die pen sal opneem nie.

Daar is egter nog baie ink wat deur Anzil Kulsen se are vloei en deur haar kleurvolle bril waarmee sy die lewe aanskou, sal daar nog baie stories vir haar lesers opgetower word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.