Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Argitek van ’n verenigde SA

Pres. M.T. Steyn was vir die Oranje-Vrystaat wat die pous is vir die Katolieke Kerk, maar in dié hoogs leesbare keur van briewe wat hy tussen 1904 en 1910 geskryf het, kom sy wonderlike humorsin gelukkig ook na vore, skryf Bill Nasson.

Pres. M.T. Steyn

Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn, 1904-1910 / Selections from the Letters of President M.T. Steyn, 1904-1910, geredigeer deur Con de Wet en Elizabeth van Heyningen, met vertalings deur Chris van der Merwe. Uitgewer: Van Riebeeck-vereniging (VRV). Prys: R450.

Vandag laat die term “Free State” ’n mens dalk dink aan die onafhanklike land Ierland in die 1920’s en ’30’s, of aan V.S. Naipaul se roman In a Free State (1971) wat dieselfde jaar met die Bookerprys bekroon is, of, meer waarskynlik, aan Suid-Afrika se platste provinsie waar die twyfelagtige Ace Magashule die afgelope dekade die leisels vasgehou het.

En soos dié jongste tweetalige publikasie van die Van Riebeeck-vereniging (VRV) ’n mens herinner, is “Vrystaat” ook eens op ’n tyd voorafgegaan deur die woord “Oranje” . . . In die geskiedenis van Boere-republikanisme is pres. Marthinus Theunis Steyn vir die Oranje-Vrystaat seer sekerlik wat die pous vir Katolisisme is.

Dié boeiende keur uit Steyn se briewe kom toevallig uit die tydperk kort ná die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog tot en met die geboorte van die Unie van Suid-Afrika in 1910.

Dit is die jare waarin die vryswemmende republikeinse vissies van die suidelike Hoëveld moes leer om aan te pas as onderdane van die Britse kroon binne die beklemmende imperiale net van die Oranjerivierkolonie.

Die eindelose onderhandelings, struikelblokke en kompromieë van die politieke lewe ná 1902 kom duidelik na vore in sy briefwisseling

Steyn, wat toe reeds die skrif aan die muur gesien het, maar nie meer ’n administratiewe of politieke pos beklee het nie, het ’n gerespekteerde afgetrede staatsman geword en hom besig gehou met die grootste kwessie van die tyd: uniewording en die skepping van die eerste “Nuwe Suid-Afrika”.

Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn is ’n onthullende verslag van die vasberade manier waarop Steyn sy visie van wit nasiebou en die bewaring van Afrikaneridentiteit nagejaag het. Of, soos hy dit in Oktober 1906 in ’n gesellige toon aan Jaap de Villiers stel: “kry ons net di vuurkie aan di brand. Di vuurkie moet warm bly, anders word onze mense koud”.

Bo en behalwe die sterk sentimente en beheerste politieke passie wat in dié briewe na vore kom, leer ken die leser ook ’n man wie se oë niks misgekyk het nie. Naby die einde van 1904 skryf hy uit Frankryk aan sy skoonpa in die Grand Hotel de Paris “betalen wy 50 Pond voor twee kamers per dag zonder iets by. By Hotel Balzac moeten wy voor drie kamers met eten 46 Pond per dag betalen; nog een tamelyk verschil”.

Dit maak nie saak hoe diep Steyn getob het oor die prys van ’n gedeelde Anglo-Afrikaner-patriotisme nie, hy het nooit aste nimmer die waarde van verblyf in Europa of die verlies van ’n koei op Onzerust, sy plaas buite Bloemfontein, uit die oog verloor nie. Dit is dié aangename mengsel van politieke hoogdrama, die alledaagse en die banale – soos sy liefde vir die warmbronne op Brandfort – wat die wese van Steyn se karakter onthul en dié keur van korrespondensie so roerend maak.

Die eindelose onderhandelings, struikelblokke en kompromieë van die politieke lewe ná 1902 kom duidelik na vore in sy briefwisseling met korrespondente soos Louis Botha, Jan Smuts en John X. Merriman. Soos te wagte het hy baie op die hart oor wat (en hoe) alles gedoen moes word in die aanloop tot uniewording.

Gevolglik loop ’n mens hier die verbeelde verlede en die verwagte toekoms van ’n Afrikanervolk raak, die ontstaan van selfregering in die Oranjerivier- en Transvaal-kolonie, die kwessie van stemreg, die gebruiklike irritasies van Natal en, na die einde se kant toe, Steyn se dienswilligheid as ondervoorsitter van die Nasionale Konvensie wat tussen 1908 en 1909 die voorwaardes en bepalings van die Suid-Afrikaanse unifikasie moes bepaal.

Hoewel Steyn in 1905 teenoor Merriman verklaar het “for a Free Stater to vote away the existence of his own country . . .
is like murdering your own mother” het hy tog geglo ’n sterk unie – en nie ’n losser konfederasie nie – is die enigste oplossing vir Suid-Afrika se probleme.

Dié briewe wys oor en oor dat Steyn ’n sterk en konsekwente kampvegter was om Suid-Afrikaanse patriotisme te verenig deur middel van ’n regverdige ooreenkoms tussen die Afrikaners en Engelse.

Omdat hul tweedrag in die vroeë 1900’s beskou is as ’n “rasseverhoudingskwessie”, is dit al wat saak gemaak het vir die politieke konkelaars wat konsensus wou bereik. Soos Steyn dit beklemtoon in sy korrespondensie met Jaap de Villiers in Julie 1908, was dit ’n saak van konstitusionele noodsaaklikheid om “di absolute gelykheid van di twee rassen” te verseker.

Dié versameling briewe verduidelik nie net hoe volkome Steyn die “heart and soul for this closer union” was nie, maar die leser kry ook ’n blik op sy gedagtegang oor verskeie ander kwessies en sy skerp oog vir karakter, plek en die klein plesiertjies van die lewe, soos verjaardae en jag.

Dink maar aan sy diepe besorgdheid oor die gebrekkige opvoeding van vroue: In Januarie 1906 kla hy in ’n brief aan ’n Nederlandse vriend “wy hebben geheel geen meisjes school in den Vrystaat” en meer welgestelde “ouders . . . moeten hunne kinders naar de K. Kolonie of naar de Eng. of Roomsche scholen sturen”.

Trouens, vir ’n kitsvoorskou van die magdom vermaaklike onderwerpe wat in dié boek wag (van die Cullinan-diamant tot Lapland!), moet die leser eintlik begin met die wydlopende register agterin Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn.

Dis ’n jammerte dat humor nie een van dié inskrywings is nie, want Steyn het voorwaar ’n wonderlike droë humorsin gehad.

Nog ’n brieweboek
Elsabe Steenberg, die bekroonde Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer (en suster van André P. Brink), is in 1996 ná ’n uitmergelende stryd aan meervoudige sklerose dood.
Meer as 20 jaar later herontdek Sarel Venter, die samesteller van Waar rats die ribbok gaan: Briewe van Elsabe Steenberg, ’n boks met altesame 125 briewe wat Steenberg tussen 1962 en ’n maand voor haar dood aan haar vriendin Elizabeth Venter, die samesteller se vrou, geskryf het. Hierin vertel sy die storie van die Steenberg-gesin oor meer as 30 jaar, haar werk en haar siekte. Steenberg sou vanjaar haar 80ste verjaardag gevier het.
Die boek word uitgegee deur Naledi en kos R220 by goeie boekwinkels.

Oor die oorlog tussen Japan en Rusland in 1904-1905 skryf hy aan ’n Nederlandse korrespondent: “het lyk my echter of er voor de Japanners niets lekkerder in de wereld is dan om te sterven; doodgaan is zyn kost”. En oor die bohaai wat losgebars het nadat Chinese arbeiders vir die goudmyne ingevoer is, laat val Steyn: “Ik ben tegen de Chinesen omdat zy rijst en nie mealies eten.”

Die VRV vier vanjaar sy eeufees, en dié jongste, uiters noukeurig nagevorste titel in sy publikasiereeks spog nie net met ’n gesaghebbende redaksionele gids oor Steyn se lewe nie, maar ook uitgebreide, besonder verhelderende aantekeninge. Chris van der Merwe se onberispelike vertaling gee die leser boonop ’n wonderlike idee van Steyn se Afrikaans-Hollands-Engels-“drietaligheid”.

Die samestellers van Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn moet gelukgewens word met ’n hoogs leesbare boek, maar ek is nie seker of tipiese lesers van dié briewe neerbuigende waarskuwings nodig het dat Marthinus Steyn se idees en rasse-opvattings onaanvaarbaar is in die Suid-Afrika van 2018 nie. Of moet selfs die geskiedenis, soos met soveel ander dinge, deesdae ’n gesondheidswaarskuwing hê?

Buitendien, watter lewende Suid-Afrikaner sal nie plesier hê aan pres. Steyn se profetiese opmerking aan Merriman in Januarie 1906 nie: “If you look at our S. African, public, municipal & private, you will find that we are nearly if not absolutely bankrupt”.

Of soos sekere Marxiste dit sal stel: As die geskiedenis nie hom as tragedie herhaal nie, herhaal hy hom as ’n klug.

Besoek www.vanriebeecksociety.co.za of stuur ’n e-pos na vanriebk@mweb.co.za om die boek te bestel.

  • Prof. Bill Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.