Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
As jy niks het om te sê nie . . .

Kerneels Breytenbach onthou die ding tussen hom en Karel Schoeman.

Die baard was nou yler, die hare had min wip, en sy klere was sober en konserwatief.

Dit voel soos verraad om dinge oor Karel Schoeman te verklap. Hy was só ’n private mens dat dit verkeerd voel om so uit te wei. Dis amper skinder, en dit stel ’n mens nie in ’n goeie lig nie.

My eerste kennismaking met Karel Schoeman was in die vroeë 1970’s. Prof. W.E.G. Louw het in een van sy Nederlandse colloquia laat val dat Schoeman op besoek uit die buiteland was en by hom en Rosa op Sondraai tuisgegaan het. Stories het begin loop oor Schoeman wat in die Wilcocks-gebou besoek aan Louw se kantoor afgelê het.

En toe, op pad na ’n koffieklas by Enrico’s, loop ek Schoeman raak waar hy na die klere in die venster van Johann Brink se winkel staar. Geklee in jeans, ’n geruite hemp (dit was die hoogty van die Bay City Rollers) en leer-plakkies.

Daar was iets asketies dog uiters sensueel aan sy voorkoms. ’n Lang, maer man met ’n baard en hare wat met ’n wip agtertoe gekam is. Jean Welz se tekening van hom vang dit goed vas.

Die volgende keer wat ek hom te siene gekry het, en met hom gepraat het, was in die 1980’s toe Human & Rousseau Die wêreld van die digter (oor Van Wyk Louw) gepubliseer het. Ek het by die Suid-Afrikaanse Biblioteek met hom ’n onderhoud gaan voer vir Die Burger.

Die baard was nou yler, die hare had min wip, en sy klere was sober en konserwatief. Hy was by dié geleentheid hoflik en had onberispelike maniere. Hoewel hy sommige van my dommer vrae met sigbare geduld beantwoord het, het hy met pragtig geformuleerde antwoorde die essensie van sy boek gepromoveer.

’n Klompie jaar later moes ek op versoek van die literêre agentskap Blake Friedmann ’n vertaling maak van ’n onderhoud wat hy in die laat 1980’s aan ­André le Roux vir Die Burger toegestaan het. Dit was van die moeilikste vertaalwerk wat ek ooit moes doen – Schoeman was ’n meester van die meerdelige sin. Geen wonder nie dat resensente van die Duitse vertaling van Afskeid en vertrek hom in gloeiende taal vergelyk het met Thomas Mann.

In sy 50’s het Schoeman hom al hoe meer teruggetrek, en toe Koos Human aftree by H&R, het Schoeman ook laat weet dat hy nie meer kans sien vir etes en dinge nie. Só het dit dan gekom dat ons professionele kontak per brief en later e-pos geskied het, en met die hoogste uitsondering ’n telefoonoproep.

Ek het hom nog dikwels in Checkers in Kloofstraat raakgeloop, waar ’n kopknik die kommunikasievorm was. Die laaste keer dat ek hom in Kloofstraat sien stap het, het sy fisieke gestalte weggeraak in ’n jas met ’n soort kappie, waar sy baie maer gesig net-net sigbaar was.

Op persoonlike vlak het hy my verskeie male gehelp – ek was altyd verstom oor die diepte van inligting wat hy gelewer het. Ek weet van baie ander mense wat hy op hierdie manier gehelp het – groot opoffering van sy tyd, waarvoor geen vorm van danksegging voldoende was nie, en wat hy ook sekerlik nie verwag het nie. Daar was ’n deeglike skeiding tussen die persoonlike en professionele verhouding.

Intussen het hy ’n veel minder formele verhouding ontwikkel met die mense wat met sy tekste gewerk het, soos Linette Viljoen en Alida Potgieter. Ek het hulle daardie toegang tot Schoeman beny, veral omdat hy hom daarin laat geld het as mens met ’n wonderlike humorsin.

In die middel en laat 1990’s het hy ’n manier gevind om my te terg/treiter. Schoeman is in daardie jare dikwels bekroon. Elke keer het hy my gevra om die prys namens hom te gaan ontvang en ietsie voor te lees wat hy vir die geleentheid geskryf het. Hy wou nie die sertifikate hê nie, ek moes net die tjek aan hom besorg.

Die laaste keer wat ek Karel Schoeman gesien het, was op ’n vlug van Amsterdam na Johannesburg.

Die noodlot het bepaal dat ons langs mekaar sit. Ons het mekaar met dieselfde kopknik gegroet wat ons in Checkers vervolmaak het, en toe vir die res van die vlug nie met mekaar gepraat nie.

  • Kerneels Breytenbach is ’n skrywer, voormalige hoofbestuurder van Human & Rousseau en publikasiebestuurder van NB-Uitgewers.
Meer oor:  Kerneels Breytenbach  |  Karel Schoeman  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.