Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
As ’n koerant gekaap word

In sy omvattende ‘So, for the Record’-boek oor die rol van die nuusmedia in die staatskapingsage kry Anton Harber iets reg wat in mediageledere ongewoon én ongewild is: om die ondersoekende hand in eie boesem te steek,  skryf Gawie Botma.

Harber. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R280.

Wie in die Suid-Afrikaanse media staan pa vir “staatskaping”?

Anders as met regte familienavorsing, waar jy nie kan kies wie jou voorouers is nie, is daar heelwat geleentheid in die “genealogie” van die veld van joernalistiek om die helde toe te eien en die skurke te ontken. Al probeer Anton Harber hard om dit te vermy, slaag hy nie altyd daarin nie. Dit is egter te verwagte van ’n skrywer wat ook ’n gesiene joernalis en joernalistiekdosent is – hy praat uit die binnekring en demonstreer “lojale verset”.

Só word So, For the Record deels ’n voorbeeld van wat joernalistiek-navorsers ’n “paradigma-herstelpoging” noem, met ander woorde eerder as om al die grondbeginsels te bevraagteken, word die geloof in die beroep ten slotte bevestig en geledere gesluit nadat skuldiges uitgewys en geroskam is.

Die dilemma vir Harber is dat (sommige) joernaliste in die “staatskaper”-kamp van oudpres. Jacob Zuma en sy Gupta-trawante beland het, terwyl (sommige) joernaliste sentraal was in die oopvlek van die beweerde komplot. Hoe kan die “waghonde van die demokrasie” so verdeel word?

Joernaliste moet hul beroep anders benader.

In hierdie omvattende en by uitstek leesbare boek oor die rol van die nuusmedia in die staatskapingsage kry hy iets reg wat in mediageledere ongewoon en ongewild is: om die ondersoekende hand in eie boesem te steek. Deur verskeie oorspronklike en gepubliseerde bronne te ontgin doen Harber sy eie forensiese ondersoek na die stand van die nuusmedia. Hy deel klappe en pluimpies uit en gee ook raad oor hoe om “goeie” joernalistiek te bedryf. Die boek demonstreer hoe om “stadige” joernalistiek te pleeg deur deeglik, eties en met groter selfbesinning met inligting en die betrokkenes om te gaan.

Die eens gevierde Sunday Times is vir Harber ’n gevallestudie van joernalistiek wat skeefloop, en daarom word die gebeure wat sedert 2011 tot omstredenheid daar gelei het, haarfyn oopgekloof. Dit sluit in die foutiewe beriggewing oor die beweerde bestaan van ’n polisiemoordbende in Cato Manor en ’n korrupte ondersoekeenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat glo onder meer ’n bordeel bedryf het.

Deur verdraaide “forensiese verslae” in aanloklike “geheime dossiere” te plant en aan goedgelowige joernaliste te laat “uitlek” kon opponente van die “Zuptas” doelbewus gediskrediteer word. Die eerste beginsel van joernalistiek – dat inligting by verskillende bronne bevestig moet word – is geïgnoreer in die gejaag na die volgende voorblad-onthulling.

Vir sommige lesers sal van die betrokkenes en voorvalle bekend wees uit nuusdekking en ’n rits boeke deur ander ondersoekende joernaliste – staatskaping het ’n ware tuisnywerheid geword – maar soos die boektitel beloof, vertel Harber die fassinerende stories agter die opskrifte en die joernaliste wat daarvoor gesorg het.

Hy vermy egter die slaggat waarin party ondersoekende joernaliste trap, naamlik om in die dokumentering van detail vas te val. Hy het ’n sin vir die dramatiese en sommige tonele lees soos ’n spanningsverhaal. Die rol van veral staatsveiligheidsagente in die manipulasie van joernaliste is ysingwekkend, en jy staan verwonderd oor die intriges rondom die sogenaamde #GuptaLeaks, toe ’n hardeskyf vol inkriminerende e-posse via fluitjieblasers in die hande van die nuusmedia beland het.

Hier staan die Sunday Times nogmaals aangekla van slordige joernalistiek, wat ontstellend genoeg beteken daar is min geleer uit vorige foute.

Veral in die tweede helfte van die boek met die titel “Slow Journalism” vlam die hoop weer op in die vorm van instansies soos amaBhungane en Daily Maverick, met die invloedryke News24 wat op ’n kritieke oomblik deel van die alliansie rondom #GutpaLeaks geword het. As die Sunday Times die joernalistiek in skande gedompel het, word daar in die boek sterk op die samewerking tussen hierdie drietal gesteun om aansien te red.

Sonder om voornemende lesers se plesier te bederf kan ’n mens noem dat die “goeie” joernaliste in die #GuptaLeaks-sage klaarblyklik hul eie belang en rol as “hekwagters” oorskat het, en ondanks hul beste voornemens tog op die ou end deur oorhaastige rolspelers gedwing is om “vinniger” joernalistiek te pleeg as wat hulle beplan het.

Of hierdie insident die wesenlikheid en doeltreffendheid van die tradisionele hekwagterrol in die digitale era in twyfel trek, is ’n ope vraag.

Daar was volgens die boek ’n noodlottige gebrek aan kultuur en bestuur wat tot die nou berugte “Sunday Times treatment” van stories gelei het, met ander woorde wanneer die koerant sy eie vereenvoudigde en sensasionele standpunt (“narratief”) kies en daarmee volhou ondanks teenkanting van binne en buite die joernalistieke veld. Vir die kritiese leser kan dit egter lyk of wat hier as uitsonderlik van die Sunday Times beskryf word, in werklikheid ook die modus operandi van ander lede van die kommersiële hoofstroom-nuusmedia is.

Ironies genoeg is die Cato Manor-beriggewing van die Sunday Times ook daarna met ten minste twee plaaslike joernalistiekpryse bekroon terwyl Harber een van die beoordelaars was. Met die luukse van terugskouing kan Harber nou in besonderhede aantoon waarom die “onthullings” gebrekkig was, en waarom die toekenning later teruggetrek is.

Maar waarom het die beoordelaars nie destyds meer krities gekyk nie? sou ’n moedswillige leser kon vra. Harber skryf op bl. 9: “I can only say that there was little to suggest at the time that the story was anything but a solid piece of public-interest reporting. Like most people in and outside of journalism, our panel of judges trusted the Sunday Times and its investigations unit.”

Wil hy daarmee suggereer dat die betroubaarheid van die boodskapper die verskil maak tussen “goeie” en “slegte” joernalistiek? Kan die gehalte van die boodskap en hoe dit vertel word dan nie op sigwaarde beoordeel word nie?

Harber toon aan hoe die foute van die media aansienlike skade aangerig het aan die loopbane, lewens en sleutel-instansies waaraan sommige staatsamptenare verbonde was. Van die joernaliste wat daarvoor verantwoordelik was, het berou getoon, maar ander bly onapologeties.

Harber beklemtoon die kommersiële model is dalk nie die beste om ondersoekende joernalistiek te ondersteun nie en dat ander finansieringsmodelle moontlik nodig is vir dié “luukse” spesialisgebied. Maar hierdie argument skep probleme, want “vinnige” kommersiële korporatiewe joernalistiek maak ’n groot deel uit van die veld wat hy genadeloos kritiseer.

Harber stel dit duidelik op bl. 304: “The Sunday Times wasn’t the worst culprits in enabling state capture. That position is hotly contested between . . . the Gupta’s own ragtag media group, New Age Media, Iqbal Survé’s rogue Sekunjalo Independent group, and the . . . SABC . . .”

Dit is fel kritiek wat ’n aansienlike deel van die media aankla, gelewer deur ’n kenner wat nie daarvan beskuldig kan word dat hy normaalweg vyandiggesind is teenoor die beroep nie.

Die beste teenvoeter, volgens Harber, is om ’n nuwe benadering tot joernalistiek te ontwikkel wat kompleksiteit respekteer en besef dat veelvuldige stories oor dieselfde werklikheid vertel kan word. Daarom moet die opsporing en bevestiging van “feite” primêr staan, met ander woorde daar moet teruggekeer word na basiese beginsels.

Maar die vraag is: Hoe haalbaar en volhoubaar is ’n stelsel van “stadige” en “goeie” joernalistiek in die praktyk? Hoe byvoorbeeld sal die sensasiegedrewe kompetisie tussen nuusspanne om “scoops” te kry ooit uit die stelsel verwyder kan word? Harber meen kompetisie is “goed” solank die “feite” geverifieer is en die onvermydelike “skade” in die “openbare belang” is.

Die probleem is dat elkeen van die konsepte waarop die argument berus, ’n subjektiewe oordeel behels. Wil iemand pa staan?

Meer oor:  Anton Harber  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.