Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Avonture op papier

Vier nuwe Afrikaanse avontuurverhale sal jonger lesers dié somervakansie aan die lees hou, skryf Magdel Vorster.

Kies-jou-avontuur 1: Die gevaarlikste speletjie op aarde en Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf deur De Wet Hugo. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R140 en R155. Raaiselsee deur Troula Goosen. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R170.

Met drie nuwe reeksboeke wat onlangs verskyn het, beloof die jeugskrywers De Wet Hugo en Troula Goosen om boekwurms dié somervakansie aan die lees te hou.

In Die gevaarlikste speletjie op aarde, die eerste titel in sy nuwe Kies-jou-avontuur-reeks, voer Hugo lesers van nege tot 12 weg na 250 v.C. waar hulle ’n rits bangmaak-avonture en die sewe wonders van die antieke wêreld beleef.

Die rekenaarspeletjiekampioen Mario beland een stormagtige aand in die kuberruim waar hy opdragte van ene Gigabyte ontvang wat hy móét uitvoer om weer terug te keer aarde toe. Tydens sy soektog na ses goue munte loop hy monsters en ander vreesaanjaende karakters raak, maar sy lot en hoe lank dit hom gaan neem om sy sending te voltooi, hang volkome van die leser af.

Martie Preller het reeds in 1992 die eerste Afrikaanse kies-jou-avontuur-verhaal geskryf, maar Hugo se reeks beloof om net so suksesvol te wees.

Dié soort verhale word nie van voor tot agter gelees nie, maar is soos ’n doolhof. Die keuse wat jy aan die einde van elke hoofstuk maak, bepaal die volgende avontuur. Omdat jy telkens kan afdraai na ander avonture en eindes, word party hoofstukke herlees of uitgelaat voordat jy die regte pad na die slot van die hoofstorie vind. Die spanning word versterk deur Johann Strauss se swart-en-wit illustrasies wat in pas is met internasionale kies-jou-avontuur-verhale.

Die sesde boek in Hugo se gewilde Grilgryper-reeks vir kinders van 12 tot 14, Die geheim van die spookwerf, speel af op ’n spokerige skrootwerf. Vanessa is gewoond aan ’n huis met ’n swembad en tennisbaan, maar dinge het skeefgeloop en hulle trek na ’n gehuggie op ’n skrootwerf en verruil hul luukse motor vir ’n insleepwa. Wanneer onheilspellende mis saans oor die motorwrakke neerdaal en ’n bloedbesmeerde boemelaar by Vanessa se venster inloer, is dit die begin van ’n lekker grillerige avontuur wat op ’n hoë noot eindig.

In die derde boek van haar historiese Raaisel-reeks vir kinders van 14 en ouer voer Troula Goosen lesers weg na Skulpiesbaai, ’n kusdorpie in die omgewing van Stanford en Gansbaai in die 1840’s.

Die hoofkarakter in Raaiselsee is ’n jong grypdief, en die gegewe word ingekleur met ’n ryk kaleidoskoop van karakters – jonk én oud – uit die era. Goosen vermeng feite, fiksie en ’n tikkie fantasie om ’n lekker avontuurverhaal binne ’n historiese konteks te vertel. Taalgebruik en dialoog wat pas by die tydperk en juiste verwysings na gebruikersgoedere en die destydse leefstyl dra by om die leser gemaklik in die skoene van die karakters te plaas.

Wolk deur Hannes Barnard. Uitgewer: Lapa. Prys: R220.

Dis moeilik om te glo Wolk is maar Hannes Barnard se tweede boek ná sy debuut, Halley se komeet, verlede jaar. Hy skryf so gemaklik en lekker dat selfs lesers wat afgeskrik word deur apokaliptiese verhale deur dié storie oorrompel sal word.

Sy twee 17-jarige hoofkarakters ken mekaar al hul hele lewe lank, maar dan kondig Ruth (bekend as Rufus) se pa aan die gesin gaan na Australië emigreer waar die mense vir haar “soos kettingsae klink”. Daar is egter nog een mylpaal wat sy saam met Xandr wil bereik en daarom spring hulle in sy pa se ou krok en vat skelm die langpad na ’n grot by Clarens. Hoewel hulle die dreigende wolk sien naderkom en terloops daaroor wonder, fokus hulle op hulself, onbewus van wat aan die gebeur is en die impak wat dit op hulle kan hê.

Die verhaal sal aanklank vind by meisies en seuns omdat dit om die beurt uit die perspektief van die twee hoofkarakters vertel word. Die baie kort hoofstukke sorg vir ’n vinnige pas en hope spanning, vernaam as hulle eers die kloutjie by die oor begin kry.

Wolk is ’n heerlike avontuur- en grootword- en spanningsverhaal met ’n suggestie van romanse wat sterk aanbeveel word vir lesers van 14 en ouer.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Jeugboeke  |  Kinderboeke  |  Nuut Op Die Rak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.