Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Baie lae’ aan Pat Stamatélos se nuwe roman
Pat Stamatélos Foto: Bongiwe Gumede

Die geheime wat mense met hul saamdra, is een van die temas in Pat Stamatélos se nuwe roman Aankoms en vertrek.

In die boek, wat onlangs deur Umuzi uitgereik is, belig die skrywer ook die gegewe van iemand wat ’n gebied (aanvanklik vir goed) verlaat, later terugkeer en dan nie weet waarom nie.

“Dit was net ’n gedagte hier en ’n gedagte daar,” sê Stamatélos.

“Ek wou nie spesifiek skryf oor moord en doodslag nie. ’n Boek skryf maar homself. Die karakters in hierdie boek het almal geheime. Die hoofkarakter, die broer, die buurvrou, die huishulp en so aan.”

Die hoofkarakter, Bailey Kellerman, het ná ’n mislukte verhouding na Engeland verhuis. Daar is sy met ’n Fransman getroud, maar dit het ook nie gelukkig geëindig nie.

Haar ouers sterf in Johannesburg en haar broer dring daarop aan dat sy huis toe kom.

Haar gewese kêrel is ook glad nie uit die prentjie wanneer sy terugkeer nie.

Haar terugkoms lei tot die een vraag ná die ander.

“Gewoonlik as jy ’n storie skryf, het jy ’n soort einde in gedagte. Ek het nie geweet wat en waar nie. Ek het eers ’n baie ingewikkelde plan gehad, en toe dink ek, nee, Patricia, nou is jy uit jou diepte. Dis vir my moeilik. Jy moet ’n einde hê. Miskien nie 100% nie, maar min of meer.”

Aankoms en vertrek deur Pat Stamatélos.

Stamatélos, wat in 2005 met Kroes haar debuut gemaak het, fokus nie op ’n spesifieke genre in haar skryfwerk nie. Sy skryf bloot ’n boek met die storie wat haar lei.

Sy verwys weer na die geheime in Aankoms en vertrek.

“Dis soos ’n mens is. Jy weet dinge wat ek nie weet nie, en andersom. Dis ’n interessante aspek van mense. Ek het eers nie vir Bailey vol geheime geskryf nie, dit het mettertyd vorm aangeneem.”

Sy reken alle skrywers neem mense waar.

“Daar is baie lae aan die boek,” sê sy oor Aankoms en vertrek.

“Mense moet maar deur dit werk en kyk waarby hulle aanklank vind. Ek weet nie, party mense gaan dalk die moord-aspek onthou, ander dalk die geheime en die manier waarop dit geopenbaar is en wat dit geverg het om tot die punt te kom oor die dinge te praat.”

* Aankoms en vertrek kos R230.

Meer oor:  Penguin  |  Boeke  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.