Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Baie sal aanklank vind by oorrompelende roman

In haar oorrompelende roman ‘Die heelal op my tong’ gebruik Anoeschka von Meck die oeroue patroon van ’n reis om struktuur, rigting en betekenis te gee aan dié storie waarin ’n vrou op soek na God finale afsluiting probeer kry van haar moeilike verhouding met haar pa én haar eie liggaam, skryf Louise Viljoen.

Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R290.

Uit berigte rondom die verskyning van Anoeschka von Meck se nuwe roman, Die heelal op my tong, is dit bekend dat dit ’n sterk outobiografiese inslag het.

Dié roman oor die verhouding tussen ’n pa en dogter word immers opgedra aan Von Meck se eie pa, die legendariese Vloog Theron, van wie daar ’n foto voor in die roman verskyn. Verder is daar ooreenkomste tussen bepaalde romangebeure en Von Meck se lewensverhaal soos wat ’n mens dit oor die jare in onderhoude met haar leer ken het.

Belangriker egter as dié ooreenkomste is die manier waarop die roman werklikheid omvorm tot fiksie en artistieke vorm gee aan die verhaal van ’n lewe in die skaduwee van ’n sjarmante maar onbetroubare swendelaar-pa.

Die roman maak gebruik van die oeroue patroon van ’n reis om struktuur, rigting en betekenis te gee aan die vertelling. “Padvat is my kuur vir baie dinge”, sê die verteller, Willemien, op bl. 54.

Ná haar pa se dood onderneem sy ’n eerste reis na Area 51 in die VSA, die lugmagbasis waar sommige mense glo ’n ruimteskip in 1947 neergestort het. Vir Willemien is dié plek, waar bespiegeling en geheimhouding wedywer met die werklikheid, tekenend van haar pa se lewe.

Die tweede reis onderneem sy saam met haar jonger suster vanaf Kaapstad na die Richtersveld waar hulle op simboliese wyse wil ontslae raak van haar pa se kluis. Al reisende vertel Willemien vir haar suster van dit wat haar lewe laat ontspoor het, sodat “daardie gebeure hulle mag oor ons kan verloor” (bl. 22). Die vertelling op reis moet ook die moeilike verhouding met haar pa finaal afsluit.

Om gebeure te vertaal in woorde is vir haar ’n manier om ’n greep op haar lewe te kry; woorde is “netjies en beheerbaar, anders as mens se lyf of kos”, sê sy op bl. 23. Daarom skryf sy van kleins af haar ervarings neer in dagboeke en notaboeke.

Dit blyk dat Willemien se lot intiem verweef was met dié van haar pa, ’n charismatiese man wat ongelukkig die “emosionele koëffisiënt van roereier” gehad het en meermale in die tronk beland het. Hulle verhouding is bepaal deur siklusse van verlating en afwesigheid, gevolg deur ingryping en manipulering.

Dit is terselfdertyd ’n roman oor die soeke na God.

Hy was gestremd weens polio in sy kinderdae, maar het nie gehuiwer om sy dogter brutaal te kritiseer omdat sy oorgewig is nie. Volgens hom pas haar dele nie bymekaar nie (bl. 18): “Jy is nie veronderstel om só te lyk nie! Hoe jy klink en hoe jy dink en die lewe wat vir jou ooplê, pas nie by jou lyf nie.” Dié soort opmerking lei tot ’n lewenslange disfunksionele verhouding met haar eie liggaam.

Haar pa neem sy familie van Namibië na die Kaap, voordat hy van sy vrou skei en die land verlaat om hom uiteindelik in die VSA te vestig. Sy dogter sluit by hom aan wanneer sy ’n tiener is en maak etlike avonture mee wat haar onder meer neem van Palm Springs na Switserland, Spanje, Rusland en Sri Lanka voordat sy terugkeer na Suid-Afrika. Hier word sy ’n joernalis wat uiteindelik trou met een van haar pa se meelopers, wat later blyk ’n volslae dwelmslaaf te wees.

As teenpool van hierdie voorbeelde van gekwetste en kwetsende manlikheid is daar ook ander soorte mans in die boek teenwoordig. Willemien vertel vir haar suster van die skaapwagter wat sy op Lekkersing ontmoet het, een van die seldsame mans wat nie verwond is nie en wat haar nie “skaam, belaglik of ontbloot” laat voel nie.

Daar is ook die man van wie ’n mens lees in die slotparagrawe van elke hoofstuk, iemand wat kennelik op sy eie pelgrimstog deur die wêreld beweeg en besig is om geleidelik nader te wentel aan Willemien. Sy verwys by geleentheid na die “onbekende bekende man” wat sy voel op pad is na haar.

Belangriker selfs as die uiterlike besonderhede van haar gebeurtenisvolle lewe, is die emosionele landskap wat hier blootgelê word. Selde was daar nog so ’n oortuigende uitbeelding van ’n eetsteurnis hier. ’n Mens sien hoe dit ontstaan, hoe dit skakel met onsekerheid rondom sorg en liefde, hoe dit groei uit spanning en angs, leer ken die siklusse van verhongering en ooretery waarin dit manifesteer. Dit teken – in Willemien se woorde – die prentjie van “ ’n leeftyd van oorlog met my lyf”. Die lyf vorm ook die kern van die ontnugterende ervarings van seksuele misbruik deur onderwysers en die eksperimentering met dwelms wat begin by medikasie om die gemoeds­toestand te beheer en gewig te reguleer.

Dit is terselfdertyd ’n roman oor die soeke na God. Verwysings na engele, ’n leeumannetjie (simbool van die opstanding), die Rooiseeloper (soos wat Christus hier genoem word), die Bybelse woord Pniël (wat “Gesig van God” beteken) en die derde oog hou die leser bewus daarvan dat daar nie net ’n strewe is na afsluiting van die verhouding met die pa nie, maar ook die drif na ’n ontmoeting met God. Die romantitel, Die heelal op my tong, suggereer dat aanvaarding van die liggaam – onvolmaak, vetsugtig of gestremd – essensieel is vir hierdie geestelike ontmoeting. Eenwording met God kom deur sowel die liggaam (onder meer die tong as orgaan waarmee jy praat, proe en eet) as die gees.

Die roman het ’n ietwat weifelende begin, maar die leser raak vinnig gewoond aan die verteller se tegniek om haar verhaal in brokke te vertel eerder as in ’n chronologiese lyn. Die sjarme hiervan is dat die roman ’n haas onuitputlike grabbelsak van stories en skreeusnaakse beskrywings is, maar ook van diep verdrietige momente. Die vertelstyl is een van onverfraaide en onsentimentele eerlikheid, terwyl die taalgebruik knetter van die vertel-energie en oorspronklikheid.

Ten slotte word ’n mens egter veral oortuig deur die diep emosionele nood wat hier na vore tree en langsamerhand deur die proses van vertelling tot bedaring gebring word. Dit is ’n oorrompelende roman wat by baie aanklank sal vind.

  • Louise Viljoen is ’n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anoeschka Von Meck  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.