Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bakkes vat vir oulaas afdraaipaaie na binne

In die byna 50 ‘heerlik outobiografiese onthoue’  in ‘Erfgeld is swerfgeld’ vat  C. Johan Bakkes telkens ’n afdraaipad die verlede in – sy eie, maar ook Suid-Afrika s’n – wat jou die een oomblik laat snork van die lag en die volgende laat snik, skryf Sophia van Taak.

C. Johan Bakkes

Erfgeld is swerfgeld: Reis na binne, die -ste -ste plek deur C. Johan Bakkes. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250.

Laat ek nie doekies omdraai nie: Aan sy praat kom ’n mens agter hierdie boek is waarskynlik Johan Bakkes se laaste. Dít sigselwers is genoeg rede om dit te koop en te lees, maar daar is verskeie ander goeie redes ook.

Diegene wat bekend is met sy vorige reisverhale – Moer toe die vreemde in (2001), Nou’s ons in ons donner in (2006), Norrevøk (2008), Samoe(r)sareis (2010), Oepse daisy (2011) en Openbaring (2016) – sal andermaal aanklank vind by hierdie versameling ekspedisies. Oudergewoonte is daar ’n “-ste”-doel voor oë: die droogste plek op aarde, die woeligste vulkaan wat ’n mens kan uitklim, die eensaamste eiland ensovoorts. By al dié reise is daar vooraf beplanning betrokke (Bakkes is immers ’n rekenmeester!), maar in ’n onrusbarende groot mate foeter hy en sy reismakkers eintlik net ’n koers in.

En dis dié benadering wat bykans altyd ’n onvergeetlikheid oplewer. En indien nie, dan ten minste ’n skitterende storie.

Wat my bring by die volgende rede om Erfgeld te oorweeg: Hierdie keer skryf Bakkes oor soveel meer as bloot sy soeke na avontuur, of, soos hy dit noem, “die ewige behoefte om tog net nie gewoon en saai die lewenspad, soos vir iedere uitgestippel, af te handel nie”. Hy vat die spoor van ’n diepe hunkering om by homself uit te kom – die “-ste -ste” plek.

Op pad soontoe betrap die skrywer hom telkens op ’n afdraaipad die verlede in – sy eie, maar ook Suid-Afrika s’n.

‘Hy het namens ons net gedóén.’

Watter invloede – uit sy ouerhuis en skooljare, sowel as politiek, kultureel én vanweë ’n leeftyd se omswerwinge – het hom gemaak wie hy is? Waar kom hy aan sy sienings? En ook: Wat is daardie keerpunte (ironies genoeg was dit sonder uitsondering nooit ’n reis nie, maar eerder die reisgenoot) wat ’n wending in hom teweeggebring het; daardie tye van plotselinge inkeer.

Die boek is dus ’n heerlike bundel onthoue, neergepen in sy unieke styl.

Bakkes skryf soos hy praat – met nóg filter nóg finesse. Maar dit is juis wat sy teks so aanloklik maak: Die skrywer laat willens en wetens toe dat jy hóm agter sy vertellings raak lees – met sy mooi én sy morsig. Daarom glo ek sal Erfgeld se opregtheid ook resoneer by lesers wat nog nooit ’n Bakkes-boek onder oë gehad het nie.

Die idee van jou stam, nossa família, en die dinamika tussen pa en seun is ’n deurlopende tema. Vir dié eersgeborene van die formidabele kommandant dr. Cas Bakkes word die herinneringe van ekskursies saam met sy pa en dié se vormende rol in sy lewe as’t ware ’n ode aan sy vader. Eksodus had dit oor die sondes van die vaders; Erfgeld vertel eerder van hul deugde en hoe dít die volgende geslag met forse karaktereienskappe kan nalaat: ’n ewige swerwersdrang; ’n onkreukbare lojaliteit; ’n beneukte eiewilligheid; maar ook die respek vir tradisies. En een daarvan is die oorvertel van staaltjies en sages.

Hoewel die meeste van die byna 50 verhale outobiografies van aard is, verras Bakkes jou ook kort-kort met iets anders: ’n uittreksel uit die dagboek wat pa Cas vir meer as sewe dekades getrou aanhou skryf het; ’n spookstorie; en ook “katonkstories” – die Bakkes-stam se naam vir ’n lekkerkry-liegstorie. Dit is “die deurblaai van ’n lewe gelewe, op soek na die relevante. Die krap tussen vergeelde kiekies, briewe en die vergader van menswees”.

Dit is vertellings wat aangryp en vermaak; jou een oomblik laat snork van die lag en die volgende laat snik.

Elke verhaal word verder verryk deur ’n aanhaling as inleiding – hetsy uit ’n gedig, spreekwoord, fliek, liedjie of die laatnagwysheid van ’n vriend. So van liedjies gepraat: Die meeste hoofstukke het ook ’n aanbevole snit wat jy as agtergrondmusiek kan gebruik terwyl jy dit lees – iets wat myns insiens ’n heel nuwe dimensie aan literatuur verleen.

Al die elemente werk saam om ’n gebeurtenis vir die leser so meesleurend moontlik te maak. Met dié dat jou ore nou sáám met jou oë “lees”, prikkel dit ook jou ander sintuie: Jy próé hoe daardie caipirinha in ’n kroegie iewers in Rio jou kieue op ’n knol trek; jy teug diep aan die eerste dampie pyptabak op die agterdek van ’n skip op pad na St. Helena, en in die godverlate einders van Siberië prik ’n sneeustorm jou wange soos naalde.

Bakkes slaag daarin om die genot van die oomblik meesterlik te vertolk.

As ons almal maar die lewe se murg só kon uitsuig, de laaste soet vleisies van die beentjies afkluif . . . Want ná afloop van ’n reis is dit tog nie die hele kaboedel wat jou bybly nie. Nee, jy koester spesifieke grepies daarvan.

Jy kan sê wat jy wil van Johan Bakkes (ek dink hy gee in elk geval nie ’n flenter om nie), maar oor één ding kan jy nie stry nie: Min van ons het die moed om hom die lewensreis óf die reis na binne so onverskrokke na te doen. Hoe ontroerend is sy woorde nie: “Die lewe soos aan my voorgesit, is tot die droesem gedrink en so is ook elke los krummeltjie verorber . . . hoe gelukkig kan een mens nie wees nie? Dat hy so-by-so die lewe kon uitleef voordat dit oor is.”

Dít is dan Bakkes se nalatenskap aan sy lesers: Hy het namens ons almal die wildste vul bloots loop ry, met “die uitbundigheid van net dóén”. Dit is ’n aansporing om, solank ons nog oorleef, werklik te léwe, en die byna ondraaglike grootsheid van hierdie bestaan soms oor ons te laat spoel.

Al is dit net vir daardie één oomblik van akuut lewendig voel.

* Sophia van Taak is ’n joernalis by die reistydskrif Weg!.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.