Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Baldadig en boheems soos ’n Russiese serp

‘Liefde in die tyd van die internet’ is ’n snaakse, stomende feëverhaal met ’n filosofiese onderbou, maar ook ’n soort apologie waarin Fransi Phillips dit duidelik maak dis nie skrywers se werk om saam met die trop te hardloop nie, skryf Deborah Steinmair.

Liefde in die tyd van die internet deur Fransi Phillips. Uitgewer: Queillerie. Prys: R265.

As kind was ek gefassineer deur Turtle Wax-politoer: Op die kannetjie was ’n prentjie van ’n glimlaggende skilpad wat ’n kannetjie politoer vashou waarop daar ’n prentjie is van ’n skilpad wat ’n politoerkannetjie vashou waarop daar ’n prentjie is . . . Turtle Wax het my ure lank laat nadink oor oneindigheid.

Só is Fransi Phillips se nuwe boek ook: soos ’n Russiese matriosjka-pop of ’n spieël in ’n raaisel. Dit is posteksperimenteel met binnegoed wat tergend uithang terwyl die skrywer geluidloos lag.

Ja, Phillips is self in die storie en sy sê vir haar hoofkarakter: “Ek is net soos julle deel van ’n verhaal.”

En: “Ja, ek verkies ook feëverhale bo die werklikheid, maar ek is nou al bietjie te oud om die werklikheid te ignoreer. ’n Gesonde integrasie is wat ons nodig het . . . Jy kan die werklikheid op enige manier kombineer met jou eie, persoonlike feëverhaal.”

Uit Phillips se pen verwag ons teen dié tyd sprokies en fabels met beeldskone rooikopheldinne wat soos Pelléas se Mélisande lyk en wat hardkoppig, maar tenger en bleek is. Hulle vergeet om te eet, val flou en word deur brutale mans verrinneweer en deur gebiedende prinse gered. Op haar beste is Phillips ’n sprookmaker en aweregse denker. In gemiddelde oomblikke neig sy soms na presieuse gewydheid.

Het ek êrens die woord ‘pisfeminis’ raakgelees?

Vandat sy in Rusland beland en die Russiese kultuur en politiek pens en pootjies aangegryp het, verstaan ek beter. Iemand het op ’n keer gesê alle Russe is bipolêr soos kinders: Hulle slinger van oomblik tot oomblik tussen melancholie, wanhoop en ekstase. Hulle is bemoerd en bruusk, dan weer sentimenteel en romanties. Wanneer Phillips wérk, is sy ’n natuurwet, ’n galopperende wildehond in die woude.

Net soos haar vorige roman, Net ’n lewe (2011), bestorm Liefde in die tyd van die internet beelde en pluk vensters oop.

Soos die digter Bibi Slippers het Phillips daarin geslaag om van haarself ’n handelsmerk op die sosiale media te maak. Haar profielfoto’s lyk almal min of meer dieselfde. Só beskryf haar hoofkarakter haar: “Die bleek vel, yl hare ná die onlangse kanker, hoë wangbene, langerige neus, ligblou oë wat lyk of dit te veel gesien het van hierdie lewe, agter ’n katoogbril.” Maar anders as die funky polkadot-Slippers is Phillips die bose peetma wat ongenooid op die doop opdaag: Sy is ’n roerder, sy maak moles, sy jaag mense in die harnas met haar sienings. Sy word deur letterkundiges en uitgewers geblok. Sy is Struwelpeter en Mary Mary Quite Contrary en sy herinner aan T.S. Eliot se gedig wat só begin: “How unpleasant to meet Mr Eliot.”

Facebookers is al vertroud met haar Poetin-passie, haar anti-Hillary Clinton-histerie, haar As­sange-lofsange, haar (effe meer gedempte) Trump-getrompetter. Sy verduidelik aan haar hoofkarakter haar uitgewers het voorgestel sy moet aktief wees op Facebook sodat haar boeke beter verkoop. Die karakter merk op dit het eerder die teenoorgestelde uitwerking, waarop Phillips droog laat val: “Ja, hulle het nie rekening gehou met my temperament nie.”

Dis ’n riskante speletjie om met jouself die draak te steek in jou eie roman, maar Phillips dans meestal vaardig op die spantou en die leser put ten minste net soveel genot daaruit as syself. Soos in haar ander boeke word daar terloops verwys na dromerige regte mense soos Diek Grobler en Thea Nigrini, en na eweneens dromerige familielede van Phillips, soos haar suster Liekie Fouché en haar dogter, Nina Phillips.

Die hoofkarakter, die efemeries beeldskone asook slim dromer Hanna met rooi hare wat tot onder haar boude hang, wil wegkom van haar verloofde, wat ook haar baas is, ’n varksige prokureur wat haar eintlik betaal om by hom te slaap, wat impotent en ongeskik is en haar gedurig verneder en karnuffel.

Hanna kontak Phillips op Facebook om uit te vind oor onderwysposte in Rusland. Sy verkwansel die lelike, groot diamantring wat die prokureur eintlik vir sy vorige verloofde se vet vinger gekoop het en vlug Rusland toe met haar katjie.

Een van haar studente is Wolf79, ’n straight Nurejef-lookalike wat ’n vloot skepe besit.

Dit is liefde met die eerste Skype-aanblik.

Die leser beleef die uiterstes en wilde skoonheid van Rusland, die onverbiddelike winters, die onheilspellende woude vol wilde honde en gillende voëls, die befoeterde baboesjkas wat almal boelie met hul kieries en knoffelasems, die onuitspreekbare stasiename, die strate wat nag lank wemel van mense.

Daar is ’n sekere manier wat Phillips het om ’n ding te sê, eenvoudig en dawerend: “Daar’s iets in Moskou, dink Hanna terwyl sy saam met die wilde honde in die strate na die Kozjoekhowskaja-metrostasie begin hardloop, wat jou laat hardloop terwyl jy eintlik wil lê en huil.”

Daar is wonderlike waarnemings uit die linkerveld, soos dat kaviaar soos trane smaak.

Hanna en Wolf79 se paringsdans is aanvanklik beperk tot die skerms van hul rekenaars en hy word haar denkbeeldige maat in die strate, op die treine. Sy dink by haarself: “As iemand jou eers in sulke detail begin rondfok in jou kop, moet jy weet jy’s hopeloos verlief.”

Wanneer hulle mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet, is hul samesyn vol stralers, sjampanje, truffels, kersies en kaviaar. Wolf79 is die droomheld van menige heteroseksuele vrou: lieflik, sterk, slim, pittig, skatryk, baasspelerig. (Het ek êrens die woord ‘pisfeminis’ raakgelees?)

Soos lesers oraloor weet, is die weë van die liefde nie altyd sonder slaggate nie. Die Phillips-karakter, die skrywer, meng nou en dan in, maar soos dit met karakters gaan, het hulle ’n renons in haar inmenging, dwing hulle ál dwars in ’n eie rigting. In vintage-Phillipsiaans word hul aangrypende liefde soms in gewyde taal verhaal: “ . . . daardie oomblik waarin hulle siele saam vermeerder, verander in ’n ewigheid” en dan, sonder waarskuwing, in aardse lyflikheid wanneer hy vir haar sê hy het ’n verrassing vir haar, maar sy moet eers haar klere uittrek, en sy reageer met: “Wat is dit, ’n naai?”

Die roman is, soos Net ’n lewe, ’n verslag van verlies en melancholie. Dit popel van ontgogeling en klou vas aan feetjies. Dit stem, soos Phillips, tot teësinnige nadenke, oor die Romanofs, die Belle Epoque en Fabergé-eiers, die wêreldpolitiek, Amerika en die petrodollar, die aard van demokrasie, die parallelle wêrelde wat tegnologie laat oopwaaier, die stand van joernalistiek, die willose tropgedrag van mense en die aard van die skryfproses. Soos die Fransi-karakter aan haar hoofkarakter verduidelik: “As daar al ooit ’n gefokte tydsgees was . . . is dit nou.”

Liefde in die tyd van die internet is ’n stomende liefdesverhaal, ’n bildungsroman, ’n gefokte feëverhaal vol droë humor en met ’n filosofiese onderbou. Dis ook ’n soort apologie waarin Phillips haarself verduidelik: Sy meen dis nie skrywers se plek om saam met die trop te hardloop nie. Hulle moet mense anders laat sien. En hierin slaag sy, op haar onnabootsbare manier. Dit alles terwyl sy ’n storie boheems soos ’n Russiese serp weef. Al verbreek sy die illusie, die gewillige ophef van skeptisisme, kry sy dit reg om die leser te laat omgee oor die lot van die karakters, ja, selfs ons pisfeministe.

Soos my tantes altyd gesê het: Die liefde brand soos ’n warm kerrieaartappel.

Soos die voorblad beloof, is hierdie roman inderdaad ’n verfrissende konkoksie.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Fransi Phillips  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.