Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Baldadige blik op mens en masjien

Anton Roodt se debuutroman, ‘Weerlose meganika’, is ’n allegaartjie van genres met elemente van die karnavaleske roman, misdaadroman én wetenskapsfiksie. Sonja Loots meen dit is waarskynlik die interessantste Afrikaanse roman tot nog toe oor mens-masjien-verhoudings.

Anton Roodt, ’n argitek en visuele kunstenaar van Bloemfontein, het sy debuutroman as deel van ’n MA-graad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Foto:IFLAIR PHOTOGRAPHY

Weerlose meganika deur Anton Roodt. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R320.

Weerlose meganika speel af in ’n toekomsvariant van die huidige Suid-Afrika. Die jaar is waarskynlik 2030 of kort daarna, soos afgelei kan word uit ’n verwysing na “die nadraai van ’n viruspandemie van ’n dekade of wat gelede”.

In die Kaapse Wynland word geen wyn meer gemaak nie, omdat die winterreën nie meer val nie. In die Azaniese Federasie, wat hom met die voortgesette onteiening van plaasgrond besig hou, is Mandaryns die 12de landstaal. Motors is elektries, maar mense met geld reis per lugskip. Die grens tussen mens, masjien en organisme het vervaag – sommige romankarakters is mense en ander kubernetiese organismes, ofte wel kuborge.

Trouens, Weerlose meganika is waarskynlik die interessantste Afrikaanse roman tot nog toe oor mens-masjien-verhoudings.

Dadelik opvallend is hoe die toekoms deurspek is van elemente uit die verlede.

Daar is Oreo-koekies en hertzoggies, ’n inryteater (darem met ’n digitale skerm en Bluetooth-klank), koerante, toffie-appels, boeresport en ’n Boerejood, tombola en selfs dwerggooikompetisies. Die karakters besit Ray-Bans en Land Rovers, doen inkopies by Woolworths en oefen by Virgin Active. Wanneer die hoofkarakter, kol. Rooipiet Moolman, die slimbot Lympie Hoenderdos ontmoet, oorhandig sy selfs ’n gedrukte dokument in ’n koevert, wat die kolonel met sy outydse briewemes oopmaak.

Daar is toffie-appels, tombola en selfs dwerggooi-kompetisies.

Dalk is die verduideliking hiervoor dat alles afspeel in ’n soort temapark: die Kulturama-museum en navorsingsentrum op Welkom in die Vrystaat. Die kompleks is opgerig om ’n uitgewerkte myn en word bestuur deur kol. Moolman, wat rapporteer aan die direkteur-generaal van kuns en kultuur. Moolman hou hom veral ook besig met voorbereidings vir ’n toneelopvoering by die inryteater in die Kulturama. Die opvoering is deel van die jaarlikse Versoeningsfees en neem die vorm aan van ’n militêre skouspel waarin die Bloedrivier-veldslag herskep word.

Heelwat van die intrige in die verhaal wentel om die verbasende ontdekking dat daar 64 daguerreotipes van die Slag van Bloedrivier bestaan en dat daar op een van hierdie “koperplaatfoto’s” gesien kan word hoe engele bo die bloedbad sweef.

Lesers wat besef die slagting by Bloedrivier het gebeur voordat Louis Daguerre in 1839 die daguerreotipe-proses aan die wêreld bekend gestel het, en daaroor pieker dat dié verhaalgegewe ’n historiese onmoontlikheid is, sal gou oorrompel word deur die enorme aantal ander absurditeite wat met ryklike oordaad opgestapel word. Só blyk dit byvoorbeeld dat talle van die inwoners van die Kulturama aan vreemde (fiktiewe) siektes soos Klippel-Trénaunay-sindroom, Cotard se delusie en Kleine-Lavin-sindroom ly. Dit is moontlik die gevolg van ondertrouery in ’n kulturele enklawe vir Afrikaners, hoewel daar skynbaar nie slegs Afrikaners in die Kulturama woon nie. Rassewrywing is ook nie iets van die verlede nie, soos onder meer duidelik raak in gesprekke tussen Moolman en sy veiligheidshoof, Doc Ndlovu. Konfrontasie en verwyte bly nie uit nie en beskrywings van Moolman se interaksie met swart karakters bevat “grappies” wat allermins polities korrek is. Hy vind dit byvoorbeeld verstommend dat Ndlovu Kafka lees, want hy wat Moolman is, lees dan nie Boerneef nie, al is hy ’n boer . . .

Dié soort oomblikke het tot gevolg dat die hoofkarakter moeilik is om te peil. Hy is ’n man van die toekoms, maar tree op soos een van die verlede. Dit gaan nie net oor sy rassepolitiek nie, maar ook sy genderpolitiek. Sy homofobiese verwysings na ’n haarkapper as ’n “skermoffie” gaan gepaard met sy onvermoë om interaksie met vroue te hê sonder om hulle tot seksobjekte te reduseer.

Hy het ’n seksuele verhouding met sy sekretaresse, Vlindra van der Merwe, raak oorhoops oor die burgemeester se uurglaslyf en “die vallei tussen haar vol borste” en luister skaars na wat die vrouespeurder kapt. Fortuin vir hom sê, omdat hy hom verbeel “hy hoor hoe haar sykouse oor haar dye skuur”.

Die man is werklik bra dik vir ’n daalder: Selfs sy lessenaar se pote laat hom aan ’n vrou se dye dink. Wanneer die geheimsinnige agentskap DIS (Darwin Intelligence Systems) ’n slimbot na die Kulturama stuur om die rol van die hoofengel in die Bloedrivier-opvoering te vertolk, is Moolman heeltemal op hol.

Hy weet nie of hy van skaamdele of onderdele moet praat nie, maar vind die sintetiese wese se “vlesige viool” nietemin aanloklik genoeg en kort voor lank lees mens van sy “sperma wat met ’n gloeiende boog spuit”. Hier sal sommige geïrriteerde vrouelesers moontlik ophou lees – ek het self ook byna die handdoek ingegooi, maar in die afdeling wat daarop volg, “Onderwêreld”, kom die roman op volle vaart en raak dit ’n boeiende stuk verbeeldingswerk.

Kol. Moolman vertrek naamlik saam met Doc Ndlovu na die dieptes van die uitgewerkte myn. Dit raak ’n variasie van die oeroue reisverhaalmotief, wat die basis vorm vir soveel van die wêreldletterkunde se grootste verhale, kompleet met die held wat op soek is na ’n heilige graal wat hom bly ontwyk. Dit is ’n heerlik absurde, onvoorspelbare avontuur met ontelbare kinkels in die kabel. Daar is ’n bont versameling bisarre tablo’s met kameeverskynings deur sintetiese wesens van wisselende gesofistikeerdheid en vreemde vlees-en-bloed-figure. In hierdie hoofstukke en in die afdeling “Bestekopname” is daar sprake van ’n besinning oor identiteit, gender en ras in ’n posthumane samelewing. Die lot van Rooipiet Moolman en die beeldskone slimbot waarop hy verlief is, vorm deel van die roman se gevarieerde perspektiewe op die digotomie van die positiewe en negatiewe aspekte wat tegnologie moontlik vir die mens inhou.

Dit is nie ’n roman waarin erns ooit oorheers nie, maar die ontknoping dwing die leser nietemin om Moolman se karakter in ’n nuwe lig te sien. Nie verniet nie heet die laaste afdeling op onheilspellende wyse “Moerland”. Die gehawende direkteur wat eindelik weer uit die myn na die bogrondse wêreld van die Kulturama terugkeer, is nie dieselfde Rooipiet Moolman wat in die myn neergedaal het nie. Boonop was die wedervaringe in die myn nie die einde van sy beproewinge nie.

Ná sy terugkeer neem meer as een karakter uit sy verlede wraak op snaakse, maar ook donker maniere.

Daar word so deeglik met hom afgereken dat dit moontlik raak om Weerlose meganika te lees as ’n allegorie oor die ondergang van die soort man en die soort Afrikaner wat Rooipiet Moolman was; asook die maniere waarop hy voorheen oor ras, gender en identiteit gedink het.

Weerlose meganika is ’n allegaartjie van genres met elemente van die karnavaleske roman, misdaadroman én wetenskapsfiksie. Nie al die drade word bymekaar gehou nie, maar dit is ongetwyfeld prikkelende fiksie oor ’n wêreld waarin die saambestaan van mense en kuborgs stereotipes laat sneuwel en aanleiding gee tot nuwe maniere van dink oor veral geslagsrolle. Dié sterk debuut sal met goeie rede druk bespreek word.

  • Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Anton Roodt  |  Weerlose Meganika  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.