Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Barends-Griekwas kry trots terug
Griekwas van die Barendse Griekwa-huis wat die boekbekendstelling van dr. Bart de Graaff op Daniélskuil bygewoon het. Van links is Katrina Philander, Brenda Hambly, hoofvrou Selma Pienaar, Jan Williams, Poppie Adams en Rosina Philander. Foto: Marietjie Gericke

Bart de Graaff, ’n Nederlandse joernalis, historikus en draaiboekskrywer, skryf al jare lank boeke en artikels oor Afrikaanssprekende gemeenskappe in Suid-Afrika en Namibië. Marietjie Gericke het met hom oor sy nuutste boek, Barend Barends die vergete (Griekwa)-kaptein van Daniëlskuil, op dié Noord-Kaapse dorp gepraat.

Daniëlskuil was op 13 November vanjaar behoorlik in rep en roer toe dr. Bart de Graaff meer as 12 000 km van sy Middelburg-tuisdorp in Nederland sy sewende boek oor Suid-Afrikaners kom bekend stel het.

“Die doel van die boek is om Barends-Griekwas te help om hul geskiedenis te verstaan. Om hul selfwaarde terug te besorg wat hulle onder Britse kolonialisme, segregasie en die apartheidsbestel verloor het,” sê hy.

Met die boek wil hy die voorheen geïgnoreerde geskiedenis van die Barend Barends-Griekwas van Daniëlskuil laat “herleef”.

Personeel van die Nederlandse ambassade in Suid-Afrika, wat op die boekbekendstelling op Daniëlskuil was. In die middel is Jan Huesken, adjunk-ambassadeur van Nederland in Suid-Afrika, Claude van Wyk (links), senior beleidsbeampte by die Nederlandse Konsulaat-generaal in Kaapstad, en Daniël Smit, senior beleidsbeampte by die Nederlandse ambassade in Pretoria (regs).Foto: Marietjie Gerricke

Dié boek oor die vergete Griekwa-kaptein, Barend Barends, wat saam met Adam Kok II in 1908 albei ’n kaptein-staf van die goewerneur van die Kaap-kolonie, ontvang het, het aan hulle erkenning as die hoofde van Klaarwater-vallei (Griekwastad) besorg.

Volgens De Graaff wil hy met die boek vir die Barends-Griekwas van Suid-Afrika “identiteit” kom gee sodat hulle nie meer na hulself as Basters hoef te verwys nie.

Dit is waarom hy verlede jaar die Barend Barends-Griekwa-geskiedenis fyn kom navors het met onderhoude wat hy op band met die vriendelike Griekwas, wat so ’n mooi Afrikaanse woordeskat het, vasgelê het.

Hy het sommer terselfdertyd ook vasgestel dat daar deesdae sowat 4 000 Barendse in Suid-Afrika is.

“Ek kon met my boekbekendstelling op Daniëlskuil vir die Barends-Griekwas van hul trotse geskiedenis kom leer. “Ons het nou ’n stam,” sê hulle.

Die Noord-Kaapse Toerisme-owerheid, die Karoo-ontwikkelingstigting, die Nederlandse ambassade in Pretoria en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, was van die hoofborge vir De Graaff se boek.

Verteenwoordigers van dié instansies het onder meer die bekendstelling op Daniëlskuil bygewoon.

Dr. Bart de Graaff
Dr. Bart de Graaff met sy boek Barend Barends, die vergete kaptein van Daniëlskuil, wat hy onlangs op Daniëlskuil, Kimberley en in Pretoria bekend gestel het.Foto: Marietjie Gericke

Die boek is ook die vorige aand in die McGregor-museum in Kimberley bekend gestel waar De Graaff die jaarlikse Maria Wilman-gedenklesing gelewer het, en ’n week vantevore in Pretoria.

Daniëlskuil was egter die plek waar die verhaal die beste tot sy reg kon kom.

Die dorp was die sentrum van waar Barend Barends destyds oor sy Griekwas “kapteinskap” uitgeoefen het.

De Graaff vertel in die 1800’s is die twee grootste Baster-groepe deur Adam Kok die tweede, en sy neef, Barend Barends, gelei.

“Hulle het langsamerhand na die ooste beweeg en in valleie soos Kloof, Klaarwater en Grootfontein (nou Campbell) gaan bly.

Barends kon lees en skryf, wat buitengewoon vir sy tyd was.

“Hy het soms in skole skoolgehou, hoewel hy ’n veeboer was. Hy was ’n grootwildjagter wat weke van die huis weg was om onder meer olifante te jag.”

Hy was ’n vreesaanjaende oorlogvoerder en soms slawehandelaar. Vir die Khoi en San was hy ’n lekeprediker.

Later het hy na Daniëlskuil verhuis omdat hy bedreig gevoel het deur die Londense sendingverenigings wat hulle in Klaarwater begin vestig het gevoel het en omdat die weiding daar beter was.

Gaste op die Daniëlskuil-bekendstelling kon die vriendelike Griekwa-gesigte behoorlik sien straal en ’n Griekwa-koor van Vryburg het in die allermooiste Griekwa-Afrikaans op die bekendstelling gesing. (Kyk: Video)

Griet Goeieman
Griet Goeieman (57), gebore Barends, sê dit was vir haar 'n voorreg om dr. Bart de Graaff se boekbekendstelling op Daniëlskuil te kon bywoon. Haar ma kon die Griekwataal praat, maar sy kan nie. Griekwas is liefdevolle en vriendelike mense wat nuuskierig oor hul verlede is. Hulle praat ook die mooiste woorde in Afrikaans, sê sy. Foto: Marietjie Gericke

Almal was nuuskierig om meer te hoor van dié vergete Griekwa-kaptein van Daniëlskuil, waar nou selfs ’n straat na hom genoem gaan word – “die pad na die kerk . . .” het Irene Williams, waarnemende burgemeester van Daniëlskuil, die aand aangekondig.

De Graaff het vertel dat die Barends-Griekwa ’n kleiner gedeelte van die Griekwa-nasie in sy geheel is.

“Die vergete geskiedenis geld eintlik ook die ander Griekwa-groeperings soos dié van koning Johannes Waterboer, hoofman Allan le Fleur, koning Adam Kok V, die koninklike huis van Cornelius Kok II, en die Griekwas van die Campbell-gronde.

Hy sê niemand van die Griekwas praat meer hul taal, Gri of Xiri, nie.

“Daarom het ek besluit om vir die Barends-Griekwas weer identiteit te kom gee. Om vir hulle van hul ryk geskiedkundige erfenis te kom vertel.”

De Graaff sê vir sy navorsing het hy die Barends-huishouding in die landelike gebiede van Daniëlskuil besoek.

Daniëlskuil was in die 1820’s die Barend-Griekwas se hoofdorp.

Griekwa-tradisie

Nog Griekwas van die Barend Barendse se Griekwa-huis wat die boekbekendstelling van dr. Bart de Graaff op Daniëlskuil bygewoon het. Van links is Elizabeth van Wyk, hoofman Chris Pienaar, Corneel Pienaar, Elizabeth Mentoor en Susan Philander. Foto: Marietjie Gericke

“ ’n Bejaarde ma en drie opgegroeide kinders van in die veertig het tydens my navorsing vertel dat die Griekwa-tradisie geen rol in hulle grootwordjare gespeel het nie.

“Daar was nie ’n tradisie van enigiets nie.”

Hulle het hul ouers daarvoor blameer en spesifiek omdat die verlies aan tradisie “ons geskiedenis laat uitsterf het.”

Hy sê dit het hom met die vraag gelaat of ’n nasie wat nie meer sy ou taal praat, en die meeste van sy geskiedenis en tradisie vergeet het, steeds ’n nasie genoem kan word?

Hy sê Griekwas in Suid-Afrika het egter ’n spesifieke interessante storie.

Hulle is bly die Here het vir hulle iemand gestuur wat kan verduidelik waarvandaan hulle kom en wie hulle is, sê Daniël van Staden (52) en Magrieta Springbok (42), wat ook die bekendstelling van dr. Bart de Graaff se boek, Barend Barends – die vergete kaptein van Daniëlskuil, bygewoon het. Foto: Marietjie Gericke
By die Kgatelopele-munisipaliteit op Daniëlskuil. Van links is René Losper (ANC-raadslid), ANC-raadslid Irene Williams, waarnemende burgemeester, wat aangekondig het dat sy ’n straat na Barend Barends, die vergete Griekwa-kaptein op Daniëlskuil, gaan laat noem, dr. Bart de Graaff, Nederlandse skrywer van die boek, en prof. Doreen Atkinson van Philippolis, trustee en projekbestuurder van die Karoo-ontwikkelingstigting wat die Go Ghaap-kultuur-en-erfenisroete in die Daniëlskuil-streek vir toeriste bevorder.Foto: Marietjie Gericke
Die kuil op Daniëlskuil waarvan die dorp sy naam gekry het. Dit gaan nou skoongemaak word sodat dit as besienswaardigheid vir besoekers ingesluit kan word. Foto: Marietjie Gericke
Dolomiet-rotsformasies wat soos 'n brandwag waak oor die kuil waarna Daniëlskuil genoem is. Verskeie mites bestaan oor waar die kuil sy naam vandaan kry, soos dat dit na Daniël se kuil in die Bybel verwys, en ’n ander weer dat dit na Daniël Pienaar, ’n prominente inwoner van die dorp, genoem is.Foto: Marietjie Gericke
Lena Klip (71), 'n Griekwa-tannie van Daniëlskuil, sê sy was getroud met Jan Klip wat haar ontval het. Hy het vir haar die kierie met die steenbokkie aan die bopunt uit hout gekerf waarmee sy daagliks haar lewenspad bewandel. Sy onthou nie meer alles nie. Maar sy weet vir Barends-Griekwa-mense is nederigheid, vrede, lankmoedigheid en liefde baie belangrik. “Ons gaan gereeld kerk toe en gesels met mekaar om mekaar te bemoedig."Foto: Marietjie Gericke

“Aan die einde van die 18de eeu het groot groepe van die Basters suid van die Oranje-rivier vergader.

“Baster het nie in daardie jare beteken dat jy ’n skelnaam het nie.”

Om ’n Baster genoem te word het beteken dat jy van gemengde rasseherkoms is. Dat daar Khoi-Khoin, swart Afrikane, Asiërs en baie dikwels Europeërs, onder jou voorgeslagte was.

“Basters het hulself nie minderwaardig teenoor wit setlaars geag nie. Hulle het dieselfde soort lewe van trekboere geleef, dieselfde taal – Kaaps-Hollands – gepraat, gewere en perde gehad en hulle het meestal soos Europeërs aangetrek. Hulle het na hulself as swart Nederlanders verwys.”

"Hoede-draers''

Vir die inheemse San of Boesmans was daar geen verskille tussen Basters en witmense nie. Hulle is “hoede-draers” genoem.

Barends het ná sewe jaar uit Daniëlskuil na Boetsap getrek omdat die weiding vir vee beter was en omdat dit nader aan sy jagvelde in die Magaliesberg was, sê De Graaff.

Dit is ook waar hy agt jaar ná die Slag van Moordkop gesterf het waarin bykans sy hele kommando teen die Ndebele uitgewis is.

De Graaff meen Barends-Griekwas gaan moeilik grond in Suid-Afrika se grondhervormingsprosesse terugkry, omdat hul stigter reeds in 1839 dood is en die res vandag verspreid oor die hele Noord-Kaap bly.

*Prof. Doreen Atkinson van Philippolis, trustee en projekbestuurder van die Karoo-ontwikkelingstigting wat die Go Ghaap-kultuur-en-erfenisroete in die Daniëlskuilstreek vir toeriste bevorder, het op die boekbekendstelling die kultuur-en-erfenisroete vir toeriste bemark.

Sy en De Graaff beplan om nou saam ’n boek oor Daniëlskuil se ryk toerisme-erfenis te skryf.

*De Graaff sê sy Barends-boek is ’n nie-winsgewende projek. 400 kopieë hiervan sal gratis aan skole en biblioteke van die Noord-Kaap geskenk word.

Meer oor:  Daniëlskuil  |  Boek  |  Griekwas  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.