Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Barkhuizen-le Roux: ’n Dapper en deernisvolle skrywer

Die skrywer Christine Barkhuizen-le Roux (61), wat Donderdag dood is, het baie empatie met die underdog gehad.

So sê Jean Oosthuizen, aanbieder van Uit ’n ander hoek op RSG.

Skrywer
Christine Barkhuizen-le Roux is Donderdag dood. Foto: Brenda Veldtman

Barkhuizen-le Roux het gedurende die inperking aan dié program deelgeneem. “Sy het haar ander se hartseer aangetrek. Onregverdigheid het haar ondergekry. Sy het ’n sagte plek vir die gemarginaliseerde gehad,” sê Oosthuizen.”

Sy is in die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai dood.

Dit is nie bekend waaraan sy dood is nie.

Barkhuizen-le Roux het met Oosthuizen kontak gemaak nadat hy oor haar boek My naam is Prins, ek slaap met die lig aan op Facebook geskryf het. Dit gaan oor kindermolestering. Sy is self as kind gemolesteer.

“Sy het daardie skrywe baie waardeer en my gekontak om verder daaroor te gesels,” sê Oosthuizen.

“Dit word toe ’n braai by Chris Jones se huis in Januarie. En daarna het ons meer gereeld per e-pos gesels. Sy het my ook genooi om by hulle op die plaas te gaan kuier, wat ek graag so gou moontlik ná Covid wou doen, maar toe nooit gedoen het nie. Sy was ’n fantastiese mens wat haar kon oopmaak as sy jou eers geken het.”

Die episode op 12 Julie van Uit ’n ander hoek het oor kindermolestering gehandel. “Sy is gemolesteer, maar sy het dit verwerk en uitgeskryf.”

Oosthuizen het haar vir die laaste keer op die US Woordfees in Stellenbosch in Maart gesien.

In een van haar laaste boodskappe aan Oosthuizen skryf sy: “Ek het soms sulke GOEIE dae, en dan meteens weer sulke MISLIKE dae. Gelukkig het ek darem werk. Net vanoggend gehoor ek kan ’n stuk vertaling doen. Dit help al baie. En so staaaadig maar seker vorder die jeugroman darem ook . . .”

Barkhuizen-le Roux is op 18 November 1959 in Vryburg gebore.

Sy was ’n digter, kortverhaalskrywer en skrywer van romans, insluitend Getuie, Drieklawerblaar en Padmaker.

Sy het op ’n plaas in die distrik Barrydale saam met haar man, Bertus le Roux, gewoon.

Sy het drie kinders, Joané, Albert en Carli, en een kleinkind.

Haar debuutdigbundel, dimensie, is in 2000 uitgereik.

Sy het ’n paar keer die ATKV-skryfskool bygewoon.

Christine Barkhuizen-le Roux Foto: Brenda Veldtman

“As daar een mens is wat die droom geleef het, was dit sy,” sê die skrywer Hans du Plessis, een van die aanbieders van die skryfskool.

Sy het tydens verlede jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees by hom tuisgegaan.

“Toe sy die eerste keer die ATKV-skryfskool bygewoon het, het sy gesê sy gaan eendag skryf. Ek het dit al so baie gehoor. Min mense kom daarby uit. Maar sy hét.”

Barkhuizen-le Roux se laaste boodskap aan die skrywer Trisa Hugo lui: “Besig wees is die groot entstof teen die lewe.

“Sy het gehoop om dit nog iewers in te skryf,” sê Hugo. “Ek is dankbaar dat ek nou op so ’n hartseer manier hierdie vrou met die sagste hart denkbaar se woorde namens haar met die wêreld kan deel. Haar woorde oorleef haar.”

Hugo het haar ook vir die laaste keer op die Woordfees gesien. Hugo was op pad lughawe toe om haar sterwende ma in Pretoria te gaan groet. “Ek sal Christine se volgehoue ondersteuning vir ewig onthou.”

Hugo klou ook vas aan dié woorde in Padmaker:

“ ’n Mens maak foute, my kind, maar jy moet vashou aan die lag. Kyk na die blink van die blare in die son. Dit is ál wat jy het om jou teen die donkertes te beskerm.”

Haar woorde oorleef haar inderdaad, sê Hugo.

Hugo het haar net ’n paar keer ontmoet. “Ons het egter dikwels privaat gesels en sy het altyd sulke paniekbevange boodskappe gestuur as sy sukkel met haar foon of laptop. “Haar vaardigheid het in woorde gelê, nie in tegnologie nie. Sy kon lekker senuagtig raak, net om agter te kom dat sy eintlik reeds op die regte spoor was as sy iemand het wat kalm die proses aan haar verduidelik.”

Barkhuizen-le Roux was ’n student van die skrywer Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad (UK). “Sy het die MA in skeppende skryfwerk met my as studieleier by UK voltooi. Harde werker, goeie student, onpretensieus met ’n praktiese ingesteldheid oor die noodsaak van slyp en herskryf. Sy het uit die murg geskryf.”

Die digter Fanie Olivier is “stomgeslaan” oor haar dood. “Dis so ’n verskriklike verlies. So ’n lewenslustige en lewensblye mens. So produktief.”

Die skrywer Jeanette Ferreira, teksredakteur van verskeie uitgewers, sê: “Sy het ’n vreeslike mooi hart gehad en absoluut haar hande uitgesteek vir ander. Haar heengaan is hartseer, want sy het nog soveel gehad om te vertel.”

Truïse Prinsloo van NB-Uitgewers beskryf Barkhuizen-le Roux as ’n “dapper” en “deernisvolle” skrywer.

“Een van Afrikaans se veelsydigste,” sê Prinsloo.

“Christine het die gawe gehad om met dieselfde intensiteit en diepgang waarmee sy die lewe aangepak en ervaar het, ook haar karakters se wêrelde oop te skryf.”

Meer oor:  Christine Barkhuizen-Le Roux  |  Letterkunde  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.