Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Barnard gesels oor ‘Sweepslag’
Die jeugboekskrywer Annerle Barnard.

“Jou geld mag opraak, maar nie jou planne nie, met ander woorde, moet nooit opgee nie.”

Dié leuse wat in Annerle Barnard se debuutboek voorkom, pas sy ook in haar eie lewe toe.

Sweepslag was ’n ses jaar lange proses en dit nadat sy eers skoolgehou het en 13 jaar lank groot sukses in die korporatiewe wêreld behaal het. Tou opgooi was egter nie ’n keuse nie.

Daaroor en oor ’n skryfloopbaan wat sy eers later in haar lewe aangepak het, sal Barnard vandeesweek op die boekbekendstelling in Bloemfontein gesels.

Adèle Dempers, ’n onderwyseres aan die Hoër Meisieskool Oranje, is die gespreksleier.

Barnard sê sy het al op skool idees gekoester om eendag ’n skrywer te word, ’n “plan” wat diep binne haar lê en broei het totdat die regte geleentheid hom voorgedoen het.

Dat haar eerste boek vir die Sanlam-prys vir jeuglektuur benoem is, is natuurlik ’n veer in haar hoed en ’n mens sou dink dit het haar ná ses jaar se herhaaldelike oorskryf nuwe moed gegee.

“Nee,” sê sy, “passie, en nie pryse nie, maak ’n mens voortbeur. Hoe langer ek besig was met die storie, hoe belangriker het dit vir my geword.”

Sweepslag gaan oor die 15-jarige Paul wat sien hoe ’n moord gepleeg word en in die kloue van die einste boewe beland. Hy word saam met ander jong mense in ’n huis vol gruwels gevange gehou. Uitkomkans is daar nie, maar dinge raak so erg dat hy bereid is om sy lewe te waag om weg te kom.

“Die tema is die uiters aktuele en skrikwekkende werklikheid van mense- en dwelmhandel, kinderpornografie en moord. Dit stuur ’n duidelike boodskap dat niemand veilig is nie, veral nie wanneer hulle by dwelms en prostitusie betrokke is nie. Maar in Paul en Alicia se geval was hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Alicia het die eerste keer skool gebunk omdat sy ontsteld was oor iets wat gebeur het en Paul het heel onskuldig by die Vanderkloofdam gehengel.”

Barnard sê dit is bloot toevallig dat sy as jeugboekskrywer weggespring het.

“Ek was besig om ’n kortverhaal te skryf toe ’n radioberig oor twee meisies wat ’n saamrygeleentheid by ’n vreemdeling aanvaar my aandag trek. Hulle het die prooi van mensehandelaars geword.

“Ek het die onderwerp begin navors en besef hoe ’n groot invloed sosiale media in dié verband op die jeug het. Sowat 155 000 Suid-Afrikaners is in die kloue van moderne slawehandel en baie het in Bloemfontein onwetend daarin beland. Die stad is ’n mensehandelnes omdat dit so sentraal geleë is.”

Barnard het haar daarop toegelê om deur haar boeke bewusmaking vir die probleem te skep, want hoe beter die jeug ingelig is, hoe kleiner die gevaar om in die mensehandelstrik te trap, sê sy.

Dié skrywer is in Musina gebore, was in Wolmaransstad op skool en het haar korporatiewe werk laat vaar toe die gesin in 2009 na Bloemfontein verhuis het. Dit is toe dat sy besluit het dit is tyd om op haar “kernbelangstelling” te konsentreer.

Haar tweede jeugboek, Sindikaat, is intussen voltooi en ook vir die Sanlam-prys benoem. ’n Derde boek kort nog net ’n laaste deurlees en ’n vierde boek begin reeds vorm aanneem.

Sweepslag is gemik op 14- tot 18-jariges en is deur Tafelberg-uitgewers gepubliseer.

Barnard het ’n honneurs in Engelse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit verwerf. *Die boek word op 16 Mei om 18:00 vir 18:30 by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige en Navorsingsmuseum (Naln) in Bloemfontein bekend gestel.

Meer oor:  Annerle Barnard  |  Sweepslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.