Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Baudelaire maak van modder goud
’n Kunstenaarsvoorstelling van die Franse digter Baudelaire.

Baudelaire, die vader van die moderne vers, is vandag 150 jaar gelede oorlede. Eben Meiring huldig hom.

150 jaar gelede, op 31 Augustus 1867, sterf Charles Pierre Baudelaire. Hy is 46 en die digter van ’n dunnerige bundel, Les Fleurs du Mal, (Die blomme van kwaad). Dis op dié dat sy roem rus. Dis dié wat hom die grote onder sy eeu se sogenaamde poètes maudits – vervloekte digters – en die vader van die moderne vers gemaak het.

Tien jaar vroeër is hy en sy bundel aangekla van openbare aanstootlikheid en skuldig bevind, net ’n paar maande ná Flaubert en Madame Bovary. Baudelaire was gekneus en verbitter.

Baudelaire se lewe is beduiwel deur ’n bont sameloop van dinge: sy rebelse temperament, sy gehate stiefpa, sy chroniese skuldlas, sy Boheemse promiskuïteit, sy diep wrewel teenoor ’n bourgeois-onbegrip vir sy kuns, sy morbiede lewensverveling en manies-depressiewe bedruktheid – sy spleen – en sy berugte dwelmverslawing (sy “kunsmatige paradyse”).

Maar dis dieselfde Baudelaire wat “die romantiek verjong” (Flaubert) en tot die “Dante van ’n gevalle tyd” gegroei het (Barbey d’Aurevilly), die “eerste surrealis” was (André Breton) en die vakman van ’n eie “toorkuns”. Vir sy vyande was hy ’n “literêre dierasie”, ’n “immorele windmaker”, ’n versteurde.

Byna ’n eeu gelede skryf T.S. Eliot: “All first-rate poetry is occupied with morality: This is the lesson of Baudelaire. More than any poet of his time, Baudelaire was aware of what mattered: the problem of good and evil.”

Baudelaire het opgegroei tussen twee literêre bewegings, die Romantiek en die Parnasse se kuns-om-die-kuns-poësie. Hy kies toe ’n “derde weg” deur sy “ek” en sy mistieke verbeelding te versoen met sy klassieke sin vir vorm en sy lenige aleksandryn. Sy vers is ’n revolusionêre breuk met ’n estetiese verlede.

Die blomme van kwaad, wat soos ’n persoonlike hellevaart in ses stadia verloop (spleen, die grootstad, “kunsmatige paradyse”, sedeloosheid, Satan, die dood), is ’n verlenging van Baudelaire se eie dubbele natuur. Dié maak van sy hart, nee, sy hele menswees, ’n slagveld van teenoorgesteldes: gees/vlees, goed/kwaad, God/Satan. Getrou aan sy bundeltitel soek hy na ’n “skoonheid van kwaad”: “Of jy uit die hemel kom of uit die hel, wat traak dit . . .” Hy het geglo in ’n geestelike wêreld agter die materiële een, toeganklik via “woude van simbole” (soos in die gedig “Correspondances”), met, tussen hulle, sensoriese “correspondances” soos “geure . . . kleure . . . klanke”.

Die een pool van Baudelaire se tweeheid is sy spleen, met sy bestaansangs en walging en alleenheid: “En lang lykwaens ry, geluidloos, / langsaam deur my siel; Hoop, / verslane, ween, en Angs gruwelik, despoties, / plant op my geboë skedel sy swart vlag”.

Die ander pool hunker na verlore onskuld en reis metafisies na ’n droomparadys, een van sy “ontsnaproetes” wat hom moet bevry van sy spleen. In sy evokatiewe “Elevation” sing hy: “En drink, soos ’n suiwer, goddelike likeur, / Die helder vuur wat die klaar ruimtes vul”.

Vir Baudelaire, digter van die waad en verwording en taboes, is die vers self ’n verlossende daad. Hy is die towenaar met die woord wat van “modder . . . goud” maak, nes Breytenbach van “hondedrolle sterre”.

Meer oor:  Frankryk  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.