Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Begeertes van die gees en die vlees

In hul eiesoortige, parmantige saamskryfroman ‘Oor en weer’ trek Trisa Hugo en Analize Viljoen die gordyn weg en ontbloot die geheime en begeertes van twee onkonven- sionele vroue wat hul fantasieë uitleef, kanse waag, oorleef en die lewe vier, skryf Juliana Coetzer.

Oor en weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen. Uitgewer: Lapa. Prys: R250.

Toe die skrywers Trisa Hugo en Analize Viljoen, stigters van die boekewebwerf Boekemakranka, bekend maak hulle het sáám ’n debuutroman geskryf, het talle lesers die twee reeds geken. Van Trisa se kortverhale is in bloemlesings opgeneem en Analize het voorheen in die rolprentbedryf gewerk.

Die twee stap ook ’n pad as vriendinne wat mekaar se binnestes ken en verstaan. Gedurende ’n uitdagende tyd in 2019 het die twee ’n openhartige WhatsApp-gesprek gehad waarin die een die ander een wou opbeur met ’n uitdaging: “Skryf ’n storie hieroor en verander dit in ’n fiktiewe verhaal.” Analize skryf toe ’n kort stuk en Trisa antwoord met ’n gedeelte wat sy byvoeg, en so ontaard dit in ’n oor-en-weer-geskrywery – aanvanklik net kort stukke, soms slegs ’n sin of paragraaf. Kort voor lank ontvou ’n verhaal met vele intriges.

Wat spontaan begin het as ’n lighartige projek tussen twee vriendinne om mekaar op te bou gedurende ’n moeilike tyd, het uiteindelik ’n boek met die gepaste titel Oor en weer geword.

Dit gebeur nie so gereeld dat twee skrywers saam fiksie pleeg nie, maar in hierdie geval is die rolle sterk gedefinieer. Elke skrywer vertel die verhaal van een van die twee hoofkarakters, Manda en Billie, in haar eiesoortige stem. Die verhaal begin nadat Billie op 42 van haar man skei, verhuis en Manda se buurvrou word. Die twee ontmoet ná ’n onderonsie tussen hul troeteldiere en word gou vriende.

Twee meer uiteenlopende vroue kry jy nie. Manda is inkennig en verkies om op haar eie te wees in haar huis wat sy met die troetelkat Jasmyn deel. Billie is energiek en bereid om kanse te waag. Haar hond, Tequila, woon saam met haar.

Dis ’n boek vir oopkop mense.

Billie het ’n verhouding met ’n beeldskone Irakese vrou, Amani, wat sy op 'n werksprojek in Dubai ontmoet het en wat getroud is met Nasser, vir wie sy vrou sy belangrikste besitting is. Amani kan nie uit die huwelik ontsnap nie, maar vlug gereeld uit Dubai na Billie se arms. Billie se volwasse kinders uit haar huwelik is bewus van die ander vrou in hul ma se lewe.

Manda is weer in ’n gekompliseerde verhouding met Danie, wat sy seksuele fantasieë op haar uitoefen, maar tog ekstase in haar na vore bring. Maar wanneer hy die huis verlaat om na sy vrou terug te keer, laat hy haar met ’n gevoel van vernedering agter.

Met verloop van tyd verstrengel die twee vroue se lewe. Manda is die versorger en sien toe dat Billie gesond eet en help haar om inkopies te doen. Billie is die sterk een wat luister en by wie Manda volkome openlik kan wees en haar donker geheime deel: “Dit is die eerste keer wat ek ’n vriendin het wat nie heeltyd vir my preek nie en vir wie ek kan vertel van dinge. Wat my aanvaar soos wat ek is.” (bl. 223).

Wanneer Manda weens haar verslawing aan medikasie in ’n psigiatriese kliniek opgeneem word, word sy gedwing om haar verlede te konfronteer asook die rede waarom sy haar in ’n destruktiewe verhouding bevind.

Intussen kook die vriendinne ’n storm los – van beesstert tot Marokkaanse lemoenslaai. Hulle drink wyn, vererg hulle vir mekaar en vermy mekaar tot die noodlot ingryp en hulle weer sterker in hul vriendskap staan. Al die elemente van ’n tipiese vriendskap tussen vroue.

By die bekendstelling van Oor en weer is gesê dis ’n boek vir oopkop mense. Ek glo dit verwys na lesers wat aanvaar dat vroue seksuele wesens is met vleeslike begeertes. Hierdie twee skrywers trek die gordyn weg en ontbloot intimiteit tussen vriendinne. Dit beskryf ook die konflik wat binne ’n vrou ontstaan wanneer haar eie wellus en die seksuele verwagtinge van ’n man nie versoenbaar is nie. Al kan jy byvoorbeeld hier lees waarvoor ’n pouveer alles ingespan kan word, is dit nie ’n boek oor seks nie – die onderwerp is wel ’n gemaklike onderstroming.

Die boek is nie skraal nie. Ons lees ook oor verslawing, die waarde van psigoterapie, en leer nuwe resepte asook ’n nuwe woord: compersion (om plesier daaruit te kry wanneer jou geliefde ’n romantiese of seksuele verhouding met iemand anders aanknoop).

Vir my is dit ’n boek oor vriendskap en die spesiale band wat vroue met mekaar deel. Manda en Billie bied ’n blik op vroue se geheime en begeertes en hul individuele versugting na liefde. Die karakters is nie konvensionele vroue wat die skyn bewaar en perfek probeer leef nie. Hulle leef hul fantasieë uit, waag kanse, oorleef en vier die lewe. Hulle skep ’n tuiste en toevlug vir mekaar wanneer verhoudings nie uitwerk nie en die lewe onverwagte kinkels gooi.

Oor en weer is gutsy – een van daardie lékker boeke wat jy maar kan lees. (En ek hoor gelukkig ’n voël fluit die twee skrywers is besig met nog ’n gesamentlike projek.)

  • Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont. Haar topverkoperdebuut, Bloedvreemd, is onlangs herdruk en ’n opvolgboek, Die kind se naam is Anneke, verskyn aanstaande maand by Human & Rousseau.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.