Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Begin jonk as jy ’n leser wil grootmaak
Die skrywer Dianne Case se boeke word wyd in Suid-Afrikaanse skole gebruik en is in al 11 amptelike tale vertaal.

Die veelbekroonde kinderboekskrywer Dianne Case tree Vrydag op by die Franschhoekse letterkundefees. Deborah Steinmair het met haar gesels.

Die Kaapse kinderboekskrywer Dianne Case lyk soos iemand wat ’n prettige geheim bewaar: ’n geheim wat haar eindeloos amuseer.

Sy het drie kinders groot­gemaak terwyl sy heeltyds as boekhouer gewerk en huisgehou het. Vir ’n ekstra geldjie het sy vroeg opgestaan om stories vir die plaaslike koerant se kort­verhaalwedstryd te skryf. Sy het dikwels die eerste prys losgeslaan. Haar eerste roman, Love, David, het die Young Africa-prys gewen, is vertaal en in ­Europa ook gepubliseer. Die boek is nou in sy 13de druk, is in skole voorgeskryf en word verfilm. Sy het intussen meer as 20 jeugboeke geskryf.

Sy was die oudste van vier kinders. Haar ma het van kleins af vir hulle gelees. Hulle het in ’n ou, vervalle huis in Wynberg grootgeword, waar haar ma ­vandag nog woon, met honde en katte op die beddens, hoenders in ’n hok onder ’n groot moerbeiboom en boeke in elke vertrek. Sy onthou die groen biblioteekbus op Vrydae en die vreugde van ’n ongeleeste boek teen die bors.

Laat sak jou innerlike filter en stel jou gemoed wyd oop vir enige moontlikhede.

Sy is haastig op pad Franschhoek toe vir die letterkundefees. Ek het haar opgehou met ’n paar nuuskierige vrae en die volgende wys geword:

Ek wil weet hoe ’n mens dit regkry om uit ’n kind se perspektief te skryf, en sy laat dit bedrieglik maklik klink: “Laat sak jou innerlike filter en stel jou gemoed wyd oop vir enige moontlikhede. Sien die wêreld uit ’n kind se oog. Hulle is on­geveer tafelhoogte, so hul perspektief is heeltemal anders as grootmense s’n. Vir ’n kinderboekskrywer is kinders, jou eie of ander mense s’n, van groot hulp. Jy moet maar net jou ore spits vir wat hulle sê.” Haar boeke vind oraloor weerklank en sy reken kinders oor die wêreld heen is dieselfde; dit is net hul omstandighede wat verskil.

As ma en ouma weet sy hoe om kinders aan die lees te kry: “Begin jonk, verken prentjies, dan prentjies met woorde by. Kinders is versot op rym.”

Case was ook al fasiliteerder by die Pollsmoor-gevangenis in Tokai naby Kaapstad. “Ek het jare lank slypskole by die tronk aangebied. Heelwat mense, in hierdie geval gevangenes, word groot sonder die geleentheid om hulleself kreatief uit te druk. In die slypskole kon hulle oopmaak teenoor hulself en vrede vind.” Maar kan ’n mens ander mense leer skryf? wonder ek. “Jy kan hulle nie leer stories vertel nie, maar jy kan na hulle luister en hulle lei,” vertel sy.

Ek wil weet of sy kinderboeke lees, en watter haar gunstelinge is: “Ek lees dikwels vir my vierjarige kleindogters voor, meestal Dr. Seuss en Enid Blyton.”

Die besige, veelsydige skrywer het selfs al ’n uitgewery begin: “Ek het Kwagga Uitgewers uit frustrasie begin en het redelik sukses behaal. Maar die bemarking en verspreiding was ’n bietjie te veeleisend. Ek verkies om boeke te skryf.”

Maar waar op aarde kry sy tyd om te skryf? “Ek skryf wanneer ek moet, so daar is geen struktuur nie, mense moet my net asseblief uitlos – dis moeilik om reg te kry deur die dag, want my huis is al beskryf as De Aar-stasie.”

  • Verwysing: http://bookslive.co.za/blog/2012/09/11/dianne-case-the-home-of-magic-elves-and-talking-animals/
  • Case neem vandag om 11:00 deel aan die gesprek Have You Got a Reading Habit? Haar jongste roman, The Rules, speel af in Manenberg en word later vanjaar gepubliseer.

Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Lesers  |  Love  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.