Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Behoorlik hoog tyd vir die storie van die kruid

Niefiksie

. . . en daar was dagga - ’n biografie

Heinz Mödler

NALEDI, R285

Ewe skielik is dagga op almal se lippe.

Met dié dat dagga-verwante produkte nou skielik oral beskikbaar is, en die private gebruik van dagga – nie slegs vir medisinale redes nie, maar ook vir ontspanning – ewe skielik nie meer so weird of so absoluut onwettig in Suid-Afrika is nie, is dit dalk juis nou tyd om behoorlik bestekopname te doen en onsself af te vra: Wat presies is hier besig om te gebeur? Is dit ’n goeie of ’n slegte ding?

Juis om hierdie redes is Heinz Mödler se boek absoluut die regte ding op die regte tyd. Om die waarheid te sê, dit is letterlik hoog tyd dat daar so ’n boek verskyn; ’n dokument wat baie doen om al die hoorsê en mites omtrent hierdie kruid af te breek en te demistifiseer.

Mödler noem sy boek ’n “biografie”. Daarmee wil hy sê dat hy ook ’n historiese perspektief op die marijuana-plant en sy gebruike deur die eeue bied. “In die begin was daar dagga. En toe kom die mens.” Ons leer waar en wanneer dit sedert die vroegste tye gebruik is, waarom dit mettertyd ’n stigma verkry en onwettig geword het, en hoe die pendulum geswaai het sodat hierdie plant nou eindelik sy regmatige plek kan inneem in diens van die mensdom.

. . . en daar was dagga is ’n deeglik nagevorste, intieme blik op sowel die voor- en nadele van verskillende vorme van dagga-gebruik, die positiewe bydrae wat dit maak tot die samelewing, asook die gevare. Die boek, hoewel vir die leek plek-plek effens moeilik om te lees weens die geweldige tegniese aard daarvan en al die chemiese verwysings en molekulêre diagramme, word gered deur ’n gesonde dosis humor en deur die opnoem van praktiese voorbeelde.

Die illustrasies by elke hoofstuk deur Karen Cronjé is treffend, en die talle aanhalings en menings wat aangebied word deur bekendes – selfs swaargewigte soos Carl Sagan! – help om die onderwerp in ’n kulturele en selfs literêre raamwerk te plaas.

Korliks: met die dekriminalisering van dagga betree ons ’n nuwe fase in ons land wat groot implikasies inhou vir ons ekonomie, ons sosiale omgang, en ons algemene opvattings oor wat presies cannabis is. Vir die eerste keer sedert die era van die hippies word die “hoog-word-effek” minder belangrik, en herontdek ons die talle medisinale gebruike, om nie te praat van die maak van kledingstukke nie.

Die lys siektes en afwykings waarvoor daar reeds bewyse bestaan dat dagga werklik kan help wat in hoofstuk 12 opgenoem word, is verstommend: Dit is al suksesvol aangewend vir die genesing van onder meer veelvuldige sklerose, pyn, swak nagvisie, gloukoom, slaaploosheid, Tourette-sindroom, Alzheimer se siekte, Parkinson se siekte, traumatiese hoofbeserings en chroniese inflammasie van die dermkanaal.

In hoofstuk 4 verskaf Mödler ook ’n lang lys van al die chemiese stowwe wat in dagga aanwesig is, en die nut van elkeen, van fitokannabinoïde tot Delta-9-tetrahidrokannabinol (THC). Dit blyk dat laasgenoemde – die bestanddeel wat maak dat jy geswaai raak ná die rook van zol – slegs een klein en relatief onbelangrike onderafdeling is.

Dit was vir my ná die lees van die boek duidelik dat die manier hoe ek en my vriende in die ou tyd met dagga omgegaan het, ’n bra stupid affêre was.

Dit was vir my ná die lees van hierdie boek duidelik dat die manier hoe ek en my vriende in die ou tyd met dagga omgegaan het, ’n bra stupid en een-dimensionele affêre was. Ons het gefokus op die een, waarskynlik mees onbenullige funksie van die plant – die “mind-altering”-faset – sonder om ons hoegenaamd te steur aan al die talle ander voordele wat cannabis die mens kan bied.

In retrospek, as ek ’n persoonlike anekdote mag invoeg, het ek self die aanvanklike plesier van “hoog-raak” ontgroei; ná al die jare waarin ek myself geleer het om sonder enige hulpmiddels te mediteer en te bid, bied dagga my nie meer die koestering wat ek destyds ervaar het nie, en is dit eerder ’n hindernis tot ware kreatiwiteit en sielkundige insig. Maar natuurlik is dit slegs een persoon se ervaring op ’n sekere lewensfase. In die heel laaste hoofstuk maak die skrywer self vir die eerste keer oop oor sy eie geskiedenis met die kruid:

Mödler se dagga-“biografie” is egter veel meer as slegs ’n ophemeling van dagga.

“Dagga het . . . vir my ’n ou en bekende vriend geword wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. Ek gebruik kannabis rekreasioneel omdat dit my fisiologies ontspan, en weinig tot geen nadele inhou.”

Hierdie perspektief is vir my histories.

Mödler se dagga-“biografie” is egter veel meer as slegs ’n ophemeling van dagga. Dit is propvol waarskuwings oor die potensiële verslawende – of dan ten minste gewoontevormende – aspekte van oormatige gebruik, die werklike gevare wat dit vir jong tieners inhou wat te vroeg daarmee begin voordat hul breine ontwikkel is om dit te hanteer, en hy wy ook baie aandag aan die voor- en nadele van kommersiële verkoop van dagga-produkte.

As ek een ding kan uitlig wat ek mis in sy boek, is dit die feit dat Mödler niks sê oor die potensiële stryd tussen kleinboere wat al lank­al dagga kweek vir onwettige gebruik en al die nuwe rolspelers wat skielik op die toneel verskyn nie; dit is ’n konflik wat eers onlangs uitgelig is in persberigte, en die skrywer was dalk nog nie bewus van die probleem tydens die skryf van sy boek nie.

Ná die lees van … en daar was dagga kom ’n mens wel deeglik onder die indruk van hoeveel navorsing nog gedoen moet word, tot watter mate ons sal moet besin oor die betrokkenheid van farmaseutiese maatskappye en beter regulering, die gevaar van uitbuiting en vals advertering, en talle ander areas wat tans nog onduidelik is.

Heinz Mödler se dagga-storie is wel hoog tyd, en beslis die regte ding op die regte tyd. Maar dis beslis slegs die opening-salvo van ’n debat en ’n proses van sinmaak, ondersoek en bewusmaking waarmee ons nog ’n lang pad moet loop.

Koos Kombuis is ’n sanger en skrywer van Somerset-Wes.

Meer oor:  Heinz Mödler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.