Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bekendes lees van Anne Frank tot Bukowski in inperking

Midde die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie moet mense tuisbly, maar hulle het baie tyd om te lees. AJ Opperman het ’n paar mense gevra watter boeke hulle lees.

Wat mense in die staat van inperking lees
Lina Spies Foto: Natalie Gabriels

Die digter Lina Spies dink sedert die staat van inperking dikwels aan die jong Jodin Anne Frank wat in die Tweede Wêreldoorlog weggekruip het.

Spies het Frank se bekende dagboek in Afrikaans as Die Agterhuis vertaal en haar gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” is haar heel eerste gedig wat die digter D.J. Opperman aanvaar het.

Daarom is die boek De kamergenoot van Anne Frank, ’n Nederlandse boek deur Nanda van der Zee, op haar leeslys.

“Dit is ’n vanselfsprekende keuse omdat Anne en haar mede-Agterhuisers se afsondering in vergelyking met ons s’n absoluut was en nie met ons tydelike inperking vergelyk kan word nie,” sê Spies.

“Anne se afsondering is geïntensiveer deur die abnormale situasie dat sy en Fritz Pfeffer, ’n tandarts, ’n kamer moes deel.”

Spies verstaan nou meer van hierdie afsondering.

“Maar dit was sonder die vermoë om te kon uitgaan – agt mense toegesluit in ’n agterhuis.”

Spies lees egter eers die biografie Lives Like Loaded Guns: Emily Dickinson and her Family Feuds deur Lyndall Gordon, want sy skryf ’n artikel oor dié Amerikaanse digter wat in die 1800’s dood is.

“Emily Dickinson het uit eie keuse ’n afgesonderde lewe gelei en ek het juis ’n gedig met haar oor dié tema geskryf.”

Spies lees ook The Plague (La Peste) van Albert Camus. “Dit is vir my ’n vanselfsprekende keuse tydens die pandemie.”

Ingrid Winterbach

Die skrywer Ingrid Winterbach het onlangs Saul Bellow se roman More Die of Heartbreak vir die derde keer gelees.

“En ewe veel geniet,” sê Winterbach. “Briljant! Ook Emma van Jane Austen.”

Winterbach het onlangs ’n lys van die webblad Literary Hub se tien bes vertaalde romans van die afgelope dekade ontdek.

“Ek weet nie hoe betroubaar hierdie site is nie, maar die titels lyk interessant en Visitation van Jenny Erpenbeck was indrukwekkend. Ek is nou besig met Frankenstein in Baghdad van Ahmed Saadawi. Voorts lees ek Jeffrey Meyers se biografie oor Samuel Johnson, Samuel Johnson: The Struggle (’n briljante, geteisterde, meer as lewensgroot figuur). Wanneer ek smiddae skilder, luister ek na ’n oudioboekvoorlesing van Dubliners van James Joyce. Prágtig.”

Wat mense lees
Elzabé Zietsman Foto: Johan Prinsloo

Die sangeres Elzabé Zietsman lees verskillende boeke in verskillende vertrekke in haar huis.

“Ek het die nuwe een van Marian Keyes, Grown Ups,” sê Zietsman.

“Dit lê in my klein sitkamertjie. Dis chick-lit, maar daar is ’n geweldige intelligensie en ’n baie mooi skryfstyl,” sê sy terwyl sy verder deur haar huis loop om seker te maak watter boeke is waar.

“Kate Atkinson se roman Transcription lê langs die bad en in die kombuis het ek Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden. En doen vrek baie sudoku. Ek het met die Woordfees twee boeke daarvan op die lughawe gekoop. Dit behoort my ’n lang ruk besig te hou.”

Chris van Niekerk

Die akteur Chris van Niekerk, wat in Netwerk24 se luisterdrama, Sê maar so long, te hoor is, lees Jan Rabie se reisboek Klipwieg.

“Ek lees D.J. Opperman se Sonklong oor Afrika – dis ’n heerlike boek op my rak.”

Van Niekerk het onlangs van Rosendal na Wellington verhuis en hy het nog nie al sy boeke in sy nuwe blyplek nie.

“Baie daarvan is nog in ’n stoor in die Vrystaat. Maar hier het ek ’n klomp kunsboeke, sowat 140 – van Picasso tot Henry Moore. Ek lees ook aan twee stories wat ek dink goeie radiodramas sal maak,” sê Van Niekerk, terwyl hy voor sy boekrak staan.

“Ek lees graag digbundels. Dit maak dinge vir jou helder, die ritmes . . . dis wonderlike goed. En toevallig het ek onlangs Bill Bryson se At Home: A Short History of Private Life gelees. En nou bly ons almal by die huis. Ek waardeer die stilte en kyk hoe mooi die wêreld lyk.”

Lynthia Julius

Die digter Lynthia Julius, wie se debuutdigbundel, Uit die kroes, eersdaags verskyn, lees die werk van twee buitelandse digters, Charles Bukowski en Zbigniew Herbert.

“Herbert s’n lê nou op my bedkassie,” sê Julius. “Ek lees hulle. Herlees hulle. Vat ’n pouse vir woorde wat te diep slaan. Sit hulle neer en staar na die dak, sit soms en kyk voor my met die boek oop op my skoot. Die gedig wat my die afgelope tyd nie kan uitlos nie, is Bukowski se “Bluebird”.’

André Schwartz

Die sanger André Schwartz hou daarvan om twee boeke op een slag te lees.

“Ek het sopas begin met Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden. Ek het op universiteit in ’n kabaret van Etienne, Ekskuus vir die wals, opgetree. He’s quite a novelist.”

Hy lees ook Undercover with Mandela’s Spies: The Story of the Boy Who Crossed the Square deur Bradley Steyn en Mark Fine.

Schwartz het onlangs Marita van der Vyver se jongste roman, Grensgeval, klaar gelees.

“Dis ’n lekker blik op die Grensloorlog. Ons ken hierdie storie, maar sy verleen ’n Kubaanse hoek daaraan. Dis ’n ander spin op die storie.”

Wat mense lees
Natasha Sutherland Foto: Adele Moolman

Die aktrise Natasha Sutherland, wat nou in die eenvroustuk Shirley Valentine in Johannesburg sou optree, het ook ’n stapel boeke.

“Ek lees verskillendes: Outsiders deur Lyndall Gordon, Heroes: Mortals and Monsters, Quests and Adventures deur Stephen Fry, Gotcha deur Silke Kaiser en Release the Bats: Writing Your Way Out of It deur DBC Pierre.”

André Swiegers

Die sanger André Swiegers hou van biografieë sowel as outobiografieë.

“Ek lees nou Sapiens: A Brief History of Humankind deur Yuval Noah Harari. Ek hou van boeke met iets om die lyf.”

Wat mense lees
Paul Slabolepszy Foto: Denzil Maregele

Die dramaturg en akteur Paul Slabolepszy lees Robert McBride se boek The Struggle Continues.

“Dis ’n briljante boek. Ek doen dit tussendeur my eie skryfwerk, asook die finale skaaf aan my toneelstuk, Borderline, waarvan repetisies teen hierdie tyd sou plaasvind. Ek hou ook baie van biografieë.”

Wat mense lees
Pieter-Dirk Uys Foto: Peter Abrahams

Die satirikus en dramaturg Pieter-Dirk Uys deel ’n lang lys biografieë.

“Die 21 dae van niks beplan, beteken alles kan gedoen word wat voorheen moes wag.”

Hy lees oor die Britse dramaturg Alan Bennett, ’n biografie en sy dagboeke van 1980 tot 2012.

“En die Noël Coward Diaries – en as hy skryf van ’n lied wat gekomponeer is of ’n drama wat geskryf is, luister ek na die CD en lees ek die teks, want dis alles in my boekrak. As hy skryf van iemand interessant, vind ek die details op Google.”

Sy leeslys bestaan verder uit Steven Bach se biografie Marlene Dietrich: Life and Legend oor die Duits-Amerikaanse sangeres en Stephen Sondheim se twee outobiografiese boeke oor al sy teaterwerk, sowel as Rainbow’s End: The Judy Garland Show deur Coyne Steven Sanders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.