Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bekendes onthuts oor ‘rassistiese boek’
Die boek Rainbow Nation Navigation wat selfs bekendes warm onder die kraag het. Foto: Facebook

Verskeie bekendes is warm onder die kraag oor die gebruik van hul name in die boek Rainbow Nation Navigation wat groot ontevredenheid op sosiale media veroorsaak het.

Die boek, uitgegee deur Logogog waarvan Paula Marais die uitgewer is, is sewe jaar gelede gepubliseer.

Dit is die naweek op Twitter gelaai, waarna mense uitgevaar het teen die “rassistiese en stereotipiese” manier waarop die bruin gemeenskap uitgebeeld word.

Een omstrede hoofstuk noem bekendes soos Chester Williams, Breyton Paulse, Bryan Habana, Abdullah Ibrahim, Marc Lottering en Trevor Manuel.

Williams sê hy het nie geweet van die boek nie.

“Dit is nie regverdig dat sy ons name gebruik het nie. Ek praat nooit van mense op grond van hul velkleur nie, want dit is waar rassisme begin. In ons diverse land is dit die laaste ding wat ons nodig het.” Hy meen stappe moet gedoen word om die skade wat so ’n boek aanrig, te herstel.

Paulse sê hy gaan nie sy tyd mors om die boek te koop nie, maar dit wat hy daarvan gehoor het, is genoeg om hom te ontstel.

“Ons lewe in ’n diverse land en om mense te klassifiseer is onaanvaarbaar. Sy het duidelik nie haar feite reg oor wat dit is om ’n bruin mens te wees nie,” sê hy.

Marc Lottering sê toe hy die uittreksel op Twitter sien, het hy gedink dit is ’n grap.

“Ek het gedink dit is ’n vroeë 1 April-grap. Ek kon nie glo dat ’n volwasse vrou in 2010 so ’n boek kon publiseer nie.” Die feit dat sy, ’n wit vrou, die neerhalende woord “gam” gebruik, laat druk en verkoop het, gaan die verstand te bowe.

“Dit verdeel ons. Mense wat nie die sensitiwiteit van die saak verstaan nie, is nie aan die ontvangkant en ervaar nie die seer wat daarmee gepaard gaan nie. Almal het aanvanklik hul eie idees van mekaar, maar wanneer mense na my shows kom kyk, kry ek dikwels dié terugvoering: ‘Marc, jy’t ons so lekker laat lag . . . ons is almal so eenders.’ Dit is die rigting waarin ons land moet beweeg en ’n boek soos dié vat ons tien treë terug.”

Koning Koebaha Cornelius III, hoof van die Khoisan-mense, en sy vrou, Jeanette Arrison, sê die hoofstuk oor die Khoisan-mense is ’n klap in die gesig.

“Sy sê feitlik dat ons nie meer bestaan nie. Woon die vrou in Suid-Afrika? Ons is sedert die koms van Jan van Riebeeck van ons ware herkoms beroof en hier doen sy dit weer. Iemand moet haar vasvat en maan om op te hou met die valse inligting wat op naamskending neerkom,” sê Koebaha.

Sy skryf onder meer die Khoisan is baie skaars, hulle woon in hutte met grasdakke en het meer as een vrou.

Logogog het die bruin gemeenskap uitgenooi om hul siening met die uitgewer te deel, waarna die hoofstuk herskryf sal word.

Oor bruin mense:

Sy verwys na laerklas- bruin mense as “gam”.

Volgens die boek sit hulle op die hoeke van die strate en is heeldag ledig. Hulle is diegene wat hul voortande uittrek en hul lywe met tatoeëermerke bedek.

Ouer generasies word gereeld in pantoffels gesien. Sommige gaan ’n bietjie verder en dra hul slaapklere en japonne tot laat in die dag.

“Awe, ma se kind” is ook luidens die boek hoe ouers hul kinders groet.

Oor Afrikaners:

Dié mense kom volgens die hoofstuk hoofsaaklik in die Vrystaat en die Kaapse platteland voor.

Hul huise is in Toskaanse boustyle en soms leef Afrikaners steeds hul “pionierslewe” uit met jagtrofeë en dierevelle wat in hul huise uitgestal word.

Afrikaners se bejaarde ouers speel nie ’n groot rol in hul lewe nie, en hulle besoek hul ouers slegs vir ’n kort rukkie in ouetehuise.

Die Afrikaner se tradisionele gunstelingkos sluit kaiings in. Die wenk aan mense wat Afrikaners wil ontmoet, is om na ’n rugbywedstryd op Loftus Versfeld te gaan kyk, of ’n “dansklas naby jou te soek wat lesse in langarm of sokkie aanbied”.

Meer oor:  Chester Williams  |  Bryan Habana  |  Trevor Manuel  |  Marc Lottering  |  Breyton Paulse  |  Boek  |  Name
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.