Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bekker kyk in bundel kortverhale na dít onder vel

Die digter Emma Bekker se debuutkortverhaalbundel, Vel, wat onlangs uitgereik is, bestaan nie uit “goedvoel-stories” nie. Maar ongeag of lesers daarvan hou of nie, haar grootste vrees is dat dit lesers lou sal laat. Sy het met AJ Opperman gesels.

Emma Bekker glo haar debuutkortverhaalbundel, Vel, kan lesers dalk verdeel.

“Ek is nogal ’n skrywer wat teen die gewilde sentiment inwerk. Dis nie feel-good-stories wat inspeel op mense se verwagtinge nie. Dit speel juis in op die onsentimentele wonderwerk eerder as die feel-good-uitkoms.”

Emma Bekker

Die bundel bevat stories oor randfigure, maar sy wou nie ’n bundel oor slagoffers skryf nie.

Dit sluit in verhale oor ’n porno-ster se hartseer oor sy ma se dood, ’n minister wat gaan vir ’n massering en die sekslewe van twee gestremdes.

Bekker meen in Suid-Afrika val die fokus te veel op groot epiese verhale oor versoening en trauma.

Soveel so dat ’n mens nie die waarde van klein subtiele verskuiwings opmerk nie. “Ek stel baie meer daarin belang, want daardie verskuiwings het regtig integriteit. Dis hierdie verskuiwings wat toelaat dat elkeen die skuif teen hul eie pas maak, dat hulle nie meegesleur word deur ’n opinie nie.”

Sy hoop die verhale sal ander perspektiewe aan lesers bied.

“Dis daai goed wat deur die vel bedek word – van versoening, en ons is almal gelyk en dit is deel van die organe wat hierdie land dryf. Maar die meeste van ons kan nie verby die vel sien nie.”

Dit is stories wat sy “oorvertel.

“En die lyn van die vel sluit aan by die motto in die boek, wat gaan daaroor dat die vel die ding is wat oor ’n hele verborge wêreld trek. Dis die membraan wat ons het tussen ons en die wêreld en tussen ons innerlike self.”

En dit is waar ek werklik geleer het watter moontlikhede bestaan om oor ongemaklike goed soos kleur te praat sonder dat dit so politiek korrek raak dat dit onmenslik word.

Dit is stories wat sy oor ’n lang tydperk op verskillende plekke teëgekom het.

Die stories het baiekeer weer ’n nuwe vel gekry. Stories wat weer vertel is.

“Ek weet as ’n skrywer is ek iemand wat mense nogal kan polariseer. Ek skryf nie vir ’n grys middel nie. Jy gaan óf daarvan hou óf nie. Dit gaan jou hopelik nie lou laat nie. Dis die ding wat my die meeste bekommer.”

Bekker, wie se debuutdigbundel, Skryn, in 2015 uitgereik is, beskryf haarself as ’n “oorverteller” eerder as ’n verteller.

Sy werk elke dag met mense, wat lei tot die aanhoor van baie stories.

“Ek klim in ander velle as ’n storieverteller in. Ek weet ek kan dialoog skryf. Realistiese dialoog.”

Die verhaal “Die braai” spruit uit haar ontmoeting met Nkosinathi Biko, seun van die ontslape vryheidsvegter Steve Biko.

“Ek het ’n verband geskep met die Faku-karakter en ’n parallelle geskiedkundige paradigma uitgedink. Ek wou nie hê die naam Biko moet in die middel van hierdie storie staan nie. Dit is versinde omstandighede rondom ’n werklike konneksie wat gemaak is.”

Sy het Biko in die laat 1990’s ontmoet toe sy ’n televisieteksskrywer en -regisseur was.

“Vir my, wat op die platteland grootgeword en in ’n konserwatiewe milieu nog altyd links geneig het, was dít ’n verruiming van my eie wêreld.

“En dit is waar ek werklik geleer het watter moontlikhede bestaan om oor ongemaklike goed soos kleur te praat sonder dat dit so politiek korrek raak dat dit onmenslik word.”

‘Vel’, die digter Emma Bekker se debuutkortverhaalbundel.

Sy het besef sy en haar Basotho- en Pedi-kollegas het meer gemeen as haar Engelse kollegas.

“Want ons het ’n baie groot fokus op familie gehad. Opvoeding. Familiebyeenkomste met kos.”

Dit was gedurende dié tyd dat Biko aan ’n dokumentêr oor sy pa gewerk het.

Bekker het eers nie besef hy is die vryheidsvegter se seun nie.

“Hy het aandag aan my twee seuntjies dié aand gegee. Ek het hom gevra of hierdie dokumentêr nie vir hom swaar is om te maak nie. Toe vra ek hom wat is sy van.

"En hy sê Biko. Ek vra 'as in . . .' En hy antwoord: ‘As in the first born.’ Ons het nogal ’n vinnige gesprek gehad oor hoe hy grootgeword het.

“Hier is hierdie man en die grootste deel van sy mededoë in hierdie gesprek lê by my kinders.”

Ek dink dis ’n opwindende tyd om publiseer. Daar is ’n baie meer oordeelkundige lesersmark, en dit is baie meer gesofistikeerd as ’n paar jaar gelede.

Bekker is in Pretoria gebore en het in Zimbabwe, Newcastle en Standerton grootgeword.

As gr. 10-leerling op Standerton het sy verlief geraak op die werk van ’n man wat later haar skoonpa sou word: die digter en skrywer Pirow Bekker.

Gedurende daardie tyd het haar pa op die tydskrif De Kat ingeteken.

Dié tydskrif het ’n kortverhaalkompetisie gehad waarin Bekker die verhaal “Die invloed” (deur Pirow Bekker) gelees het en sy het vir haar ma (haar vroegste literêre gespreksgenoot) gesê dié verhaal moet wen.

Hoewel dit nie gewen het nie, het Bekker gedink sy sal graag hierdie man wil ontmoet – min wetende dat sy op universiteit sy seun sou ontmoet.

Sy en Albertus het drie kinders.

“Ek het in ’n familie ingetrou waar daar ’n behoefte was om die vaandel oor te gee, maar nie een van die kinders stel belang nie, maar ek as skoondogter kan.

“Ek is baie lief vir my skoonpa. Hy gee ook sy manuskripte vir ons. Dis ’n wedersydse uitruiling van menings. Ek dink dis baie gesond.

“Dit maak ’n mens meer objektief oor jou eie werk. Dit maak jou ook baie meer bestand teen kritiek.”

Die verhaal “Bokhaar” het oorspronklik in die kortverhaalbundel Hartlam verskyn en is as die beste verhaal in die bundel aangewys.

Die verhale “Blomme”, “Die minister” en “Sienkomklaar” het voorheen in Woordfees-bundels verskyn.

“Hierdie insluiting is ’n goeie steekproef om te sien hoe sensitief jy is vir wat aangaan in die res van die wêreld. It is a way of putting yourself out there and testing the waters.

Emma Bekker hoop nie haar debuutkortverhaalbundel sal lesers lou laat nie.

“Dis baie moeilik as jy werk aan ’n kortverhaalbundel.

"As jy oor jou eie roman en karakters moet praat, is dit soos ’n huwelik. Jy trou met die karakters. ’n Kortverhaalbundel soos dié is 15 ingrypende vakansieromanses waar jy so in daai oomblik was vir die tyd en toe is dit verby, en dan moet jy weer jou kop regkry en aangaan.”

Sy sê die bundel bevat “darem” ook snaakse stories en indien lesers nie die humor daarin sien nie, sal ’n satiriese inslag hulle hopelik opval.

Satire gebruik sy al sedert die dae dat sy kabarette vir die sangeres Elzabé Zietsman geskryf het. Sy was self as student aan die Universiteit van Pretoria (UP) ’n lid van ’n kabaretgroep.

“Ek dink dis ’n opwindende tyd om publiseer. Daar is ’n baie meer oordeelkundige lesersmark, en dit is baie meer gesofistikeerd as ’n paar jaar gelede. Dit is verfrissend dat daar nou ’n oopskryf van nuwe wêrelde is. En op die ou end is daar vir elke stem ’n mark.”

Vel word deur Protea uitgegee en kos R200.

Meer oor:  Emma Bekker  |  Vel  |  Boeke  |  Skrywers  |  Debuutkortverhaalbundel  |  Kortverhale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.