Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bekroonde Petra Müller: Vlymskerp, maar ‘sonder airs’
Die Hertzogprys-bekroonde digter en skrywer Petra Müller, wat Vrydagoggend oorlede is.

Sy was gewis haar Overbergse voorgangers M.E.R., Con de Villiers, Susanne van Rensburg en Audrey Blignault waardig.

So sê die boekjoernalis Amanda Botha oor die skrywer en digter Petra Müller, wat Vrydagoggend op 85 in Kaapstad oorlede is.

Haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde het onder meer gelê in haar “vlymskerp insig en intuïsie”.

“Sy kon talent dadelik onderskei en het ’n onmiddellike aanvoeling gehad vir ‘die regte titel’,” vertel Botha.

“Sy het ’n insig en aanvoeling gehad wat deur skrywers en lesers vertrou is. As digter het sy gewoeker om die raak woord te vind en in haar kortverhale het sy met haar Overbergse agtergrond haar karakters geken en ingeklee in die idioom van haar eie wêreld.”

Müller was haar skryfma, sê die bekroonde kortverhaalskrywer Rachelle Greeff.

Müller het haar aangemoedig met klein, handgeskrewe briefies wat na haar huis in Nuweland gepos is voordat haar debuutbundel, Die rugkant van die bruid, in 1991 verskyn het.

“Sy was so entoesiasties oor ’n mens se werk, maar sy het ’n ding by die naam genoem en het nie nonsens gepraat nie,” vertel Greeff.

“Sy het geen airs gehad nie. Sy was ’n gewone mens van die aarde wat vir jou tee gemaak het en vertel het hoe om haar lekker sop te maak. Sy het nie Foucault of so aangehaal nie, maar sy was ontsaglik belese en slim.”

Müller het ’n unieke eie styl gehad, vertel die ouduitgewer Annari van der Merwe.

“By Tafelberg-Uitgewers het ek altyd met verwondering haar briewe aan skrywers, wat manuskripte voorgelê het, gelees. Sy het die saak ver gaan haal, die voorlegging eers in ’n literêre konteks geplaas, dikwels die skryfwerk vergelyk met indrukwekkende groot name, plaaslik of internasionaal. Sodat wanneer sy by die slegte nuus kom dat die manuskrip helaas nie vir publikasie aanvaar kan word nie, was die skrywer waarskynlik so ingenome met die konteks waarin dit beoordeel is en die sagte manier waarop die verwerping oorgedra is, dat dit meestal as bemoediging ervaar is.”

Greeff was in 2007 die redakteur van Desembers, ’n versamelbundel van Müller se kortverhale. Müller het Greeff versoek om die redakteur te wees.

“Sy was ’n goeie digter sowel as kortverhaalskrywer. Sy het my geleer van die waarde van die lees van poësie vir ’n kortverhaalskrywer.”

Müller se digbundel Die aandag van jou oë, wat deur die ontslape skrywer André P. Brink beskryf is as een van die grootste digbundels in Afrikaans, het in 2005 aan haar die Hertzogprys vir poësie besorg. Haar bundel Om die gedagte van geel wen in 2013 die ATKV-poësieprys en die Suid-Afrikaanse literêre prys vir poësie. In 2016 is sy by die KKNK met ’n Afrikaans Onbeperk-prys vir haar lewensbydrae vereer. Sy het in 1980 ook die Eugène Marais-prys ontvang vir haar tweede digbundel, Patria.

Sy was die eggenoot van Wilhelm Grütter, eertydse kunsredakteur van Die Burger, wat in 2001 aan kanker dood is. Sy het ook drie jaar lank as joernalis by die koerant gewerk, voordat sy tuis gebly het om hul drie seuns groot te maak. Sy het ook as verhaleredakteur van die vrouetydskrif Sarie gewerk en sy was by Tafelberg-Uitgewers werksaam, waar sy keuring gedoen en veral met die ontwikkeling van jong skrywers gewerk het.

Sedert 1989 het sy heeltyds geskryf. Sy het onder haar nooiensvan as Petra Müller geskryf, asook onder haar getroude van.

Haar werk is in verskeie versamelbundels opgeneem en sy het ook kinderboeke geskryf. Haar gedigte is onder meer in Frans, Nederlands en Russies vertaal en dit word ook getoonset, onder andere deur Lize Beekman, wat “Die aandag van jou oë” opgeneem het vir haar album Draadkar oor die see.

Müller is as Petronella Helena Müller op 27 Julie 1935 op Botrivier gebore. As kind het sy ook op Swellendam gewoon.

Sy word deur haar drie seuns, Herman, Anton en Philip, en hul gesinne oorleef. Sy sou op 27 Julie 86 geword het.

Meer oor:  Petra Müller  |  Digkuns  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.