Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Beleë Bloemhof tref kol met ‘Doodskoot’

Doodskoot

Francois Bloemhof

PENGUIN, R180

Francois Bloemhof

As skrywer is Francois Bloemhof se hakskene stewig ingegrawe. Hy het, benewens sy vele literêre pryse, ook grense geskuif deur onder meer ’n boek met ’n rekenaarspeletjie uit te gee. Ook, hy is veelsydig en skryf nie net vir volwassenes nie, maar ook jeug- en selfs kinderboeke.

Bloemhof se Doodskoot is sy 24ste roman vir volwasse lesers. Dit is dus ’n gesoute skrywershand waarmee ons hier te doen het.

Doodskoot begin op geheimsinnige wyse met die swerwende Paul Matthee (34) wat van Wellington te voet en sonder enige bestemming die pad vat. Dit word vinnig duidelik dat hy probeer wegkom van ’n voorval wat in Pretoria plaasgevind het, maar dit is ’n raaisel vir die leser.

Terwyl hy stap, kruis sy pad met dié van die skatryk Bernard Ackerman en dié se chauffeur, Johnny. Hy help hulle om ’n pap band om te ruil en Bernard nooi hom sommer om in sy huis te oornag.

Só beland Paul op Welverdiend, Bernard se Bolandse plaas naby Riebeek-Kasteel, waar hy te doen kry met die ander karakters in Doodskoot: Mary, die pligsgetroue maar streng huisbestuurder; Lani, Bernard se jong dogter; en Michelle, Bernard se vriendin, wat dadelik Paul se oog vang danksy haar sensualiteit.

Trouens, die eerste 150 bladsye of so word grootliks toegewy aan Paul se begeerte vir Michelle, hul abrupte hofmakery en die uiteindelike, onafwendbare sekskapades.

Die leser leer ook vir Lani ’n bietjie beter ken. Sy vertel vir Paul hoe haar ma in die einste herehuis selfmoord gepleeg het. Ook hoe Bernard – wat in ’n rolstoel is – drie maande tevore verlam is.

Belangriker, Paul bieg teenoor Michelle wat in Pretoria gebeur het en waarom hy weggehardloop het. Die traumatiese voorval het hom diep geraak, en sporadiese, kriptiese verwysings vroeër in die boek maak skielik meer sin.

Dan is daar ’n wending: Lani word ontvoer en ’n losprys word geëis. Maar wie sal so iets doen? Is die gehemsinnige Ernesto

Rodrigo – een van Bernard se sakekennisse – daarby betrokke? Dit verg kopkrap om te probeer uitpluis hoe dié ontvoering so skielik, uit die bloute plaasgevind het, en met ’n handjievol karakters, wie daaragter sou sit.

Die instruksies is eenvoudig: Paul en Michelle moet die losprys gaan betaal en Lani probeer red. Die ontvoerder weet dus iets van dié twee se kaskenades, maar Paul – wat bekend maak dat hy ’n oudpolisielid is – kan nie die kloutjie by die oor kry nie.

Hierna volg ’n warboel van gebeure wat baie vinnig ná mekaar plaasvind. Daar is oomblikke waar my handpalms amper méér gesweet het as die arme Paul s’n. Waar ek vroeër die gevoel gekry het dinge beweeg bietjie stadig, skakel Bloemhof oor na ’n splinternuwe rat en moet jy klou om kop te hou.

Die uiteindelike ontknoping is ’n verrassing en heeltemal onvoorspelbaar. Trouens, ek was oortuig ek weet wie die uiteindelike skuldige is, maar Bloemhof het sy strik goed gestel.

Bloemhof se skryfstyl is gemaklik – soveel so dat ek in ’n stadium gewonder het of dit nie te gemaklik is nie. Maar hoe verder ’n mens lees en meer daaraan gewoond raak, hoe lekkerder val sy toon en styl op die oog.

Bloemhof se sin vir humor is te sien in die talle spitsvondighede en terloopse opmerkings.

Sy beskrywings van die omgewing is oortuigend en sy karakterontwikkeling en tydsberekening is uitstekend. Soos ek gesê het: ou hand.

Daar is egter ’n paar dingetjies wat my gepla het, hoewel dit ander lesers moontlik nie eens sal opval nie.

Ek het dit onwaarskynlik gevind dat Bernard die wildvreemde Paul sou nooi om in sy huis te oornag. Boonop stel hy Paul die volgende dag as sy chauffeur aan – terwyl hy reeds ’n chauffeur het. Ek besef dit dien as die rede vir die vyandskap tussen Paul en Johnny, maar dit was vir my ’n bietjie te dik vir ’n daalder, veral aangesien Paul se enigste taak as chauffeur was om die motor te bestuur toe hy saam met Bernard en Michelle gaan uiteet het.

Daar word ook uitstekend gebou aan karakters soos Mary, wat ’n komplekse, interessante dog tragiese agtergrond het. Maar sleutelkarakters soos Michelle en veral Johnny kom nooit werklik tot hul reg nie omdat die leser nooit veel oor hulle vertel word nie. Veral Johnny is eintlik maar net ’n dobberende, eendimensionele karakter.

Daar is ook aspekte van die ontvoering, en ook (en veral) die gebeure direk daarna, wat soms ongeloofwaardig en geforseerd voorgekom het.

Maar dié opmerkings is allermins daarop gemik om die indruk te skep dat Doodskoot nie die paal haal nie.

Inteendeel, Bloemhof se verhaal het al die elemente van ’n lekker spanningsverhaal, met ’n wending wat jy nie – soos met vele ander pogings in dié genre – halfpad deur die boek uitgepluis het nie.

Bloemhof verdien beslis ook ’n pluimpie vir sy behendige taalgebruik en veral woordeskat, waar verskeie oënskynlik vreemde woorde uiteindelik ook deel van die leser se woordeskat word, soos “glimpe”.

Doodskoot is ’n lekkerleesboek wat nie buitensporige eise aan die leser stel nie, maar wat meer as genoeg bied vir ’n genotvolle en bevredigende leeservaring.

Riaan Grobler is ’n vryskutresensent van Johannesburg en redaksielid van City Press.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.