Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Benoeming vir prys beste verjaarsdag-geskenk vir Poland

Toe die skrywer Marguerite Poland hoor haar roman A Sin of Omission is op die kortlys van die Walter Scott-prys vir historiese fiksie, was dit die beste geskenk waarvoor sy vir haar 70ste verjaardag kon vra.

Walter Scott-prys vir historiese fiksie
Marguerite Poland Foto: Melissa Mitchell

“Ek sou vandag (Woensdag) in Sydney, Australië, geland het om my dogter te besoek,” sê Poland, wat Vrydag 70 jaar oud word.

“Ons sou my verjaardag daar gevier het, maar weens die Covid-19-pandemie is hierdie reis van die baan. Toe kry ek die nuus van die prys. Dit is wonderlik, want dit was so ’n lonende reis om die boek te skryf.”

A Sin of Omission, wat verlede jaar by Penguin Random House verskyn het, is gegrond op ’n storie wat Poland se grootoom haar vertel het toe sy 14 jaar oud was.

Sy het die hoofkarakter, eerw. Stephen Malusi Mzamane, gegrond op die man waarvan haar grootoom haar vertel het.

“Ek wou die man se nalatenskap eerbiedig.”

"Ek het op ’n handgeskrewe dokument afgekom en besef dit is die man waarvan my grootoom gepraat het. Dit was ’n ongelooflike toevallige ontdekking."

Die roman speel af in die tweede helfte van die 19de eeu.

’n Jong Xhosa-seun word onder die vlerk van die Anglikaanse kerk in die tyd van groot hongersnood geneem.

Hy gaan na Canterbury in Engeland waar hy opleiding ontvang om ’n priester te word.

Wanneer hy na sy geboorteland terugkeer, word hy gestuur na ’n klein sendingstasie waar hy sy rol in die kerk sowel as in die gemeenskap in oënskou moet neem.

‘A Sin of Omission’ deur Marguerite Poland.

“Hy moet sy Xhosa-kultuur waarin hy gebore is versoen met die kultuur van sy grootwordjare in die Anglikaanse kerk,” sê Poland.

“Dit was ook die geval met die man waarvan my grootoom my vertel het. My oupagrootjie het ’n sendingstasie in die Oos-Kaap gehad en ek het toegang tot my oumagrootjie se dagboek gehad.”

Poland, wat in Durban saam met haar man, Martin Oosthuizen, woon, het in die Oos-Kaap grootgeword.

“Ek het in 2003 met ’n navorsingsprojek oor St. Andrews in Makhanda begin. Ek het op ’n handgeskrewe dokument afgekom en besef dit is die man waarvan my grootoom gepraat het. Dit was ’n ongelooflike toevallige ontdekking.”

Die Walter Scott-letterkundeprys vir historiese fiksie beloon skryfwerk waarin die storielyn meer as 60 jaar gelede afspeel. Romans wat in Brittanje, Ierland en alle lande in die Statebond uitgereik is, kom hiervoor in aanmerking.

Walter Scott is in 1771 in Skotland gebore. Hy is bekend om romans soos Waverley en Old Mortality. Hy was ook ’n digter, dramaturg en historikus.

Die Afrikaanse skrywer Dalene Matthee (gebore Scott) is ’n afstammeling van hom.

*Ander titels op die kortlys sluit in The Narrow Land deur Christine Dwyer Hickey, The Parisian deur Isabella Hammad en To Calais, In Ordinary Time deur James Meek.

*Die wenner, wat £25 000 ontvang, word op die Borders-boekefees in Melrose in Skotland op 12 Junie aangekondig.

Meer oor:  Penguin Random House  |  Makhanda  |  Durban  |  Letterkunde  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.