Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Bergengel’ buig op RSG
Die bergengel deur Carina Stander wat vanjaar deur Protea uitgereik is.

Die skrywer en skilder Carina Stander se boek Die bergengel word vanaf Donderdag op RSG voorgelees.

Luisteraars kan weeksaande net ná die 21:00-nuus hoor hoe die verhaal ontvou soos voorgelees deur die akteur Pieter van Zyl.

Die bergengel, die eerste in ’n drieluik, is vanjaar deur Protea uitgereik.

Die woord “bergengel” het in 2002 by haar opgekom toe sy die Skotse Hoogland binnegery het waar sy vir ses maande sou woon.

“Toe ek die nuus kry dat RSG besluit het om my héle roman, ál 90 000 woorde voor te lees, wou ek op my kop kan staan en ’n deuntjie deur my tone fluit! Hoe inniglik dankbaar is ek vir dié kans,” sê Stander.

“Die wonderlike Ronel Geldenhuys sit in die regiestoel met Pieter as gevoelvolle voorleser. Hulle albei maak intense moeite om onder die vel van die verhaal in te klim. Op eie inisiatief het hulle al die pad na die Breytenbach-sentrum in Wellington gery om my Bergengel-kunsuitstalling te gaan bekyk.”

Die boek speel in die denkbeeldige land Gabriëllië af. Sy het ook ’n kunsuitstalling in meer as een galery met dieselfde titel aangebied. Hoewel die boek nie sketse bevat nie, het elke skets in die uitstalling ’n aanhaling uit die boek.

In Gabriëllië het 13 jaar reeds verloop sedert daar enige teken van ’n bergengel was en die jonger generasie glo byna nie meer in die bestaan van dié mitiese wesens nie.

Carina Stander

Volgens Stander het Van Zyl vroeër vanjaar Die bergengel gelees en het die verhaal hom so aangegryp, dat hy vir Kobus Burger, uitvoerende regisseur van drama by RSG, gekontak het.

“Op die plaas in die Waterberge waar ek grootgeword het, het ons eers elektrisiteit en televisie gekry toe ek tien jaar oud was,” sê Stander.

“Ons vermaak was die bos en rivier, om verregaande kontreistories vir mekaar te vertel, boeke te lees en radio te luister. Van my kosbaarste herinneringe as kind is hoe ek en my ouma Anna (wat my as sesjarige dogtertjie geleer het om in rymsinne te praat en wie ek jare later versorg het toe sy aan Alzheimer se siekte gely het) soggens saam-saam onder die kniekombersie sit en na die kinderstories van Siembamba op die radio luister.

“Toe Wolwedans in die skemer in 1980 sy debuut op radio maak, het dit ’n klein aardskudding in ons lewe veroorsaak. Ek en my sussie het van die skool af teruggejaag en ons middae rondom dié fantastiese voorlesings beplan.”

* Die boekvoorlesing bestaan uit sowat 100 episodes van sewe minute elk op RSG 100 tot 104 FM.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.