Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Besinnend, meditatief, woedend en liries . . .

Poësie

’n Vry vrou

Gedigte van Antjie Krog

Karen de Wet (samest.)

HUMAN & ROUSSEAU, R300

Karen de Wet het reeds met die bloemlesing oor vrouedigters Vers & vrou: 250 gedigte haar onderskei as ’n uitstekende samesteller. Haar keuse van Antjie Krog se vele bundels word ’n besonderse én idiosinkratiese verslag.

Hier word gedigte achronologies róndom temas saamgeplaas sodat die leser ’n nuwe blik kry op hierdie komplekse digterskap. ’n Mens sou ’n hele studie kon doen oor die ontwikkeling vanaf jong kind, verliefde student tot swanger en geskeide vrou. Dan moeder; later grootmoeder wat met enorme emosionaliteit oor ’n kleinkind in ’n vreemde ruimte en taal skryf. Daar is eweneens die politieke aktivis.

Sy is dus vir ’n navorser oor gender-konstruksies ’n goudmyn vir die ontmaskering van stereotipes én leuens. Sy behoort tot die ongehoorde soort: eens nie gehoor nie; nou ongehoord en grensoorskrydend.

Louise Viljoen, ’n kenner van Krog se werk, se seminale studie heet dan: Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog (2009) en ondersoek onder meer skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie; alles psigologiese merkers van hierdie reisende digter, soos Viljoen tereg uitwys. Ons sien en ruik die abjekte. Sy span die plat woord funksioneel in tot die verbystering van menige konvensionele lesers.

Die klankaspek van haar gedigte is van kardinale belang: “om op ’n oggend wakker te word binne-in klank”, skryf sy in “digter wordende” (bl. 162).

Krog verander die “male gaze” na die blik van die (f*kken bevryde) vrou wat die man tot objek verklaar.

So gesien is sy ’n hibridiese digter: een vir stiplees, maar dan ook vir voordra, hóór. ’n Gedig heet dan “twee wêrelde” (bl. 154). Die klipretoriek van die Richtersveld beskou sy en sy buikspreek namens ander karakters: ’n man wat afwysend is teenoor sy vrou in ’n reeks dorpsgedigte; sauna-verse wat die “woman-identified-woman”-problematiek ondersoek.

Die orale tradisie byvoorbeeld kom sterk na vore in die reis met ’n poësie-karavaan na Timboektoe waar sy mites en legendes inweef in haar verse. Sy skryf prysliedere in navolging van inheemse tale soos in “lied van Peter Labase” (bl. 93).

Krog verander die “male gaze” na die blik van die (f*kken bevryde) vrou wat die man tot objek verklaar. Die spel met betekenis van fallus is dalk toe-fallus? Kan die vrou ooit ontsnap uit die patriargale orde?

Met hierdie bloemlesing word ’n mens opnuut bewus van Krog se metaforiek en haar verskillende stylsoorte. Sowel die rondeel, villanelle as die vrye vers hanteer sy moeiteloos. Sy is teer, maar ook woedend en dwars. Sy skryf immers ómdat sy woedend is. Sy is soos Leipoldt melancholies en vrolik; opstandig en teer. Sy is selfs satiries-snaaks in “man ek lus ’n twakkie” (bl. 60). Sy kan namens ander praat en buikspreek. Soms is sy self aan die woord; ander kere is dit randfigure wat sy stemhebbend maak. Sy dra ’n masker dus in navolging van Opperman, ’n mentor, wat verskillende figure aan die woord kon stel.

Haar blik op haar ouers is van haar grootste en waarskynlik aangrypendste gedigte in haar oeuvre.

Haar blik op haar ouers is van haar grootste en waarskynlik aangrypendste gedigte in haar oeuvre. Die begrafnis van haar pa getuig van soveel teerheid en deernis. Sy reken af met vaderdigters – soos D.J. Opperman – en word simbolies bevry van die manlike blik van goedkeuring.

Wyle Barbara Johnson het in ’n onderhoud met Imre Salusinszky, (Criticism in Society. Methuen, 1987) opgemerk dat vroue natuurlike dekonstrueerders is. Dit neem ’n vroueskrywer langer om haarself te vestig as skrywer binne die skryfrangorde waar mans oorheers. Sy moet die manlike orde binnedring en sommige teoretici, soos Hélène Cixous, agiteer vir ’n unieke vrouetaal om dié prosesse te ontmasker en problematiseer.

Vir my is Krog se mooiste gedigte wanneer sy die skryfproses ondersoek en aan die kaak stel. Swangerskap wat handel oor die skryfproses; ’n liefdesvers wat die liefde blootstel in skryfbeelde; ’n sonnet waarin die vorm op sy kop gekeer word. Haar gedigte beweeg tussen die buite- en binneruimte van die gedig.

De Wet herkanoniseer Krog se bydrae as digter en ons kyk met nuwe oë na haar werk as veelkantige vroueskrywer.

Die intieme aard van gedigte skryf, is haar opdrag via Ottone M. Riccio. En dit is wat De Wet begryp. Sy skuif die lokus van die gedigte se publikasiedatums, en soos J. Hillis Miller in die genoemde studie van Salusinszky, ondersoek dit die komplekse verhouding tussen teks en leser. Tyd verander die interpretasies van tekste en lees is nooit ’n eensame aksie nie; daar is altyd werklikhede en ander lesers wat oor jou skouer loer, volgens Miller.

De Wet herkanoniseer Krog se bydrae as digter en ons kyk met nuwe oë na haar werk as veelkantige vroueskrywer.

Krog is besinnend, meditatief, melancholies, woedend, liries. Mannin en Lady Anne tegelykertyd.

Gunstelinge: “visioen van ’n lessenaar” (bl. 148), “digter wordende” (bl. 162), “twee wêrelde” (bl. 154), “die skryfproses as sonnet” (bl. 151), “grond” (bl. 122), “Richtersveld: narratief van klip” (bl. 120), “ek wil ’n graf hê om van om te draai” (bl. 188) . . . eintlik te veel om op te noem. Daar is eweneens drie tekste uit O brose aarde.

Nou onlangs het ’n manlike digter gemeen dat ’n mens oral in die Lae Lande gedurig die naam Krog hoor. Natuurlik. Sy dig onversetlik, eerlik en skuif telkens die bakens van die digkuns in ’n bloemlesing wat haar 50 jaar in ons digkuns gedenk. Geluk aan die nooi van Middenspruit wat kan skryf oor knotwilge en rooigras . . .

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is ’n digter en romanskrywer.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.