Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Besonderse roman met filmiese aanslag

Die derde spoel

S.J. Naudé

UMUZI, R250

In 2011 het S.J. Naudé se debuut-kortverhaalbundel Alfabet van die voëls die Afrikaanse literêre kringe laat regop sit van opwinding en boonop ’n rits literêre pryse ingepalm.

Vir enige skrywer wie se debuut só suksesvol was, moet die skryf van sy of haar tweede teks ongeag die genre vanselfsprekend senutergend wees weens die hoë verwagtinge wat lesers en literatore sal koester.

Met sy debuutroman, Die derde spoel, het dié resensent letterlik slapelose nagte gehad, want jaarliks verskyn daar slegs ’n paar Afrikaanse romans wat ’n leser so gulsig laat lees dat slaap onnodig geag word. Om dié teks as boeiend te beskryf, sal ’n eufemisme wees.

Die derde spoel is die eindproduk van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs wat in 2014 aan Naudé toegeken is en hom in staat gestel het om voltyds aan die roman te skryf. Soos in die geval van Willem Anker se Buys het ’n literêre eindproduk tot stand gekom waaroor daar nog lank gepraat gaan word.

Die roman speel af tydens die stormagtige 1980’s in onderskeidelik Pretoria, Londen en Berlyn. PW Botha regeer Suid-Afrika met sy wysvinger, boetie gaan grens toe om die kommunistiese aanslag af te weer, die Berlynse Muur pronk in sy volle glorie en Margaret Thatcher se konserwatiewe regering swaai die septer in Brittanje.

Etienne studeer elektriese ingenieurswese en bevind homself by ’n kruispad: Gaan hy sy plig as Afrikanerman vasgevang in die konserwatiewe patriargale bestel nakom en soos talle ander sy diensplig na afloop van sy studies voltooi, of gaan hy sy rug op sy land, volk en nasionalistiese ouers keer? Vir Etienne was dit ’n maklike besluit.

As dienspligontduiker vlug Etienne na Londen en kom spoedig tot die besef dat sy vaderland nie die spreekwoordelike land van melk en heuning is soos hy gekondisioneer was om te glo nie.

S.J. Naudé, wenner van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs.Foto: Joanne Olivier

Sy paaie kruis met dié van uitgewekenes van allerlei lande en sosiale groeperinge wat hulself in Londen se bouvallige krotbuurte tuismaak.

Tydens sy Londense verblyf ontdek hy die argitektoniese wonder van die stad terwyl sy ma se briewe vanuit Suid-Afrika sy enigste skakel met sy verlede bly. Hy ontmoet Aodhan wat hom aan films blootstel en ontwikkel gevolglik ’n belangstelling in die kinematografie.

Etienne slaag daarin om met ’n beurs aan die Londense Filmskool te studeer. Met die ontdekking van ’n blou lêer en ’n eerste spoel van ’n film wat dateer uit die 1930’s in Nazi-Duitsland, begin die poppe behoorlik dans. Sodoende begin sy obsessiewe soektog na die ander twee filmspoele om die geheime van die verlede te ontsyfer. Waar is die ander filmspoele en wat was die Nazi’s se rol in die geskiedenis van die film? Laasgenoemde besluit sal sy lewenspad onherroeplik verander.

Etienne se pad kruis met ’n Duitse kunstenaar, Axel. Axel is ’n misterieuse karakter wie se verlede deurgaans in die skadu sluimer. Wat is Axel se verbintenis met die filmspoele en was hul ontmoeting dalk net te toevallig?

Hul verhouding ontaard in ’n passievolle romanse. Naudé se uitbeelding van die seksuele aard van Etienne en Axel se verhouding word op kreatiewe en sensuele wyse verwoord. Die leser se verbeelding word uitgelok om grense te verskuif. Selde is daar al vantevore só in Afrikaans liefde bedryf gedurende die hoogtepunt van die MIV/vigs-pandemie wat vrees onder talle gemeenskappe oor die wêreld heen gesaai het.

Wanneer Axel onverwags verdwyn, lei dit Etienne op ’n speurtog deur die strate van die voormalige Oos-Berlyn. Met die stil en teruggetrokke Nils en sy hospita, Frau Drechsler, wat sy elke beweging fyn dophou, voel die leser of hy elke spoor saam met Etienne deur die strate van Oos-Berlyn stap. Maar wie agtervolg hom en is die Stasi op sy spoor? Waarom is almal so geheimsinnig? Etienne het meer vrae as antwoorde.

Etienne se soeke na die derde spoel neem ’n gevaarlike dog interessante wending.

Naudé se gedetailleerde beskrywing van die Oos-Berlynse milieu is prysenswaardig en skep sodoende ’n atmosfeer waarvan enige romansier en leser net kan droom.

Etienne se soeke na die derde spoel neem ’n gevaarlike dog interessante wending en prikkel die leser se nuuskierigheid tot op die laaste bladsy.

Die derde spoel is ’n spanningsvolle roman wat enduit boei. Daar bestaan by my geen twyfel nie dat hierdie roman oor besondere filmiese kwaliteite beskik en enige draaiboekskrywer en regisseur se droom sal wees.

Die verskeie verwysings na post-punk en die kinematografie bied ’n wye perspektief op die ryk Europese kulturele lewe vanaf die 1930’s tot 1980’s en bied ’n jonger generasie lesers ’n insiggewende blik op ’n tydperk in die wêreldgeskiedenis waarvan hoofsaaklik in geskiedenisboeke gelees word.

Naudé beskik oor ’n fyn aanvoeling vir die geskrewe woord. Met hierdie roman doen hy sy reputasie as talentvolle skrywer gestand. Die derde spoel is myns insiens een van 2017 se literêre hoogtepunte.

  • Dewald Koen doseer Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Fort Hare se Oos-Londen-kampus.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.