Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bfn-skrywer ‘span kritiek as brandstof in’
Annerle Barnard

Om in jou 40’s jou hand aan jou eerste boek te waag en dan ’n aar in die jeugboekmark raak te boor, wil gedoen wees.

Wat van Annerle Barnard van Bloemfontein ’n skrywer in murg en been maak, is haar kanniedood houding. Dít en haar vermoë om kritiek as brandstof in te span.

Dit het ses jaar geduur voordat haar boek Sweepslag sy kragtoer begin het.

Verslae, heen-en-weer-stuurdery, kritiek uit alle oorde opweeg, sinne opkerf.

Sy het selfs met ’n sielkundige oor Paul, haar hoofkarakter, gaan praat.

Die kersie op die koek is dat haar jongste boek, Sindikaat, nou óók weer die kortlys van NB/Sanlam se Kompetisie vir Jeuglektuur gehaal het.

Maar sy staan nie vir te lank stil om haar eie stert te prys nie.

Haar derde boek moet nog net geredigeer word en ’n vierde neem reeds vorm aan.

Hoewel sy op 15 jaar al geweet het sy wil skryf, het die geleentheid hom lank nie voorgedoen nie. Later in haar lewe moes sy noodgedwonge ná ’n knie-operasie rustiger leef, maar sy wou steeds produktief wees.

“Ek het nie die beste kraakbeen geërf nie, maar my brein se buffers werk goed.”

Nes haar rillers bly sy aan die woeker.

Tussen haar ander verpligtinge deur, soos om kinders by die sport op en af te laai, slaan sy haar tande in moeilike kwessies soos selfbesering en mensehandel.

Ons sit by ’n nuwe koffiewinkel in Bloemfontein, die stad waar sy, haar man en hul twee seuns reeds tien jaar woon.

Hulle het hierheen verhuis nadat ’n vrou voor hul huis in Johannesburg gekaap is.

Die rustiger leefstyl op ’n kleinhoewe pas haar.

“Maar ek het gedink hier is geen misdaad nie! Ek is verbaas oor hoeveel misdaad hier eintlik is.”

Die aksie wat die Gautengse sakesektor, waarin sy 13 jaar gewerk het, haar gebied het, kry sy nou uit haar boeke.

“Ek self lees ook baie jeugliteratuur. Ook misdaadfiksie en letterkunde.”

Sy verorber werk van Shakespeare, Kafka, Lee Child en selfs die neuro-wetenskaplike dr. Caroline Leaf. Haar geesdrif vir sielkunde is ’n dryfveer vir haar stories oor jong mense se probleme.

Hoewel sy reeds van skooldae af ’n liefde vir skryf koester, was dit nie maklik om skryffiks te raak nie.

Annerle Barnard teken die bekende skrywersmuur in die ketelkelder van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, waar Sweepslag onlangs bekend gestel is.

“Die héél eerste poging, het ek besef, klink soos ’n e-pos aan ’n kliënt.”

Sy het Sweepslag se manuskrip aanvanklik aan ’n ander uitgewer gestuur, sonder enige sukses.

Maar nog voordat sy die “Dear John”-brief gekry het, was sy reeds besig met ’n nuwe boek.

“Dis hoe jy aan die gang moet bly.”

Nadat Sweepslag afgekeur is, het sy iemand betaal vir ’n leesverslag en kommentaar.

“ ’n Vriendin het aan my gesê ‘nou betaal jy iemand om kritiek te kry’. As ek nie kritiek gekry het nie, sou ek nie geweet het hoe om aan te gaan nie.”

Daarna het sy die boek aan NB gestuur, betyds vir die jeuglektuurkompetisie. Hulle het drie verslae aan haar teruggestuur.

Sy was “uitasem van verbasing” toe sy hoor Sweepslag is op die kortlys vir NB/Sanlam se Kompetisie vir Jeuglektuur.

Sy wou aanvanklik vir dié boek op diamantsmokkel fokus, maar met die skryf van die manuskrip het Radio Rosestad ’n berig uitgesaai oor twee meisies wat verdwyn het nadat hulle ’n saamrygeleentheid van ’n vreemdeling aanvaar het. Die berig het ook Volksblad verskyn.

Sy het sedertdien baie navorsing gedoen oor mensehandel.

“Massahisterie is nie nodig nie, maar daar is tans in Suid-Afrika 155 000 mense in moderne slawehandel. Kenners reken bewusmaking is oneindig belangrik.”

Om seker te maak die perspektief is reg, het sy met ’n sielkundige gaan praat.

“Om my hoofkarakter te leer ken en sy issues te verstaan, moes ek!”

Sy het ook menseregtekenners, patoloë en polisiebeamptes geraadpleeg om perspektief te kry oor die wêreld waarin haar karakters hulle bevind.

Maar haar strengste redigeerder was ’n tienermeisie wat met ’n rooi pen deur elke sin is.

“Êrens het ek geskryf Paul val op sy alie. Toe trek sy dit dood en sê, nee, eerder gat!”

Annerle se hoofdoel bly om jong mense aan die lees te kry. Dit sluit haar twee seuns in.

Dié twee lees nie graag nie. “Maar ek probeer hard om hulle aan die lees te hou, al is dit nou ook met afpersing en omkopery.”

Wanneer hulle byvoorbeeld sporttoerusting nodig het, moet hulle ’n sekere aantal bladsye lees voordat ek dit koop.

“Die getal bladsye wat hulle moet lees, bepaal ek volgens ouderdom en vermoë.”

Dan het sy ook ervaring as groentesmous.

“My man kweek organiese groente as stokperdjie. Ek het egter einde verlede jaar opgehou groente smous omdat daar nie genoeg ure in die dag is nie.”

Sy volg graag die jeug op Instagram. “Ek wil graag kyk wat hulle doen en hoe hulle dink.”

Daar is enkele jong mense wie se profielnaam met Selfharm of Suicide begin, wat haar begin volg het. Hoewel die grafiese foto’s haar hewig ontstel, het sy dit interessant gevind dat dié mense juis vir haar volg.

“Dis nou jong mense wat ruiterlik herken hulle beseer hulself.”

Annerle sug diep.

“Please just block, don’t report. I don’t want help.”

Sy plaas gereeld foto’s van plaasdamme en mooi natuurtonele met gepaardgaande motiveringsboodskappe.

Die oomblik toe sy dít op Instagram en ook op ’n Chinese sosialemediaplatvorm begin laai, het die reaksie daarop haar verstom.

“Ek het besef hulle is op soek daarna.”

Sy meen teen die snelle pas waarteen tegnologie groei, word dit al hoe moeiliker om jong mense se aandag te behou.

“ ’n Jeugboek móét ’n vinnige pas hê, anders wil hulle nie lees nie.”

’n Aanhaling uit Daleen Matthee se Kringe in ’n bos bly haar al haar lewe lank by en dit is wat haar laat aanhou skryf.

“Saul Barnard sê in ’n stadium: ‘Die lewe toets jou aan jou drome om te kyk of jy die moed het om hulle in te haal’.

“Al het ek baie laat my droom om boeke te skryf ingehaal, het dit uiteindelik gebeur.”

Meer oor:  Sindikaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.