Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bielie van ’n prosaboek met uiteenlopende stemme
Sonja Loots

’n Yslike kortverhaalbundel met werk van Anna M. Louw tot Nathan Trantraal en ’n klompie nuwe jong skrywers het pas verskyn. Elretha Britz het met Sonja Loots gesels oor Die nuwe Afrikaanse prosaboek, wat sy en Steward van Wyk saamgestel het.

“Ons was self verbaas om te sien hoe dik die bundel is. Dis hoe meegevoer ons geraak het,” sê Sonja Loots, wat saam met Steward van Wyk Die nuwe Afrikaanse prosaboek van 688 bladsye saamgestel het.

“Ons wou oud en nuut bymekaarbring – kortverhale deur ouer en jonger skrywers – en hoewel ons die net wyd gegooi het, is die boek nie ’n ensiklopedie nie.”

Dit het wel ’n goue draad wat Loots en Van Wyk in Jan Rabie gevind het. Dié skrywer het in die laat 1950’s “die kontoere van die literêre landskap verlê en met sy soms absurde, soms filosofiese, soms politieke ‘prosas’ as inspirasie” gedien.

Steward van Wyk

“Die impak van die skraal bundeltjie wat in 1956 gepubliseer is, was weliswaar enorm,” skryf hulle in die voorwoord. Daarom dat Loots en Van Wyk dit sinvol gevind het om elk van die nege afdelings in die Prosaboek met ’n kortverhaal uit Rabie se bundel 21 in te lei.

Waarom prosa as dit kortverhale is? “Want dit is hoe Rabie sy kortverhale genoem het,” sê Loots.

In die net wat die samestellers uitgegooi het, het hulle 149 verhale deur 57 skrywers ingekatrol. Dit sluit voorheen gepubliseerde skrywers uit die klassieke kanon in, verhale “wat deur die krake geval het” en miskien vergete in ’n laai bly lê het, asook ongepubliseerde verhale wat van genooide skrywers verkry is.

Interessante werke in die versameling is dié wat as rubrieke in koerante en tydskrifte verskyn het en aan kortverhale grens, soos Nathan Trantraal, Herman Lategan en Nataniël se stories. “Hulle is bekend, maar nie as kortverhaalskrywers nie,” sê Loots.

Wat haar van die meeste van die jong stemme getref het, is hoeveel van dié verhale handel oor seksuele vergrype veral teenoor kinders, sosiaal-maatskaplike geweld en bendegeweld. “Dit is skokkend. Maar daar is ook ligte verhale soos dié deur Nataniël en Dana Snyman,” voeg sy vinnig by.

Die nuwe stemme is die susters Sisca en Lynthia Julius, Brian Fredericks, Madré Marais, Maruanda Wynne en Michèle Meyer.

Van Anna M. Louw en Petra Müller tot Chase Rhys en Ronelda S. Kamfer, van Breyten Breytenbach, Elsa Joubert, John Miles en ’n menigte ander ouer bekendes tot Elias P. Nel, Zirk van den Berg, Jaco Kirsten en van hul tydgenote is opgeneem in die verruimende, vars blik op Afrikaanse kortverhale.

Madré Marais

Loots en Van Wyk sê ten slotte: “Hierdie verhale weerlê Rabie se pessimisme (indertyd) dat Afrikaans hopeloos onvoldoende is as termometer van wat in Suid-Afrika aangaan. Inteendeel, soos Rabie destyds, wys hierdie prosas juis die verwikkeldheid van mens en maatskappy deur die verloop van byna sewe dekades as omwentelinge in woelinge.”*Uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB.

Die samestellers

Dr. Sonja Loots het aan die Universiteit Stellenbosch en Rhodes-Universiteit studeer en aan onder meer die destydse Pretoria Technikon en die Universiteit van Johannesburg klas gegee voordat sy as dosent by die Universiteit van Kaapstad se Skool vir Tale aangestel is.

Hierdie verhale weerlê Rabie se pessimisme (indertyd) dat Afrikaans hopeloos onvoldoende is as termometer van wat in Suid-Afrika aangaan. Inteendeel, soos Rabie destyds, wys hierdie prosas juis die verwikkeldheid van mens en maatskappy deur die verloop van byna sewe dekades as omwentelinge in woelinge

Prof. Steward van Wyk gee Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Wes­-Kaapland en doen navorsing oor die werk van Adam Small, asook vergelykende studies van die postkoloniale letterkundes in Afrikaans en Nederlands. 

Hy is die samesteller van ’n keur uit die werk van Small, getitel Kô lat ons sing.


Madré Marais, een van ses jong stemme in Die nuwe Afrikaanse prosaboek wie se werk die eerste keer gepubliseer is, sê sy het van jongs af ál die kortverhale in Afrikaans verslind.

“Ek het die groot name se skryfwerk bewonder en hoe hulle dink. Toe begin ek self skryf en aanvanklik het ek gevoel ek moet hulle naboots. Maar intussen het ek ’n eie stem gekry en nou kan ek my stem byvoeg.”

Die kortverhaal “Lafbaait”, wat Marais tussen 2015 en 2016 geskep het, het deel geword van die manuskrip wat sy vir haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder Francois Smith en Henning Pieterse aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontwikkel het.

Sonja Loots se keuse uit die versameling kortverhale het op “Lafbaait” geval.

Marais sê voorts: “Dit is ironies dat Prosaboek op Jan Rabie se 21 geskoei is. Die bundel het nie net my verbeelding aangegryp nie, dit het my laat besluit om my op kortverhale toe te spits.

“Ek glo in kortverhale en die impak daarvan, omdat dit so tydloos kan wees soos byvoorbeeld Rabie se ‘Droogte’. Jy kan dit oor ’n honderd jaar lees en ek belowe jou dit sal steeds by daardie tydsgees aanklank vind.”

Marais is die afgelope agt jaar ’n subredakteur by Volksblad se plaaslike koerante in Bloemfontein.

Meer oor:  Steward Van Wyk  |  Sonja Loots
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.