Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Binnekort op die rak: Dié boeke bring buite binnetoe

Vier nuwe niefiksietitels wat veral natuurliefhebbers opgewonde sal maak, land later vandeesmaand in die winkels.

Die vyfde, volledig hersiene uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika verskyn einde vandeesmaand met onder meer 1 000 nuwe illustrasies, omvattend bygewerkte teks (volgens die mees onlangse spesiedata), hersiene verspreidingskaarte en voëlroepe wat jy kan skandeer en deur ’n gratis aflaaibare app kan luister. Dié topverkopergids bied omvattende dekking van die streek se voëls en is geskryf deur van ons land se voorste voëldeskundiges, -kykers en -skrywers: Ian Sinclair het meer as 20 voëlboeke op sy kerfstok; wyle Phil Hockey was ’n voormalige direkteur van die Fitz-instituut aan die Universiteit van Kaapstad; Warwick Tarboton is ’n voëlkenner en -skrywer; Peter Ryan is direkteur van die Fitz-instituut en het verskeie boeke oor dié streek se voëls geskryf; Niall Perrins is ’n toegewyde voëlkyker, fotograaf en voëlgids; en Dominic Rollinson het ’n PhD in die bewaring van seevoëls en werk as ’n voëlgids.Uitgewer: Struik Nature. Prys: R370.

Renosterveld vorm deel van die fynbosbioom en is een van die mees bedreigde plantsoorte ter wêreld (slegs 5% is oor). Field Guide to Renosterveld of the Overberg deur Odette Curtis-Scott, stigter en hoof van die Overberg Renosterveld Conservation Trust, is die eerste en enigste veldgids oor Renosterveld en beloof om ’n spesialisbron te wees van dié unieke ekostelsel. Bo en behalwe die wydlopende inleiding bevat die net meer as 500 bladsye ook ’n plantafdeling met meer as 950 spesies en volkleurfoto’s om identifikasie te vergemaklik en ’n korter diereafdeling met 130 spesies. ’n Kennerspaneel (wat hulle ook vir die bewaring van Renosterveld beywer) – Mike Goulding, Nick Helme, Rhoda McMaster, Sean Privett en Charles Stirton – het Curtis-Scott met die skryfwerk bygestaan. Die omvattende register, ’n woordelys met illustrasies en riglyne vir grondeienaars en boere is nuttig. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R420.

Groentjie- en amateur-sterrekykers in die Suidelike Halfrond sal veel plesier én kennis vind in Night Skies of Botswana, ’n toeganklike, gebruikersvriendelike sterrekykgids deur die foto-en-videograaf (onder meer vir National Geographic) Stephen O’Meara, waarin hy sterre beskryf wat met die blote oog – sonder ’n verkyker of teleskoop – sigbaar is. O’Meara, wat so in die sterrekundegemeenskap gerespekteer word dat die International Astronomical Union asteroïed 3637 na hom genoem het, trek weg met ’n beskrywing van ons sterrestelsel, belangrike sterrekundige begrippe en ’n menigte sterrekykwenke. Vervolgens is daar manjifieke foto’s, vier sterrekaarte per maand (noord-, suid-, oos- en wes-aansig) met beskrywings van die sterre en konstellasies wat sigbaar is, en tussendeur word ook allerlei volksverhale oor sterre eie aan Botswana gedeel. Die boek is reeds op die rak en ’n resensie verskyn eersdaags. Uitgewer: Penguin. Prys: R240.

Die skrywer, politieke kommentator en gereelde Rapport-medewerker R.W. Johnson vertel in sy insiggewende memoires, Foreign Native, van sy evolusie as linksgesinde Afrikanis tot politieke realis en die gebeure wat sy wêreldbeskouing gevorm het, onder meer sy betrokkenheid in die 1960’s by politieke uitgewekenes in Londen en tydperke in Guinee en Zimbabwe. Dit klink dalk effe swaarwigtig, maar daar is ook verskeie staaltjies, talle skreeusnaaks, oor bekendes soos Harold Strachan, Tom Sharpe, Ronnie Kasrils, Helen Suzman en Frederik van Zyl Slabbert wat sy pad gekruis het. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R300.

Meer oor:  R.W. Johnson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.