Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Binnekort op die rak: Kooikruipers vir warmbloediges

Hierdie vyf elektroniese en papiertitels is ideaal om dié winter kooiwaarts te sleep, meen die boekeredakteur.

Die joernalis Hilary Prendini Toffoli se Italiaanse liefdesverhaal Loves and Miracles of Pistola word bemark as historiese fiksie wat die kollig laat val op ’n onbekende deel van ons diverse geskiedenis: Die hoofkarakter, Pistola, is een van sowat 110 jong Italiaanse mans wat in die jare vyftig gewerf is om op die Suid-Afrikaanse Spoorweë te kom werk. Só stel hulle die nasie aan Italiaanse kos bekend, leer Engels en Afrikaans praat, en kap dit uit in die nagklubs van Hillbrow en Sophiatown. Die titel is reeds as e-boek beskikbaar en die papierweergawe verskyn in Oktober. Hou die boekeblad dop vir ’n resensie. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Verlede jaar het de laaste mens (behalwe Rapport se resensent) hoog en laag gesweer hulle het nie – en sal nooit as te nimmer! – Eva Mazza se stomende Sex, Lies and Stellenbosch lees nie. Maar natuurlik pryk dié roman oor die katelkaskenades van die Eikestad se grootmenere en -vroue van toe af élke week op die lys van 100 topverkoperboeke in Suid-Afrika . . . En nou is die tweede dosis, Sex, Lies Declassified, hier – mooi betyds om saam met daardie eerste fase 3-glasie te geniet terwyl die skrywer, wat al jare op die wyndorp woon, woeker om die laaste aflewering van haar, verskoon die woordkeuse, trilogie te voltooi. Uitgewer: Melinda Ferguson Books. Prys: R260.

Die Zoeloelandse boorling en regsgeleerde John Webb, deesdae van Honolulu, volg sy debuutroman, Lotto (2018), op met Nine Letters, wat deur die uitgewer beskryf word as ’n skreeusnaakse roman oor ’n siniese regspraktisyn van Durban wie se tante Val in haar testament vra hy moet briewe aan agt van haar vriende oor die wêreld heen pos. Wanneer die aweregse antwoorde begin instroom uit onder meer Indië, Egipte, Engeland en Kanada, kom hy tot nuwe insigte – ook dat sy tante te lekker in haar graf lê en lag! Die e-boek is reeds beskikbaar en die papierweergawe verskyn in Oktober. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Wat het AK47’s en Casspirs, Winnie Mandela met ’n mikrofoon en gebalde vuis, ’n vurige PW Botha en Gerrie Coetzee gemeen? Hulle is simbole van ’n belangrike en besonder grusame jaar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis toe die noodtoestand, halssnoermoorde en ’n outoritêre regime hoogty gevier het. William Dicey se eiesoortige geskiedenisboek 1986 word beskryf as ’n “meesleurende dagboek van ’n baie slegte jaar” wat fokus op die onbekende, intieme detail van gewone mense se lewe, maar ook kleiner, minder bekende momente soos dat die onderhoof van die Pollsmoor-gevangenis op 24 Desember 1986 met oudpres. Nelson Mandela ’n toeristedraai om Kaapstad gery het – ’n hele paar jaar voor sy vrylating. Dis noodsaaklike, neutrale, nie-veroordelende leesstof vir almal wat kan onthou én vir almal wat wonder hoe die lewe onder apartheid was. Die e-boek verskyn in Julie en die papierboek eers in Januarie aanstaande jaar. Uitgewer: Umuzi. Prys: R280.

Oeloelerende misdaadfiksielesers én resensente kon verlede jaar hierdie tyd nie uitgepraat raak oor Sidney Gilroy, sy debuutroman, Klikbek, én dié krimi se eiesoortige hoofkarakter, die Bloemfonteinse speurder Sollie Mthembu, nie. Die storie en karakter is onder meer geloof as ’n groot aanwins vir die Afrikaanse krimikorpus.

In Middernag, die tweede Sollie-boek wat op 10 Augustus verskyn, moet Sollie ’n psigopaat in die strate van Harrismith (waar Gilroy in ’n stadium op skool was) vastrek wat kleuters met roomyse uit hul ouerhuise weglok en ontvoer. Sollie lyk dalk na ’n bedeesde ou wat op die vreemdste tye oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie . . . Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R300.

Meer oor:  Sex
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.