Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Binnekort op die rak: Moetie teen kokonkoors

Afrikaanse lesers kan dié winter hul akute afsonderingsangs met ’n ruimhartige aanbod fiksie-doepa verlig.

Veronika besluit om te sterf is Kobus Geldenhuys se vertaling van dié “poëtiese roman oor verlossing”, wat in 1998 uit die pen van die Brasiliaanse publikasiefenomeen Paulo Coelho verskyn het. Hierin besluit die mooie 24-jarige Sloween Veronika, wat alles het wat sy kan begeer maar nogtans diep ongelukkig is, om haar lewe te beëindig met ’n oordosis slaappille. Maar sy ontwaak in ’n hospitaal, waar sy uitvind haar hart is onherstelbaar beskadig en dat sy slegs enkele dae oor het om te leef. Coelho se roerende, besielende verhaal volg Veronika deur hierdie intense tyd terwyl sy haar idees oor die lewe begin bevraagteken. Dit verskyn volgende week. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R225.

Daniel Hugo se vertaling van Die verdriet van België gee Afrikaanse lesers toegang tot Hugo Claus se belangrikste boek en een van die hoogtepunte van die 20ste-eeuse Nederlandstalige letterkunde. Dié komplekse en meesleurende roman, wat in 1983 verskyn het, is ’n knewel van meer as 700 bladsye en omvat die historiese krisistydperk van 1939 tot 1947, waarin verwarring, hunkering en bedrog die kleurryke jeugjare vorm van Louis Seynaeve, ’n 11-jarige wie se lewe deur nonne regeer word by ’n Katolieke kosskool. Dit verskyn volgende week. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R395.

Aanhangers van Rudie van Rensburg se naelbytboeke ril al by voorbaat van die lekker oor die terugkeer van Kassie Kasselman, wat gedog het sy speurdae is getel ná die Medusa-pedofielsaak en sy hartaanval. Skaars ses maande later meld hy weer by die Spookeenheid aan waar hy en sy kollega Rooi Els terstond aan die diepkant ingegooi word: Hulle moet ’n reeksverkragter vastrek wat sy slagoffers met ’n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “ ’n weerwolf met die sperm van ’n wildehond”? Of lê die antwoord by die merk wat hy op sy slagoffers laat? Die amptelike publikasiedatum is 1 Julie. Uitgewer: Queillerie. Prys: R285.

In Bientang, Jolyn Phillips se tweede bundel ná haar bekroonde debuut, Radbraak (2017), probeer dié boorling van Gansbaai haar in ’n narratiewe gedig die verhaal verbeel van “die laaste Strandloper”, wie se lewe vandag slegs opduik in die naam van die restaurant Bientang’s Cave op Hermanus. Wie was Bientang? Dit verskyn begin Augustus. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R220.

Die karakter Siegfried Bock, wat lesers in Zirk van den Berg se roman Die vertes in leer ken het, moet in die vervolg, Tweegevreet, wat begin Augustus in die boekwinkels land, die dood van ’n boer in die Hochnamib-distrik ondersoek. In die proses kruis sy pad ook met ’n paar spoke uit sy verlede en ’n Berlynse besoeker wat ’n dodelike wrok koester. Midde-in al hierdie dinge is daar natuurlik Duits-Suidwes-Afrika se onstuimige politiek en ongenaakbare natuur. Uitgewer: Kwela. Prys: R290.

Ook in Augustus, meer as vyf jaar ná die verskyning van sy bekroonde topverkoper Kamphoer, keer Francois Smith terug met ’n tweede roman, Die kleinste ramp denkbaar, wat op die oog af vertel hoe ’n bosluisbyt aan die polisieman Frans Schuin onverwags lei tot ’n tydperk van verwarring by die plattelandse dokter Gustav van Aardt. “Dit sê eindelik baie oor die transformasie wat Suid-Afrika besig is om te ondergaan, uit die oogpunt van ’n hoogs gekultiveerde wit man,” aldus die uitgewer. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.

Meer oor:  Nuwe Boeke  |  Binnekort Op Die Rak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.