Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Blasjan, boelies, balle en ’n blou kitaar

Wie sou kon raai dat ’n ‘ou’ sanger oor wie sy óúers mal is, ’n interessante, snaakse, hartseer boek vir tieners kan skryf, sê Henri Malan.

Blasjan en die blou kitaar deur Koos Kombuis. Uitgewer: Penguin. Prys: R150.

Sebastian Taljaard ken niks anders as die Karoo en die plaas en plaasskooltjie nie. Hy gee ook nie om nie – hy is gelukkig en het alles wat hy nodig het.

Alles verander wanneer sy pa sterf en hy skielik aan die lewe in Johannesburg moet gewoond raak. Sy ongewone voorkoms – blonde krulhare, blou oë en ’n blas vel, wat nooit saakgemaak het in die Karoo nie – maak hom die teiken van boelies, wat hom die bynaam Blasjan gee. Nie net word hy deur Gottlieb en sy makkers geboelie nie, maar selfs Errol, sy beste vriend, noem hom Blasjan.

Blasjan vind die stad vervelig en lelik en wens die dae om – totdat Errol eendag by hom kom kuier met ’n ou tweedehandse kitaar. Blasjan onthou die aande in die Karoo en hoe hy en sy pa altyd op die stoep gesit het terwyl sy pa op sy kitaar tokkel, en partykeer vir hom ’n paar drukke leer speel.

Toe Blasjan die kitaar optel, kom hy agter hy kan nog ’n paar akkoorde onthou. Errol begin tyd hou op ’n onderstebo kastrol en kort voor lank maak hulle die hele aand musiek en sing. Daardie aand herontdek Blasjan sy liefde vir musiek.

Die volgende dag kry hy detensie en maak in die proses nuwe vriende, aangesien detensie deesdae blykbaar ’n statussimbool is. Benewens Errol het hy nou ook ander vriende, soos Aali, Miriam en Cornelia. Anders as die ander is Cornelia ryk. Sy bring nie soos die ander kinders ’n kosblik skool toe, maar kontant waarmee sy pouses ’n vrugte-smoothie by die snoepwinkel koop. Almal weet daai goed kos ’n fortuin.

Hulle begin ’n band, Blasjan en die Blou Kitaarbende.

Koos Kombuis gee in sy nuwe boek ’n akkurate voorstelling van ons samelewing en lewer sonder om vervelig of deursigtig te raak subtiel kritiek op kwessies wat tieners die een of ander tyd sal teë­kom, soos rassisme, boelies, dwelmmisbruik, bulderende rugbyafrigters wat die aardbol as ’n rugbybal beskou, en die siening dat sport belangriker is as kultuur.

Hy verstaan tieners se lewe so goed dat ’n mens nie agterkom die boek is deur ’n volwassene geskryf nie. Net een keer verklap Kombuis sy ouderdom: die man wat laas sy baaisiekel sonder ’n slot uitgeleen het, weet duidelik nie dat kinders in die middestad van Johannesburg nie fietsry skool toe nie. As hy dit geweet het, sou die boelies nooit vir Blasjan by die fietsrakke gekonfronteer het nie!

Blasjan en die blou kitaar is interessant, snaaks en hartseer. Die meeste van ons ken vir Kombuis as ’n vreemde oom van wie ons ouers baie hou. By sy konserte vloek hy baie, hy dra altyd ’n rare waslap op sy kop en sing vreemde liedjies oor ou tannies en vet vroue. Ons sou nooit kon raai dat só ’n ou fuddy duddy ’n boek vir tieners sal kan skryf nie!

  • Henri Malan is ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.
Meer oor:  Koos Kombuis  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.