Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Blind SA gaan betoog oor ‘boek-hongersnood’

Die organisasie Blind SA beplan om op 10 Desember, op Wêreldmenseregtedag, ’n betoging te hou na die Uniegebou om beswaar te maak teen ’n “boek-hongersnood” wat hulle aanvoer die regte van siggestremdes in Suid-Afrika skend.

Blind SA sê hulle is keelvol vir die ‘boek-hongersnood’ wat siggestremdes in Suid-Afrika ervaar.

Die griewe wat hulle beplan om in ’n grieweskrif te vervat en op die dag aan die presidensie te oorhandig, spruit uit die regering se “gesloer” om die internasionale Marrakesj-verdrag te onderteken.

In dié verdrag, wat in 2013 gesluit is, verbind 90 lidlande hulle daartoe om kopieregvrystellings in bestaande wetgewing aan te bring sodat siggestremdes sonder enige belemmerings of wetlike beletsels toegang tot boeke in ’n toeganklike formaat, soos braille of ’n gepaste e-formaat, kan kry.

Christo de Klerk, adjunkpresident van die organisasie, sê dat siggestremdes in Suid-Afrika sonder dié kopieregvrystellings ’n moeisame proses moet aanpak om toegang tot ’n boek te bekom, ’n proses wat soms in ’n doodloopstraat eindig.

“Wanneer ons ’n boek in braille of Daisy (’n e-formaat) wil omskakel, kontak ons die uitgewers en vra vir toestemming om die betrokke boek in daardie formate voor te berei, te verkoop en versprei. Gewoonlik kry ons toestemming – soms gou, soms duur dit lank, in sommige gevalle baie lank, of selfs glad nie,” sê hy.

“Om ’n roman van 300 bladsye in braille om te skakel, kan op verskillende maniere gedoen word: óf van die drukskrifkopie wat deur ’n datatikster in braille oorgetik moet word, óf van ’n e-boek.

“Eersgenoemde proses neem omtrent 28 dae en kos ongeveer R24 000. Dit word dan teen slegs R240 (1% van die produksiekoste) aan ’n siggestremde individu verkoop.

“As dit van die e-boek gedoen word, neem dit die helfte van die tyd en kos die helfte van dié bedrag omdat dit onder meer nie oorgetik hoef te word nie. Ons verkies dus om elektroniese kopieë van uitgewers te ontvang, maar dit gebeur nie altyd nie.”

Eersgenoemde proses (wanneer 'n datatikster 'n roman in braille oortik) neem omtrent 28 dae en kos ongeveer R24 000. Dit word dan teen slegs R240 (1% van die produksiekoste) aan ’n siggestremde individu verkoop.
Christo de Klerk, Blind SA-adjunkpresident

Hy sê hulle hoef uitgewers nooit vir dié toestemming, byvoorbeeld in die vorm van tantième, te betaal nie.

“Ek dink hulle (uitgewers) voel ons is só ’n nietige deel van die mark dat dit geen impak sal maak nie. Ek dink ook die lang tydsverloop is soms net die gevolg van rompslomp of omdat hulle nie gepla wil wees nie.

“Die weiering, wat min gebeur, het meestal te make met kommer oor vertroulikheid en die vrees vir algemene verspreiding van die boeke. Dit is ongegrond, want ons doen hoogs vertroulike werk soos eksamenvraestelle en het die nodige protokolle in plek om vertroulikheid te waarborg.”

De Klerk sê die ondertekening van die Marrakesj-verdrag en die kopieregvrystelling wat daarmee saamkom, sal hulle toelaat om ’n rompslomp, insluitende versoeke om toestemming, te omseil en sonder ’n beslommernis elektroniese kopieë van boeke by uitgewers te eis, wat hulle dan gouer en meer bekostigbaar in braille of ’n e-formaat kan omskakel.

“As ons vra vir kopieregvrystellings vra ons nie vir spesiale behandeling of vir gunste nie. Ons vra vir dít waarop ons geregtig is: gelyke toegang tot publikasies, soos enige ander mens.”

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die kopieregvrystellings waarna Blind SA streef, is eintlik die afgelope paar jaar reeds in Suid-Afrika ’n gesprekspunt omdat dit deel vorm van die omstrede wysigingswetsontwerp op kopiereg wat pres. Cyril Ramaphosa in Junie vanjaar na die Nasionale Vergadering teruggestuur het om te heroorweeg.

Ramaphosa het dié stap gedoen nadat talle mense beswaar gemaak het teen dié wysigings, onder meer omdat hulle meen dat dit die groen lig sou gee om werk te reproduseer sonder die kopiereghouer se toestemming.

Blind SA was een van die rolspelers wat Ramaphosa aangespoor het om die wetsontwerp te bekragtig, juis sodat hulle dié kopieregvrystellings kan kry.

Die organisasie het ná Ramaphosa se ommeswaai besluit om van rat te verander en oor die kwessie te betoog.

“Ons gaan betoog omdat die regering reeds sewe jaar lank sloer met die bekragtiging van die Marrakesj-verdrag – en daar nog geen einde in sig is nie. Dit beteken dat ons regte dag ná dag geskend word terwyl vele ander lande, insluitende Afrikalande, die verdrag reeds bekragtig het.

“Ons pleit by die publiek om ons ook te ondersteun deur druk op die regering te plaas om ons boek-hongersnood te beëindig.”

• Die organisasie het intussen ook lid geword van Bookshare, ’n wêreldwye aanlyn platform vir siggestremde lesers wat boeke in ’n toeganklike formaat verskaf. Die oorgrote meerderheid van Bookshare se biblioteek van sowat 900 000 boeke, meestal uit die buiteland, is egter weens bestaande kopieregwetgewing nie vir siggestremde lesers in Suid-Afrika beskikbaar nie.

“Ons het darem toegang tot honderdduisende boeke waarvoor uitgewers oorkoepelende kopieregvrystelling verleen het.

“Blind SA het R500 000 betaal vir die ontwikkeling van die internetportaal en om toegang tot die versameling te kry. Verder moet ons jaarliks lisensiegeld van R75 000 betaal.”

De Klerk sê dit sal “ontsaglik baie help” as mense kan help met ’n bydrae tot die lisensiegeld.

“Sodoende kan mense help om ’n kultuur van lees te bevorder, onderwysmateriaal aan siggestremde leerlinge beskikbaar te stel sodat hulle onderwys van gehalte kan geniet, en ook om die lewensgehalte van siggestremdes te verbeter.

“Daar is waarskynlik ook belastingvoordele gekoppel aan sodanige skenkings. Blind SA sal vir seker in die media erkenning gee aan sulke skenkers.”

  • Diegene wat kan help, kan die organisasie deur hul webblad, https://blindsa.org.za/, kontak of ’n e-pos na cjdk@mweb.co.za stuur.
Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril Ramaphosa  |  Boeke  |  Kopiereg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.