Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bloed drup van dié bladsye

Die vyfde aspoester

Jan Vermeulen

LAPA, R265

Misdaadfiksie

Asof bloed letterlik van die bladsye afdrup, neem Jan Vermeulen met hierdie spanningsverhaal die leser na die stikdonker binnekamers van verwonde mense om die patologie van verwyt en wraak te verken. Gruwelik, grotesk en genadeloos. Afrikaanse misdaadfiksie was lanklaas so noir.

In die Demeyer-huishouding is die gort gaar. Doktor en mevrou Demeyer praat etlike maande al nie met mekaar nie en hul dogter Franci bereik breekpunt as gevolg van die spanning tussen die egpaar. As hoog aangeskrewe profileerder wat met sy nie minder nie as agt sintuie deurslaggewend is met die oplos van veral reeksmoorde, smeek kapt. Jasmyn Oktober dr. Olaf Demeyer om te help met die ondersoek van nog ’n moord.

Rampspoed tref die Demeyers en asof Olaf Demeyer nie genoeg het om te hanteer nie, blyk dit gou dat daar ’n noue verband is tussen hom en die reeksmoordenaar, wat jong meisies in Port Elizabeth op die wreedste denkbare wyse vermoor. Erger nog, Olaf se dogter is na alle waarskynlikheid ook op die moordenaar se lys. Dit word ’n jaagtog teen tyd om die legkaart van slagofferskap, wraak en boetedoening inmekaar te sit.

Dit is teen ’n verstommend vinnige tempo dat vroeg reeds met die verloop van die storie só baie gebeur dat hierdie leser teen bladsy 22 hokaai wou roep. ’n Versugting dat die skrywer sowel sy karakters as my die leser genadig moet wees. ’n Mens wil handdoek ingooi. Dankie tog ek het nie. Want as die storie jou eers boei, wil jy met alle mag en mening in die kop van die vermeende moordenaar inklim.

Die skrywer se kat-en-muis-speletjie met sy leser boei egter al rillend enduit.

Dit word ’n kombinasie van ’n speurverhaal en ’n sielkundige ontleding van die menslike psige. Die kwessie van geweld teen vroue manifesteer as ’n ontstellend oortuigende tema in hierdie verhaal, veral omdat die moorde juis gepleeg word tydens die veldtog 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

Wat veral lof verdien, is dat die karakters nie eendimensioneel is nie. Het ons nie maar almal kneusplekke nie? Vermeulen is nie skugter vir die eksentrieke en donker kolle van die mens nie. In hierdie opsig word die karakter van sers. Blomerus treffend aangewend om te wys dat daar nie lig sonder donker kan wees nie.

Plek-plek slaag die storie nie die toets van waarskynlikheid nie. Neem die antagonis as voorbeeld. Met die ontmaskering van wie dit was, verg dit nogal ’n groot verbeeldingsprong om die manier te aanvaar van hoe hierdie persoon onder die radar kon beweeg. ’n Meer realistiese aanslag, meer ingetoë en besadiger, sal ’n storie soos hierdie selfs meer spannend maak.

Die skrywer se kat-en-muis-speletjie met sy leser boei egter al rillend enduit.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.
Meer oor:  Boekresensie  |  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.