Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Bloedsteen’ bestryk wye spektrum temas

Misdaadfiksie

Bloedsteen

Irna van Zyl

Penguin Random House, R280

Die speurverhaal is, by wyse van analogie, soos ’n wafferse prisma.

’n Ligbundel word daar ingeskyn, dit wil sê die aandag word op ’n raaiselagtige misdaad gevestig wat weer die weg baan vir ’n speurtog. Die ligbundel versplinter dan in ’n bonte kaleidoskoop van leidrade, bespiegelings en verdagtes namate die speurder se ondersoek ontplooi. Net om ten slotte weer teruggekaats te word en te konvergeer wanneer die raaisel opgeklaar en die waarheid lumineus aan die lig gebring word.

Irna van Zyl se derde misdaadroman is juis so ’n prismatiese steen. (In dié geval is daar natuurlik ook ’n letterlike steen – ’n skaars rooi diamant – wat die ganse boek met sy reeds rooierige omslag in ’n tipe skarlaken-noir baai. Maar laat ek nie myself vooruitloop nie.)

Bloedsteen begin as ’t ware in medias reis (sic!). Speuradjudant Storm van der Merwe se ma, Rowena, word voor ’n Londense moltrein ingestamp.

Kort tevore is die lyk van Beebee Bukelwa Babu, ’n belowende Suid-Afrikaanse modeontwerper, in ’n hotel in Hermanus, Storm se tuisdorp, aangetref. Dit lyk na selfdood, maar Storm en haar kollegas vermoed onraad.

Die intrige sprei vinnig uit.

Kan Storm haar ma se nuwe kêrel, ’n welaf jong hipster-tipe, vertrou?

Wat het Beebee en Rowena gemeen? Waarom sukkel die speurders so om antwoorde te wurg uit Beebee se vriendinne, die laaste twee mense wat haar lewend gesien het? En kan Storm haar ma se nuwe kêrel, ’n welaf jong hipster-tipe, vertrou?

By watter onderduimshede is Storm se bevelvoerder, kol. Amber Cloete, en haar pa, komm. Lewis Witvoet, onderwyl betrokke? Waarom heul Witvoet so met die walglike misdaadbaas Grootman? Het dit dalk iets te doen met die sluipmoord op ’n kollega agt maande tevore?

Dan is daar boonop die stilswyende Pastoor met sy grootheidswaan, sy alewige ge-namaste, en sy planne om ’n boheemse dorp te vestig – hier in die poskaartmooie Hermanus – kompleet met weermag en al. (Die ooreenkomste met ’n onlangse dokumentêre reeks op Netflix, Wild Wild Country, is onmiskenbaar, en Van Zyl vermeld inderdaad hierdie prikkel in haar erkennings.)

Intussen kry Storm se oudkollega Andreas Moerdyk – deesdae ’n private speurder en BBP-oppasser – ’n anonieme jop om die legendariese diamant van Port Nolloth op te spoor. Wat Moerdyk nie weet nie, is dat hierdie joppie hom pens-en-pootjies in Storm se moordondersoek gaan dompel.

Tot sover wat die plot betref.

Die leser moet liefs self hul weg vind by die lig wat Van Zyl sorgvuldig vir ’n mens gooi.

Tematies bestryk Bloedsteen ’n wye spektrum.

Daar is die tema van diamantsmokkelary en die omstredenheid oor sogenaamde laboratoriumdiamante. Daar is die konvensionele tema van die oorwerkte polisiemag wat hier veral in Amber Cloete se senu-ineenstorting vergestalt word.

Daar is die ietwat holruggeryde tema van korrupsie en baantjies vir boeties tussen oud-struggle-kamerade. (Kyk uit vir ’n karakter wat so op ’n druppel na op Jacob Zuma gemodelleer is.)

Daar is Storm se persoonlike worsteling met bulimie, en skerp kommentaar op onder meer die moordende lewenstyl van modelle.

Die plekname wat as hoofstuktitels dien (“Londen”, “Hermanus”, “Port Nolloth”, ensovoorts), karteer ’n transnasionale verhaalruimte. Daar is selfs hier en daar ’n toeristiese geurtjie aan die vertelling, soos wanneer Moerdyk aan die Weskus gaan rondsnuffel en Storm in Europa gaan draai. (Dit bly darem een van die wonders van fiksie: Dat ’n boek jou meteens kan wegvoer na ’n heel ander vasteland.)

Die tydmerkers by sommige hoofstukke (vergelyk “Sewe dae tevore”, “Een dag tevore” en “Vooraf”) het egter nie vir my gewerk nie en veroorsaak eerder onnodige verwarring. Ek kon nie onmiddellik agterkom nie: Is die betrokke tydmerker nou relatief tot die voorwoord, of die voorafgaande hoofstuk? Met ’n naelbyterboek is dit miskien beter om enige potensiële leeshindernisse uit die weg te ruim.

Ek moet bely, een van my gunstelingkarakters is die boosdoener Vasco Galant, ook bekend as Whitey van Worcester en die Worcester Aspoester en voorheen ’n lid van die berugte Americans-bende.

Hy’s vlugvoetig, hardvogtig en wrokkig. Hy koester ’n spesiale haat jeens Storm van der Merwe, wat hom destyds tronk toe gepos het. Dié dat hy so gewillig oral opduik om haar pad met duwweltjies te besaai. Hy noem homself tewens die “minister van chaos” (bl. 239).

Dit is miskien onmodieus om jou bewondering vir so ’n rakker uit te spreek, maar die hoofstukke waarin Galant se innerlike dia­loog aangebied word, skitter met ’n vitaliteit wat die ander karakters in vergelyking bepaald dof en kartonagtig laat lyk.

Bloedsteen is ’n komplekse boek met ’n hele bondel storiestrale bo-oor mekaar geponeer. (Ek kan my indink dat Van Zyl se studeerkamer gedurende die skryfproses omtrent soos die neurotiese kol. Amber Cloete se kantoor moes gelyk het: die mure van hoek tot kant met Post-its beplak.)

’n Mens kan egter met reg vra of die boek nie plek-plek swik onder hierdie narratiewe kompleksiteit nie. Die verskillende karakters se paaie kruis so geredelik, so oënskynlik toevallig, dat die almoënde hand van die outeur soms net ’n bietjie te sigbaar is, asof die deus ex machina net ’n bietjie te duidelik deurslaan, en ek genoop word om my ongeloof net ’n bietjie te bewustelik op te hef.

Moenie my verkeerd verstaan nie: Dis ’n gewillige opheffing van die ongeloof, want Bloedsteen trek jou in – soos daardie begoëlende gevoel van vertigo wat jy soms langs ’n moltreinplatform ervaar. Ek het hierdie boek in week twee van die staat van inperking gelees en dit het ongetwyfeld gehelp om ’n hele paar uur moeiteloos te laat verbyglip.

Van Zyl het kennelik die vermoë om boeiende misdaadromans op te diep en die geduld om hulle tot veelkantige prismas te poets. Sedert haar debuut in 2016 het sy ook gewys sy kan haar poleersteen fyner slyp. Met die vooruitsig van nog boeke soos Bloedsteen, kan die volgende staat van inperking maar kom.

Neil van Heerden doseer Afrikaanse letterkunde aan Unisa.

Meer oor:  Irna Van Zyl  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.