Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bloem-ma deel haar pad ná dogtertjie (3) se dood
Die Robbertse is deur sewe jaar van seer en het ’n nuwe dimensie van hoop gevind, sê Mariska. Van links is ouboet Stéfan, pa Franché met klein Matthys Samuel, Mariska en Morné.Foto: Leana Bosch

As sy self die storie oor die verlies van haar Mia lees, huil sy nog steeds.

Só sê Mariska Robberts (44) van Bloemfontein, terwyl sy die voosgevatte manuskrip van haar boek oor haar oorlede dogtertjie in haar hande hou. Dié boek is nou ná die geboorte van hul seuntjie gereed.

Mariska Robberts (44) by ’n skildery van Mia (3) wat in Maart 2013 dood is in ’n ongeluk toe die gesin met vakansie in die Kaap was. Corne le Roux, kunstenaar en gade van ds. De la Harpe le Roux van Torings van Hoop, het die skildery gemaak. Foto: Cheréne Pienaar

Mia, ’n ma se storie van verlies en hoop, wat van Vrydag as ’n e-boek en later die maand op die rakke te koop sal wees, is die eindproduk van sewe jaar se rou, wroeg en armsvol onverklaarbare wonderwerke.

Die dag in Maart 2013 met hul vakansie in Stellenbosch is elke ouer se donkerste nagmerrie waarin die lewe van hul driejarige Mia deur ’n ongeluk geëis is.

“Dit het gevoel asof hulle ’n stuk van jou vleis uitgeruk het.”

Om ’n boek hieroor te geskryf het, bring geensins algehele afsluiting nie, maar wel “vordering”.

Hoewel die boek vol rou emosie is, wou sy veral oordra hoe sy tot berusting gekom het oor of Mia nou oukei is.

Iemand het haar aangeraai om te bid totdat sy berusting kry. Dae daarna het sy een oggend daarvoor gesoebat.

“En toe beleef ek haar in die hemel met sulke sagte engelhaartjies.”

Mia was ’n willewragtig met ’n ongetemde bos hare en dié beeld het haar aangegryp.  

“Mari (Jordaan), ’n vriendin wat ’n paar jaar tevore aan leukemie dood is, was ook daar, saam met Jesus. Mia het gelag en speel en was gelukkig.”

Drie dae daarna het ’n vrou na haar toe gekom wat sy slegs van sien geken het.

“Toe gee sy vir my ’n bos pienk tulpe met fyn wolversiering, bekend as angel hair, bo-op. Sy sê toe die Here het vir haar gesê sy moet dié blomme bring ter bevestiging van my droom, waarvan die vrou niks geweet het nie.”

Dis hierdie “bewysstukke” wat eintlik vrede gebring het, want niks anders werk nie, sê sy.

“Al bring dit net vir een ouer hoop dat God goed is en jou nooit los nie, is dit genoeg. Hy soek nie witvoetjie deur jou omstandighede nie. Hy is groter as dit.”

Sy het ’n stuk oor haar twee seuns ook geskryf, wat albei aan ’n spiertoestand ly. In 2017 het sy geld ingesamel om ’n hysbak by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein vir hulle te laat installeer.

Mariska Robberts (44) by ’n skildery van Mia (3) wat in Maart 2013 dood is in ’n ongeluk toe die gesin met vakansie in die Kaap was. Corne le Roux, gade van ds. De la Harpe le Roux van Torings van Hoop, het skilderye van Mia en haar twee boeties gemaak. Foto: Cheréne Pienaar

In April daardie jaar het sy R1 000 ingesamel, teen September was dit R450 000. Net betyds vir Stéfan, hul oudste, se eerste hoërskooljaar die volgende jaar.

Die egpaar het reeds van 2010 probeer vir ’n vierde kind. Ondanks behandeling was daar geen teken van nog ’n baba nie.

Twee dae nadat sy op ’n Maandag in Januarie verlede jaar die manuskrip gestuur het, was haar swangerskaptoets positief. Klein Matthys se geboorte is toe ook in die boek bygewerk. 

“Dis een groot wonderwerk,” sê sy stralend. 

By Woolworths se kinderklere sal sy altyd loer na al die pienk in die meisie-afdeling.

“Die seer gaan nooit weg nie, maar jy lewe met ’n wete in jou hart: Dit is tydelik en ons gáán herenig word. And it’s gonna be a ball.”

* Mia, ’n ma se storie van verlies en hoop, uitgegee deur Lux Verbi, is van Vrydag as e-boek en 25 Junie op die winkelrakke beskikbaar.

Meer oor:  Leukemie  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.