Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeiende binneblik op die recces

In die boekewêreld – en om die braaivleisvuur – klop min dinge ’n goeie storie onder aanvoering van ’n deurwinterde en bekroonde literêre skrywer. Alexander Strachan se ‘1 Recce: Die nag behoort aan ons’ is die perfekte voorbeeld, skryf Abel Esterhuyse.

1 Recce: Die nag behoort aan ons deur Alexander Strachan. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R260.

Grensoorlogliteratuur beleef tans ’n ongekende opbloei. Die redes is uiteenlopend en kompleks. Veral publikasies oor die spesiale magte – of recces, soos hulle in Suid-Afrika bekend staan – is gewild omdat dit meestal al die basiese boustene van ’n goeie storie bevat: avontuur, spanning, waagmoed, ongekende ontbering, geheimhouding en helde. As lekkerleesboek bevat 1 Recce inderdaad al dié elemente én dit vul ’n gaping in die Suid-Afrikaanse militêre geskiedskrywing deur die “vorming en opbou” van 1 Verkenningsregiment as ’n onafhanklike operasionele eenheid binne die voormalige weermag te dokumenteer. Uiteraard is die Grensoorlog, Suid-Afrika se teeninsurgensiestryd in Namibië en ons betrokkenheid by die Angolese burgeroorlog sentraal in Strachan se storie.

Die skrywer, self ’n gekwalifiseerde spesialemagte-operateur, is effe vaag oor sy doel met die boek. Hy verklaar bloot dit handel oor 1 Verkenningskommando, die moedereenheid van die spesiale magte in Suid-Afrika. Uit sy outeursnota word dit duidelik dat hy op bepaalde temas lig probeer werp, onder meer die kameraadskap onder spesmagtesoldate, die tipiese operasies wat deur die eenheid uitgevoer is, die “byna bomenslike keuringsproses”, die oorlewing van spesiale magte in die bosse van Afrika en die eiesoortigheid van dié soort eenhede.

Die leser word ook bekend gestel aan die ontwikkeling van verskillende spesialisvermoëns in die konteks van spesiale magte, onder meer pseudo-operasies, skerpskutters, verskillende valskermvermoëns, aanvalsduik, tweeman-verkenningsoperasies, vernielingswerk, bergklim en touwerk en mediese opleiding.

Die boek is hoofsaaklik op mondelinge oorlewering van oudlede van 1 Verkenningskommando gegrond. Uiteraard moet die rol wat sekere individue in die totstandkoming en ontwikkeling van die eenheid gespeel het, beklemtoon word. Die belangrikste persoon in dié verband is waarskynlik die legendariese kol. Jan Breytenbach en sy sogenaamde Dirty Dozen, wat die eerste lede van die eenheid was.

Geskiedskrywing wat swaar steun op mondelinge oorlewering en herinneringe kan problematies wees: Mense vergeet; hulle het die gewoonte om hul eie ervarings en rol te oorbeklemtoon; hulle is dikwels skrikkerig om hulself onder die vergrootglas van kritiek te plaas en neig tot heldeverering van die mense saam met wie hulle die dal van doodskaduwee oorleef het. Daar is met die terugblik dikwels ook romantiese idees oor die verlede en daarmee saam hande vol kritiek oor die teenswoordige stand van sake.

1 Recce vertel ’n interessante storie van historiese aard, maar steun nie op omvattende historiese navorsing nie en is ook nie ’n regimentele geskiedenis van 1 Verkenningskommando nie. Dit verander geensins die feit dat die boek ’n belangrike en boeiende bydrae lewer tot die dokumentering van die geskiedenis van spesiale magte in Suid-Afrika nie. Dit is regtig uitstekend geskryf en besonder leesbaar.

Die waagmoed van die soldate op voetsoolvlak word op aangrypende wyse deur Strachan blootgelê, met beskrywing van menslike ontberings in die keuring en uitvoer van operasies wat grens aan die onmoontlike. Die leser kry ’n binneperspektief op die keuringsproses wat hierdie soldate deurloop het asook hul werk en leefwyse as spesiale soldate.

Deurwinterde soldate van die weermag in die vorige bedeling sal ook aanklank vind by die stryd om ’n spesialiseenheid soos 1 Verkenningskommando tot stand te bring binne ’n weermag wat in die 1970’s baie konvensioneel in uitkyk en kultuur was. Die uiteenlopende aard van 1 Verkenningskommando se operasies en die uiteenlopende geografiese omgewings waarin dit uitgevoer is, verleen kleur aan die verhaal.

Strachan belig uiteraard onderwerpe wat vir interessante bespiegelings om die braaivleisvuur sal sorg. Een hiervan is die relatief informele aard van die aanvanklike keuringsproses en hoe dit deur die bestaande operateurs beheer en gemanipuleer is om seker te maak dat slegs soldate gekeur word wat volgens hulle oor die regte eienskappe en temperament beskik. Suid-Afrika se omvattende betrokkenheid by die oorlog in Mosambiek en die voormalige Rhodesië is nog so ’n onderwerp.

Ook die uiteenlopendheid van die spesialisvermoëns in spesialemag-eenhede is iets wat menige debat kan ontketen: Wat presies is dit wat spesiale magte kan doen en wat is hul tekortkominge in die breë militêre konteks? Ook die noue samewerking tussen spesiale magte en inligtingsagentskappe is iets wat tot geweldige geheimhouding lei en hulle soms onder verdenking plaas. In dié verband moet ’n mens tog onthou dat 1 Verkenningsregiment die moedereenheid was van die later omstrede Burgerlike Samewerkingsburo.

Vir diegene wat spesialemagte-operasies in ’n breër militêre konteks onder die soeklig plaas, is daar ook stof tot nadenke. Wat, byvoorbeeld, is die gevegswaarde van spesiale magte in gevalle waar dit bloot as spesialis-infanterie vir operasies aangewend word? In die Grensoorlog – en soos duidelik blyk uit die beskrywing van die onderskeie operasies in die boek – is die spesialiswaarde van verkenningsoldate dikwels ondermyn deur hulle te gebruik in operasies van byna konvensionele aard saam met eenhede soos 32 Bataljon, Valskermbataljon en 101 Bataljon.

Tweedens, wat is die werklike bydrae wat spesiale magte tot die oorlogspoging in sy geheel maak? Oor die wêreld heen word dié bydrae dikwels oorskat. Geheimhouding, magtiging van verkenningsoperasies op die hoogste vlak, of die aanval en vernietiging van belangrike teikens impliseer nie dat hierdie operasies noodwendig van strategiese belang is nie. Die strategiese impak is dikwels slegs in retrospek waarneembaar en die meeste van die operasies wat in die boek beskryf word, was hoogstens van operasionele waarde. Daarmee wil niemand natuurlik afbreuk doen aan die heldhaftigheid en vernuf waarmee dit uitgevoer is nie.

Die boek bevat verskeie interessante anekdotes wat tot die algemene publiek sal spreek. Die manewales van Doppies, ’n mak aap na wie die bekende Fort Doppies genoem is, en Teddy, ’n mak mannetjiesleeu wat Fort Doppies sy tuiste gemaak het, is maar enkele voorbeelde.

Maar bowenal is daar ’n verhaal van menslikheid en die soeke na sin, vrede en werklikheid in die boek opgesluit. Miskien is dit uiteindelik Strachan se grootste bydrae met 1 Recce: Die nag behoort aan ons: dat oorlog ’n diep menslike werklikheid is in uitdaging, hantering en gevolge.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.