Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeiende verhaal oor soeke na geregtigheid

Fiksie

Tweegevreet

Zirk van den Berg

Kwela, R290

Definieer ’n naam jou of gee jy inhoud aan ’n naam? Op die spel is karakter en reputasie.

Voeg hierby die Janus-kwessie wat Zirk van den Berg se Tweegevreet veronderstel. Met hierdie opvolg op Die vertes in (2018) word die woestynagtige landskap van Duits-Suidwes-Afrika ’n palet waarteen die aard van menslikheid deurgrond word.

Hochnamib 1905. Die driemanskap wat in die naam van die Kaiserliche Landespolizei hier diens doen, het nogal moeite om verveling te ontkom. Dit verg ’n soort inspanning om die skyn van ’n polisiediens voor te hou in ’n landstreek waar redelik min gebeur.

Opwinding is daar oplaas as ’n boodskapper te perd tyding bring van ’n boer wat deur ’n luiperd gedood is. Ondersoek na die omstandighede moet onmiddellik ingestel word.

As Siegfried Bock egter snuf in die neus kry oor ander moontlikhede rakende die voorval is dit sy kans om ware polisiewerk te verrig.

Afrika is nie juis bekend as ’n genadige vasteland nie. Met geen oënskynlike misdaad nie blyk berusting die enigste opsie te wees. As Siegfried Bock egter snuf in die neus kry oor ander moontlikhede rakende die voorval is dit sy kans om ware polisiewerk te verrig.

Asof die voorval met die luiperd nie vir genoeg beroering sorg nie, ontvang Bock nuus oor ’n besoeker uit Duitsland wat hom op die plek noop om dadelik na Windhoek te vertrek met die voorneme om die verlede daar vierkant in die oë te kyk.

In Windhoek besoek hy die ateljee van ’n portretfotograaf op soek na ’n foto. Hier kom hy af op ’n onopgeëiste foto van sy kollega Hans Stempsky, wat hy meen bly sal wees om die foto as geskenk te ontvang.

Hy maak ook kennis met ’n skilder uit Berlyn. Siegfried Bock bevind hom weer eens onwetend op die drumpel van die noodlot aangevoer deur duistere motiewe.

Terug by die polisiekantoor skop die speurinstink behoorlik by Bock in oor die luiperdvoorval. Hul bevelvoerder, Feldwebel Dudeck, is sy komiese self.

Kollega Hans Stempsky word moontlik deur ’n nuwe toekoms in die gesig gestaar as die liefde wink.

En kollega Hans Stempsky word moontlik deur ’n nuwe toekoms in die gesig gestaar as die liefde wink.

Tydgleuf, milieu en ’n ontroerende storie oor wraaksugtigheid en die liefde skakel moeiteloos in hierdie roman met mekaar om die leser vasgenael te hou van begin tot einde.

Alhoewel die tentakels van kolonialisme subtiel aan bod kom, is die leser deurgaans bewus van die spanning tussen die plaaslike bevolking en die buitelanders. Die geo­grafie met sy landskap van ruimte en skaarsheid wat selde tegemoetkomend teenoor mens en dier is, handhaaf ’n durende teenwoordigheid met die ontvouing van die verhaal.

Hou jou hart vas, liewe leser, want as dit by die kontoere van die hart kom, word die verhaal ’n labirint met onbetroubare aanwysings. Boeiend tot op die been, bly die leser wonder oor wat om volgende te verwag.

Zirk van den Berg bevestig weer eens sy vermoë om veel te vermag met ekonomiese woordgebruik. Evokatief, poëties selfs en onopgesmuk tegelykertyd.

Met woorde en frases wat skitter soos sterre is dit ’n teks wat getuig van ware vakmanskap.

So byvoorbeeld word die landskap waarteen die verhaal vertel word beskryf: “Die behoefte aan water staan oral geskryf – in die papierdroë gras wat verkrummel as jy daaraan vat, in die songebakte klippe en die geharde sade wat jare lank dormant kan lê, gereed om te ontkiem sodra die grond nat word.” (bl. 26)

Wat hierdie leser baie plesier verskaf het, is die karakterontwikkeling by Siegfried Bock.

Wat hierdie leser baie plesier verskaf het, is die karakterontwikkeling by Siegfried Bock.

Met Die vertes in het ons Bock as ’n tengerige jong man leer ken, iemand vir wie mens maklik jammer kon voel.

Hier in Suidwes-Afrika ontdek hy veel meer as ’n eksotiese vasteland, want hier kan hy sê hy het “nuwe aspekte van homself ontdek” (bl. 82). In hierdie vreemde land, meer as ooit, voel Bock gemaklik in sy eie vel.

As meester-storieverteller stel Zirk van den Berg twee uiteenlopende menslike eienskappe spanningsvol teenoor mekaar op: ware karakter teenoor die gesig wat mense aan die wêreld voorhou. Die ware ek versluier agter ’n masker, dus.

Wat hiermee saam aan bod kom, is die ironie van hoe bedrieglik die oënskynlike kan wees.

En dat die masker ook dit wat opreg en goed is, kan verberg. Hoe ook al, misverstand gaan tragedie dikwels vooraf.

Wisselende vokalisering verseker die leser se empatie met die verskillende karakters en dra by tot ’n groter verstaan oor die kompleksiteit van hoe individuele keuses op ander mense en hul reaksies inspeel.

Tweegevreet vertel die meesleurende verhaal oor die soeke na reg en geregtigheid. En soos wat mense in hierdie barre land hoopvol bly om water raak te boor, so ook hou hulle vas aan die versugting om geluk en liefde te vind.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Zirk Van Den Berg  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.