Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeiende ‘Voëlvrou’ sou so nóg hoër kon vlieg

Met haar nuwe novelle, ‘Voëlvrou’, wys Marlize Hobbs sy is ’n boeiende storieverteller wat ons heilige koeie een vir een kan slag, maar Rachelle Greeff meen die boek sou nóg meer kon skitter met ’n fermer redigeerhand.

Voëlvrou deur Marlize Hobbs. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180.

“Die vroue het hom die eerste gewaar”, begin N.P. van Wyk Louw sy epiese gedig “Raka” (1941). Die inleiding van Marlize Hobbs se nuwe novelle herroep dit, maar nou uit die perspektief van ’n vrou van die 21ste eeu: “Dit was die kinders wat haar eerste gesien het.”

Tagtig jaar het verloop tussen “Raka” en Voëlvrou se stil, naamlose vrouewese met die vlerke wat ons terugneem na Hobbs se grootwordwêreld van “vaal bossies” en “baksteen- en sinkhuisies” op die vlaktes van Noordwes. Aan die hemel hang die vlieswolke “amper verleë’’ skaam “want dit is duidelik dat hulle nie gaan reën bring nie”. Dit is ook ’n terugkeer van enkele karakters met wie Hobbs se lesers tevore kennis gemaak het. Haar boeke praat met mekaar. En opnuut spin sy haar vertelling rondom die liefde tussen vroue, eenkantmense, kinders en mense wat anders is, pa’s (uiterlik baiemaal gesiene manne) wat hul dogters as handpoppe misbruik en hieruitspruitend dogtertjieslywe “soos ’n groot wond met ’n gat wat net nooit gaan gesond word nie’’.

Maar Voëlvrou staan op haar eie bene. Jy hoef nie enige van Hobbs se vorige werke te ken om sin te maak van dié een nie.

Hobbs het met haar debuutnovelle, Flarde (2005), die Afrikaanse boekebedryf trefseker binnegeskryf en is die daaropvolgende jaar met die UJ-debuutprys, die Jan Rabie-Rapportprys én die gesogte Eugène Maraisprys bekroon. Sy ly duidelik nie aan dikboeksindroom nie, en dra Voëlvrou onder andere op aan “Jeanne Goosen wat my geleer het mens het nie honderde dae en duisende woorde nodig om ’n sinvolle boek te skryf nie’’. Jeanne, wat vroeër vanjaar oorlede is, was vir Hobbs as nuwelingskrywer ’n betroubare mentor.

‘Voëlvrou’ is ’n pakkende storie wat haar vlerke wyd sprei.

Die kreatiewe vonds van dié nuwe novelle is die geveerde voëlmens, swart met blou oë, wat die kinders “in ’n groot boks rooiblink” in die veld vind. Dié magiese “blinkding” het die kleintjies van Madinonyane op hol. Wat is in die boks, wonder hulle. En wat kan dit beteken, wil die vroue en die ou madalas weet. Net so is die leser van bladsy een af nuuskierig.

Die simboliek van die voëlvroukarakter is oop vir verskillende interpretasies. Sommige lesers kan die storie as ’n eietydse Afrika-opstandingsprokie lees. Dit trompetter nie die parallelle met die Pase uit nie, maar van wie anders is die kgosi, die hoofman van die stat, ’n afgietsel as van Pontius Pilatus? Ander lesers kan dit aanprys as ’n feministiese teks, subtiel alarmisties. Die eerstepersoonverteller, Minerva, word nie toevallig so genoem nie. Minerva was ’n vername godin in die Romeinse mitologie, onder meer as beskermvrou van die kunste.

Wat Voëlvrou primêr is, is ’n pakkende storie wat haar vlerke wyd sprei. Dit vier vroulike intuïsie, maar is ook ’n aanklag. Die wyse, bejaarde Mapule is die matriarg van die stat. Sy weet haar mense is te kleinsielig en bygelowig om die vreemde wese – oftewel, die ander – as betroubare bron van goedheid en guns te koester. Wanneer die luidrugtige, besope massa die voëlvrou aanrand, probeer sy haar beskerm. En sodra jy dink dit is waaragtig ’n somber en uitsiglose storie, gebeur iets onvoorsiens. Die gestremde “klein dofkop”, Thupelo, hoor fyn en kyk stip. Dis hy wat die boks ontdek terwyl hy saam met sy maats, Peme en Gabo, bessies pluk. Sonder om die storie vooruit te loop: Dit is gerusstellend dat iemand wat uit ’n ander drukvorm kom as die sogenaamde normaal aanvaarbare die een is wat die mensdom nogeens ’n kans probeer gee. Dit is ook beduidend dat die draer van hoop waarmee die verhaal sluit ’n seun en nie ’n dogter is nie. Dit herinner diegene wat daagliks die gewelddadige woede van mans en seuns regstreeks of onregstreeks ervaar, nie alle seuns is monsters-in-wording nie.

Maar steeds ken te veel vroue en mans aan eie lyf ’n ekstreem godsdienstige, uiterlike vroom pa of broer, soos die predikant van Hobbs se verhaal. Oplaas breek dié witgepleisterde prediker die krom skouers van die gay meisie en gooi haar in ’n kuilvoergat.

Manlike patologie bly vir haar ’n dryfveer, het Hobbs in die aanlyn bekendstelling van die boek gesê. In Voëlvrou neem sy dit weer onder haar vlerk – saam met die kreatiewe proses en randfigure – en vlieg daarmee. Sy is steeds die boeiende storieverteller, dikwels poëties en liries. En sy slag steeds ons heilige koeie.

Tydens die bekendstelling van die boek het sy ook gesê: “Ek wil myself sien as skrywer wat goeie boeke daarstel”. Dit ís sy, ’n goeie skrywer. Sy kan wel nuwe hoogtes bereik as sy haar manuskripontwikkelaar omsigtiger oorweeg. Iemand wat byvoorbeeld vooraf kan sien van die metafore is nie helder bedink nie. (Op bl. 8 word tyd in een asem gekoppel aan die werkwoord “vloei” en die selfstandige naamwoord “wiele” asook “hok”.) Net hierna, merk Juffrou Liniaal, breek die woord “honger­snood” as “hongers-nood”. Op bl. 17 “gaan sy weer soortvan mens word”. Is “soortvan” as een woord poëtiese vryheid? Maar wat van “van vooraf” twee maal op bl. 10? Jy kan vooraf iets beslis, maar jy begin van voor af. Dit is ook die redigeerder se verantwoordelikheid om mooiskrywery of hiperbool uit te snuif. (Ek dink aan die raak beskrywing van outisme op bl. 100 wat, myns insiens, uitrafel asook die onnodig herhalende gedagte in die twee slotsinne van die boek.) En waarom verwater die fisieke toestand van Minerva se lewensmaat, wat aanvanklik genoem word, in die loop van die narratief?

Die skoonheidsleer is vloeibaar – my mooi is nie joune nie – en daarom glo ek genoeg voornemende boekkopers sal hou van Voëlvrou se omslagontwerp. Vir my sê dit weinig van die geveerde wese tussen die omslae. En van omslae gepraat: Is buiteblaaie wat met die eerste oopslaanslag opwip en nooit weer gaan lê nie deel van die (allesomvattend en volkome niksseggende) nuwe normaal van die boekebedryf?

* Rachelle Greeff is ’n skrywer en aanbieder van die skryfskool by die Breytenbach-sentrum op Wellington.

Meer oor:  Marlize Hobbs  |  Resensie  |  Voëlvrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.