Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boek bekyk Eoan-groep se opera-geskiedenis

’n Deel van die “ryk en pynlike geskiedenis” van opera in Suid-Afrika en “die konteks waarbinne plaaslike opera gedurende die apartheidsjare ontwikkel het” is in die boek The La Traviata Affair: Opera in the Age of Apartheid vervat, wat onlangs bekendgestel is.

Die boek The La Traviata Affair: Opera in the Age of Apartheid deur dr. Hilde Roos.
Dr. Hilde Roos

Die boek deur dr. Hilde Roos van die Universiteit Stellenbosch se Africa Open-instituut vir musiek, navorsing en innovasie (AOI) fokus meer spesifiek op die Eoan-groep, wat volgens Roos in 1933 as ’n gemeenskapsorganisasie in Distrik Ses gestig is en later as ’n operageselskap gefunksioneer het.

“Die Eoan-groep was deurlopend met kuns – drama, ballet, opera – en gemeenskapswerk betrokke, maar hierdie boek fokus op hul operaproduksies,” sê Roos.

“Verdi se La Traviata was hul eerste en laaste produksie (in onderskeidelik 1956 en 1975).”

Roos sê die groep het oor ’n tydperk van 20 jaar 11 operas en verskeie operettes in die Kaapstadse stadsaal uitgevoer.

“Hulle was baie geliefd by wit gehore en hul uitvoerings het deur die jare groot lof van musiekkritici verdien,” sê sy.

“Maar as gevolg van apartheid kon hulle nie opleidingsgeleenthede of die verhoog met wit musici en sangers deel nie.

“Hulle het as ’n kunste-organisasie begin funksioneer en is hoofsaaklik deur private befondsing gefinansier met ’n klein jaarlikse bydrae van die apartheidsregering. Soos die groep se operabedrywighede toegeneem het, het hulle meer afhanklik begin raak van groter regeringsbydraes en het hulle onder die bruin gemeenskap berug geword as ondersteuners van apartheid.”

Apartheid het die groep se operabedrywighede “versmoor”, sê Roos.

“Dit sluit in die gebrek aan opleidingsmoontlikhede, dat hulle byvoorbeeld nie na Kruik se opera-opvoerings kon gaan kyk nie, dat hulle chronies nie genoeg geld gehad het vir produksies nie, dat kunstenaars nooit betaal is vir hul dienste nie, dat hulle om permitte moes aansoek doen om in die Kaapstadse stadsaal opvoerings te mag hou, dat bruin gehore in aparte sitplekke moes sit en aparte ingange en geriewe moes gebruik, en dat bruin kunstenaars nie professionele geleenthede gegee is nie.”

Apartheid het die (Eoan-)groep se operabedrywighede 'versmoor', sê (dr. Hilde) Roos.

Roos se navorsing vir die boek spruit uit die Eoan-argief, wat onder leiding van prof. Stephanus Muller in 2008 na die Universiteit Stellenbosch se Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus) gebring is. Die boek volg op Eoan – Our Story, wat Roos saam met Wayne Muller in 2013 saamgestel het.

“Dit (Eoan – Our Story) vertel die storie deur middel van herinneringe en ervarings van die Eoan-gemeenskap self,” sê Roos.

“Tydens die werk aan daardie boek het ek besef dat daar belangrike dele van hul geskiedenis is wat nie meer deur die mense self onthou word nie – en dat die argief inligting bevat waarvan die Eoan-gemeenskap nie noodwendig bewus is nie. Die eerste boek (die mondelinge geskiedenis) vertel dus die storie van binne, terwyl ’n boek soos myne die storie van buite vertel.”

Ondanks politieke aktiviste uit die 1980’s wat volgens Roos “vandag min ooghare vir die groep of hul bydrae het”, sê sy daar is eindelik baie wat ’n mens kan sê oor hul bydrae tot klassieke musiek en opera in Suid-Afrika.

“Hul belangrikste bydrae – destyds en ook nog vandag – is dat hulle die apartheidsnarratief wat opera eksklusief aan wit mense geëien het, omvergegooi het.”

  • The La Traviata Affair: Opera in the Age of Apartheid word deur University of California Press in die VSA uitgegee. Die boek is teen R465 by Loot of Takealot beskikbaar.
Meer oor:  Opera  |  Klassieke Musiek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.