Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fantastiese gegewens bly agter wasige sluier

Fiksie

’n Spook in die huis

Francois Loots

UMUZI, R260

Francois Loots se sewende roman het hierdie resensent soos Hamlet, melancholiese Deense prins wat sy pa se dood moet wreek, laat voel. Anders as vernuftige vorige Loots-romans soos Rooi Jan Alleman (2013), en nader aan In sneeu geskryf (2015), is ek vreemd koud gelaat.

Ek begin met enkele positiewe. Die eerste van twee manlike hoofkarakters, Paul, redigeer bedags kopie vir die mediareus Dia Dia. Stilweg getreiter deur konglomeraat-voetsoldaat, die Muis, meer klaas as baas, bied Paul se nagtelike gebak van die allerheerlikste brode en soetighede, en vroegog­gend­­­interaksies met buurvrou Cherry, toevlug uit die nimmereindigende nuuskamer-ellende.

Franz Kafka eggo soos ons Paul se bestaan takseer. Paul se vervreemding (beide isolasie en geestelike aftakeling) word knap illustreer, en hy is simpatiek herkenbaar in soverre hy nie voel soos ’n uitvloeisel van die skrywerspersona self nie. Die dun membraan tussen skyn en werklikheid, en die alledaagse as groteske nagmerrie, kry lewe.

Dan is daar De Villiers, ofte wel Div, hoofkarakter nommer twee. Bedags kontroleerder by die departement wat landelike ontwikkelingsprojekte finansier, saans “meester”, met sogenaamde Boek van Deinings, is dit met Div – sy verhaal word nooit meer as lukraak verbind tot Paul nie – wat die roman erg ontspoor.

Vernaam die vertolking of uitbeelding van BDSM- of fetisjpraktyke, met die woord “aweregs” of “aweregsheid” gedurig gebruik om seksuele voorkeure en aktiwiteite wat die heteronormatiewe uitdaag te tipeer, is futloos. Sensitiewe lesers hoef nie hande in die hare te sit nie; Loots se bestek­opname, nogal tong in die kies ook, maak nie hond haaraf met ’n soort onderwêreld nie. Perversie? Afwyking? Bloot anders? Your guess is as good as mine.

Veel anders as in Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo word menslike seksualiteit geensins produktief belig of beliggaam nie.

Veel anders as in Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo word menslike seksualiteit geensins produktief belig of beliggaam nie. Oppervlak, oppervlak, oppervlak. Waar is die durf, die waagmoed, fiksie wat vooroordele en wanopvattings nek omdraai?

Die herhaling van beelde en frases – “deining”, “brander”, “die see­rower se buit”, “nadenkend”, “Dewani se verruklike agterstewe” (!), “doen en late”, en onophoudelike uitroeptekens! sluit eerder as ontsluit, verdof eerder as verhelder. In plaas van melodieë en har­monieë beur dieselfde drie akkoorde tot vervelens toe.

Dan die steurende hebbelikheid om die leser te vertel presies wat en hoe karakters voel en beleef. Hiervoor moet die skrywer ongelukkig erg voor stok gekry word.

Oomblikke speel uit “op die ingewing van die oomblik”, of word so uitgerek dat dit onmoontlik raak om kernoomblikke en katalisators vir besinning of optrede te onderskei van vlietende momente. Om opvattings van tyd en die reële te problematiseer is een ding, maar lesers moet steeds kan volg.

Twee verhale, wat elk meer as novelles sin maak en afsonderlik meer trefkrag het, slaag nie daarom om in tematiek of toon aanklank te vind, mekaar te verhelder, raakpunte te laat eggo, of werklik tot mekaar te spreek nie. Klein sweempies beheer, vir Paul en Div elkeen op hul eie manier, word in die verhale opgeskort en in die gedrang gebring; so is dit ook naderhand met die lees se klein plesiertjies.

Hierdie leser se ervaring was naderhand gekenmerk deur frustrasie, ongeloof, en uiteindelik kopkrap. Prosa is vlugtig gespierd en kragtig, maar met tye saai, strak en verbeeldingloos. As geheel is die roman nie ontstellend, onthutsend, vreemd of eiesoortig genoeg om aan te beveel nie.

Die romanskrywer moet be­lewenis opteken en vrae vra. Hier word albei ongelukkig sonder die nodige diepgang hanteer.

Spoke verskyn uit die niet, dog is daar weinig ysingwekkend of afgryslik.

Spoke verskyn uit die niet, dog is daar weinig ysingwekkend of afgryslik. Skim en skaduwee is daar vele van: Loots neem die berekende risiko om Shrien Dewani die teks te laat bewandel as een van Div se klante; die keersy is die spook van sy vermoorde vrou, Anni, wat dan en wan verskyn.

Wat ’n jammerte, dan, dat fantastiese gegewens so min oplewer. Die skrywer as geestebesweerder, en verwagtinge van die spook­storie as genre, kom aan bod, met legio storiemoontlikhede onaangeraak.

Loots se spoke oortuig eenvoudig nie. Kwistigheid en herhaling, en ’n aanstellerige presieusheid wyk swaar. As nuuskierige word daar in die fiksiehuis se kelder­verdieping stelling ingeneem, flits in die hand, in afwagting van vrees, ontsetting, katarsis.

Daar word ingeleun, op tone gestaan, nek krom gemaak, met geselskap skaars meer as die gefladder van ’n fluister.

Hamlet staan onaangeraak. Die leser bly agter wasige glas.

Jonathan Amid is ’n vryskut-taalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.