Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeke ’n fees vir die kind se oog

Vir Suid-Afrikaanse uitgewers op soek na wins is dit veel goedkoper om goeie Europese prenteboeke te vertaal. Tog moet die potensiaal van plaaslike prenteboeke om menings te vorm nie onderskat word nie, skryf Piet Grobler.

Te oordeel na die winkelrakke lyk dit of die prenteboekbedryf goed vaar: Daar is ’n stewige aanbod vir prenteboeklesers, veral in Engels, terwyl daar in Afrikaans talle vertaalde boeke – heelparty kommer­sieel en maklik verteerbaar soos oliebolle – beskikbaar is.

Protea Boekhuis se vertalings van uitstaande Europese prenteboeke is van onskatbare waarde. Vir uitgewers is dit natuurlik aansienlik goedkoper om boeke van elders te vertaal as om ruim in plaaslike talent te belê, maar ek twyfel nie vir ’n oomblik dat daar plaaslik oorgenoeg talent is nie. Hier behoort eintlik jaarliks iets van die kaliber van Ingrid Mennen en Irene Berg se Ink (2016) of Marita van der Vyver en Dale Blankenaar se Olinosters op die dak (2015) te verskyn.

Ongelukkig het baie plaaslike prenteboeke nie altyd murg in die pype nie. ’n Mens moet seker onthou uitgewers is nie in die eerste plek in die kultuurbedryf nie en moet geld maak. Dit is waarskynlik waarom hoofstroom-heruitgawes van ou kinderreekse op TV steeds aan die orde van die dag is.

Jacana, wat onlangs drie aantreklike boeke deur gesoute Suid-Afrikaanse skrywers en illustreerders uitgegee het, moet dus gelukgewens word met hul bydrae tot die bevordering van Suid-Afrikaanse prenteboeke.

  • Aitsa! Thoko (R120) deur Niki Daly is ’n selfleesboekie met illustrasies vir kinders van omtrent nege wat meer wil lees as die teks in prenteboeke. Die alledaagse avonture van ’n dogtertjie – ’n snipperige maatjie, ’n verjaardagpartytjie en ’n blindedermoperasie – word simpatiek in woorde en prente weergegee sonder om paternalisties te wees.

Thoko woon in ’n kontemporêre “swart” omgewing met presies dieselfde wel en wee wat ’n mens in ’n “wit” buurt sal teëkom – hoe dan anders! Jong lesers, ongeag ras, sal met die sjarmante karaktertjie en gebeure kan identifiseer.

Daly het sekerlik meer as enige ander prenteboekmaker gedoen om ’n verteenwoordigende Suid-Afrikaanse samelewing uit te beeld. ’n “Normale” Suid-Afrikaanse samelewing sonder rassevooroordeel sal in ons kinders se tyd ’n werklikheid móét word, en in hierdie verband kan die potensiaal van kinderboeke om menings te vorm nie onderskat word nie. Die intertekstuele verwysing na Niki Daly (’n man met ’n koddige hoed wat voorlees by die hospitaal en ook verskyn op die voorblad van Not So Fast, Songololo wat Thoko vir haar verjaardag kry) is interessant en plaas die boekie in die konteks van die veranderings wat plaasgevind het sedert 1986 toe Not So Fast, Songololo uitgegee is. Dit het ’n ikoniese boek geword wat die “normalisering” van swart karakters uitbeeld in ’n “wit” kinderliteratuurlandskap. Die afwesigheid van enige belangrike manlike karakter in Aitsa! Thoko probeer dalk ook iets sê oor afwesige pa’s in soveel Suid-Afrikaanse huise.

  • ’n Nuwe boek deur die veteraan-skrywer-illustreerder en M.E.R.- en Katrine Harries-pryswenner Joan Rankin is altyd welkom. Met Gouelokkies en die drie renosters (Jacana, R110) stel sy ook nie teleur nie en skep soos gebruiklik haar karakters as sjarmante, simpatieke karikatuurtjies in pastelkleure.

Die grafiese ontwerp laat die boek egter in die steek deurdat daar te veel leë ruimte is wat nie sinvol verduidelik kan word nie. Wit ruimte wat die ontwerp elegant laat asemhaal, is iets anders. Het die illustreerder en ontwerper verskillende formate in gedagte gehad? Heelparty illustrasies wat dramatiese trefkrag kon hê, maak dus nie genoeg indruk nie.

Die verinheemsing van Gouelokkies is ’n slim idee met heelwat potensiaal vir ’n prettige boek – Afrika het immers nie bere nie. Behalwe dat ons hier drie renosters en ’n Gouelokkies met ’n Afrika-haarstyl kry, is die res van die storie identies aan die ou bekende. Ek dink ’n kreatiewer naam kon vir die kind gekies word, want die “klassieke” naam maak hier gewoon nie sin nie.

  • Wendy Hartmann het met die skryf van heelparty bekende prente- en kinderboeke haar stempel in Suid-Afrika afgedruk. Die singende klip (Jacana, R120) wat deur die illustreerderpaar Chantelle en Burgen Thorne geïllustreer is, vertel ’n storie wat iewers op ’n Suid-Afrikaanse vissersdorp afspeel.

’n Dogtertjie met die naam Storm word gebore met die vermoë om die elemente met haar sang te beheer. Dit is baie nuttig in ’n vissersgemeenskap, maar towerkrag bring dikwels ook hebsug en ongeluk mee, en Storm moet gevolglik voortdurend ’n misterieuse vrou systap wat haar probeer manipuleer om haar stem te gebruik om die elemente te beheer.

Wanneer haar broers op see in die moeilikheid beland, besef Storm die waarde van familie en word haar gebed van liefde en vertroue ’n gesprek met die natuur eerder as manipulering daarvan. Die trant van die storie en sommige van die karakters herinner aan Ierse volksverhale, maar die vissershuisies help wel om die milieu van ’n Kaapse vissersdorp te skets.

Die romanties-realistiese illustrasies behoort algemene byval te vind en die versorging van die boek, wat ook in Engels, Xhosa en Zoeloe beskikbaar is, is keurig.

  • Protea Boekhuis het op hul beurt die Afrikaanse boekie Wanneer is eendag? (R150) deur Elsa Winckler deur Elsa Winckler met illustrasies deur Marleen Visser op hul publikasielys. Vanweë die taamlik uitgebreide teks funk­sioneer dié boekie as ’n geïllustreerde kinderboek eerder as ’n prenteboek.

Abella is ’n feetjie wat wens sy kan grootword sodat sy mooier kan wees en kan doen wat die groter feetjies kan doen. Dit is ’n verhaaltjie oor geduld en die natuurlike gang van die lewe waarin digitale tegniek soms heel treffend gebruik word, hoewel die uitwerking onsimpatiek is. Die kunstenaar het uitstekende skildervaardigheid in akriel- en olieverftegniek, mediums wat na my mening die natuurlike omgewing van ’n Kaapse berg- en fynboslandskap veel beter sou uitbeeld. Sy skep hier wel ’n gesellige en kennelik Suid-Afrikaanse milieu. Al het dié feetjieboek nie die diepgang van die hoogs onderskatte Fynbosfeetjies (2007) deur Antjie Krog en Fiona Moodie nie, sal die helder volkleurillustrasies wat die geskrewe teks beaam, menige dogtertjie lank vermaak.

    • Dino poef ’n planeet (Human & Rousseau, R130) deur Tom Fletcher en Dougie Poynter met illustrasies deur Gary Parsons is ’n vertaalde boek. Dit is so dat kleuters ’n eindelose aptyt vir skatologiese grappies het en ’n slim boek of twee met sodanige geurtjie het al die lig gesien. Die Hans Christian Andersen-medaljewenner Wolf Erlbruch se uitstekende Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het (ook deur Human & Rousseau uitgegee) het die baan geopen vir ’n groot trop na-apers wat elke jaar iewers op die mark uitpeul.

    Dino poef ’n planeet se illustrasies is, hoewel vernuftig en professioneel uitgevoer, geïllustreer in ’n generiese visuele taal wat wemel van voorspelbaarhede – insluitend ’n oorheersende bruin palet en jaartse en jaartse poef. Nóg die teks nóg die prente is slim of regtig snaaks, maar dit sal sekerlik geld maak, soos Leeuloop-musiek. Wat ’n pot bollie.

    • Ten slotte ’n vertaalde prenteboek wat die gemoed ophelder, die boekrak verryk en die leser met ’n glimlag laat: ’n Afrika-storie wat van elders af kom en tegelyk ’n groot kommersiële sukses is – én dit met grasie en vernuf doen. Julia Donaldson en Axel Schefler van Die Goorgomgaai-faam het Die Lelike Vyf (Protea, R150)geskep en Philip de Vos het dit in rym vertaal. Wat meer kan ’n mens voor vra?

    Hoewel hulle minder glansryk en statig as die savanneveld se Groot Vyf is, kruip Blouwildebees, Hiëna, Aasvoël, Vlakvark en Maraboe gou in ’n mens se hart. Hulle is lelik, en hulle weet dit. Party van hulle het nog nare maniere ook, soos om in die modder te rol en asblikke te plunder.

    Die Lelike Vyf val in die pad om hulleself uit die samelewing te verwyder. Die einde is pragtig. Hulle word tog bemin en waardeer en is wel lieflik vir iemand!

    Maar gaan lees eerder self hoe hierdie liewe en grappige boek afloop.

    • Piet Grobler is ’n bekroonde kinderboekillustreerder, medestigter van die International Centre of the Picture Book in Society, en besoekende professor aan die Universiteit van Worcester in Brittanje.
    Meer oor:  Kinderboeke  |  Resensie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.