Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeke vir lui dae in vakansie

Met watter lekker boeke gaan skrywers en resensente dié vakansie tyd deurbring? En wat sal hulle graag in die Kerskous wil hê? Boeke24 het gaan hoor.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld of toonkrul-spookasem vir luilekker lees op die strand?Foto: ISTOCK

Irma Venter

Die boeke wat op my bedkassie vir my lê en loer sluit in die Noorweegse skrywer Jørn Lier Horst se misdaadroman The Cabin, Alexandra Fuller se nuutste boek, Travel Light, Move Fast, en The Lost Art of Scripture deur Karen Armstrong. Ek is ’n groot aanhanger van Fuller, wat op ’n besonderse manier na Suider-Afrika kyk, en wie kan dan nou ’n goeie Skandinawiese naelbyt-riller weerstaan? Armstrong se werk oor godsdiens en die tekste wat daar rondom gebou is, beloof om baie interessant te wees.

My Kersfees-wenslysie is langer as my arm en veel duurder as wat my bankrekening toelaat, so ek hoop die regte mense lees hierdie woorde! Ek sou graag Deon Meyer se Spoor present wou kry, asook Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld. En enigiets van Natsuo Kirino, die Japanse misdaadskrywer, sal beslis ook welkom wees.

My wenslysie is langer as my arm en veel duurder as wat my bankrekening toelaat, so ek hoop die regte mense lees hierdie woorde!
IRMA VENTER
Rudie van Rensburg

Jo Nesbo se nuwe riller, Knife, is reeds op my bedkassie. Die boek, waarin Harry Hole wakker word met bloed aan sy hande sonder enige idee hoe dit daar gekom het, lui die donkerste saak van sy nou wankelende speurloopbaan in. Dit beloof om weer ’n Nesbo-treffer te wees.

Dan wag Etienne van Heerden se nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, op my. Ná sy meesleurende meesterstuk, Die wêreld van Charlie Oeng, van twee jaar gelede, verwag ek om met hierdie nuwe roman weer weggevoer te word in Van Heerden se betowerende woordwêreld.

Ek het ook reeds geskimp dat een van my gunsteling-misdaadskrywers, Chris Karsten, se nuwe boek, Anderman se vrou, ’n baie goeie keuse vir my Kerskous sal wees.

Tussendeur gaan ek ’n paar niefiksie-boeke vir navorsingsdoeleindes lees ter voorbereiding vir ’n toekomstige boek – almal met ’n Midde-Oosterse geurtjie.

Lien Botha

Hierdie Krismis slaan ek my oë op na slegs een boek: Die biblioteek aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden.

Hierdie Krismis slaan ek my oë op na slegs een boek: Die biblioteek aan die einde van die wêreld.
LIEN BOTHA
Marita van der Vyver

Ek het twee boeke as vroeë Krismispresente gekry – en myself met nog een bederf – so ek hoef nie te wag vir enigiets onder die Kersboom nie.

Die eerste present is Julian Barnes se beeldskone “rooi boek”, The Man in the Red Coat, ’n fassinerende woordportret van die Belle Époque in Parys. Die hardeband-uitgawe het boonop die mooiste omslag en endpapers wat ek in jare gesien het.

Die tweede present is ’n plaaslike historiese roman van ’n Suid-Afrikaanse skrywer wie se woordkuns ek nog altyd bewonder het: A Sin of Omission van Marguerite Poland. Die fiktiewe hoofkarakter is gegrond op die lewe van eerwaarde Stephen Mtutuko Mnyakama tussen 1860 en 1885 in die woeste wêreld van die Oos-Kaap.

Clinton V. du Plessis

Ek het ’n stewige stapel om die tyd mee te verwyl.

Dit is egter ouer publikasies wat ek vanjaar tweedehands bekom het, soos twee van Karl Ove Knausgaard se opspraakwekkende outobiografiese skrywes, Boyhood Island en Dancing in the Dark, Orhan Pamuk se lywige A Strangeness in My Mind en ’n getekende eksemplaar van Jan van Tonder se Die verevrou.

Vir die Kerskous sou ek hoop vir Vandag is boordensvol, vertalings uit die werk van Pablo Neruda deur De Waal Venter.

Ingrid Winterbach

Die roman wat ek op die oomblik die graagste in my Kerskous wil hê, is Lucy Ellmann se Ducks, Newburyport (2019). ’n Bewussynstroom-roman, wat hoofsaaklik bestaan uit ’n enkele sin, meer as ’n duisend bladsye lank. Die sin word (gelukkig darem) in bysinne opgedeel en geskei deur kommas en kommapunte.

Dit het nou tyd geword dat ek The Emperor of All Maladies: A Biography of Cancer, van die New Yorkse onkoloog, Siddhartha Mukherjee (2010) lees. Ek dreig al so lank om dit te doen. Miskien nie bepaald Kersleesstof nie, maar nou ja, wat ís nou eintlik geskikte leesstof vir Kersfees?

Ter afwisseling van dié twee dikke boeke, wil ek baie graag Carlo Rovelli se dun boekie, Seven Brief Lessons on Physics (2014) lees, uit die Italiaans in Engels vertaal. Een resensie beskryf dit as “quantum theory made charming”. Hoeveel ek daarvan sal verstaan, weet ek nie, maar ek kan ten minste probeer. En as ek deur kwantumteorie gesjarmeer kan word, waarom nie?!

Laastens sien ek báie daarna uit om Lou-Marié Kruger se pasverskene Of Motherhood and Melancholia: Notebook of a Psycho-Ethnographer te lees. Sy is sowel terapeut as akademikus en die boek handel hoofsaaklik oor haar ervaring in hierdie hoedanigheid van die lewe van veral vroue in ’n baie arm gemeenskap.

Johan Myburg

Anders as lees om den brode bied vakansie-lees vryheid en is dit pure luukse; tyd om dié boeke nader te trek wat op “hopie B” lê.

Ek lees op die oomblik Hermann Hesse se Narcissus and Goldmund, ’n boek wat 90 jaar later nog net soveel oor die betekenis van die lewe te sê het as in 1930. Twee vorige romans, Siddhartha (1922) en Steppenwolf (1927), is ook optimisties gesproke op dié lysie. As dit by herlees kom, J.M. Coetzee se Foe van 1986. ’n Merkwaardige boek.

Op die A-hopie lê Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld en wag en so ook Christo van der Westhuizen se Chrisalis, ’n bundel wat vroeër vanjaar verskyn het, en Ronelda Kamfer se Chinatown wat onlangs verskyn het.

Vir die Kerskous hoop ek op ’n mooi leeslamp aan die kopkant van my sofa. Om nog meer te kan lees.

Deon Meyer

Daar’s nie tyd vir vakansie nie, ek sal moet skryf! Maar Desember is tog stiller en my leeslys lyk só:

The Irrational Ape (David Robert Grimes), The Last (Hanna Jameson), A House Divided (Crispian Olver), A Gentleman in Moscow (Amor Towles), A Man Called Ove (Fredrik Backman) en Confessions of a Bookseller (Shaun Bythell).

Ek hoop om Ronan Farrow se Catch and Kill in die Kerskous te kry.

Vir wie graag uitstekende vertalings lees, kyk net binne-in na die naam van die vertaler: Daniel Hugo.
ABRAHAM H. DE VRIES
Abraham H. de Vries

Kom ons begin met Kerskouse: John Coetzee van Nobelprys-faam is volgende jaar 80. Sy Nederlandse uitgewer, Cossee, vier dit met ’n uitgawe van sy nuwe bundel kortverhale en die laaste roman in die Jesus-trilogie, The Death of Jesus, wat al hier verkrygbaar is.

Maar Vader Krismis het ook mos twee kouse! Dus tweede kous: Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld is volgens Johann Rossouw se resensie uitstekend; ek het eerbied vir sy insigte.

Nou die vakansie-moontlikhede. Word wakker met Azille Coetzee se In my vel; lees Kerneels Breytenbach se Hond se gedagte om te wete te kom wat voetbal en godsdiens vir mekaar te vertelle het; moenie as Kerspresente by enige Dana Snyman verbyloop en Ingrid Winterbach se Die troebel tyd ongelees laat nie.

Vir wie graag uitstekende vertalings lees, kyk net binne-in na die naam van die vertaler: Daniel Hugo – jy sal nie agterkom dit was Nederlands nie.

André Krüger

Soos meeste skrywers en lesers, leef ek in die waan dat ek al die boeke op my rakke nog gaan lees.

Dis nie realisties moontlik nie, want om dit reg te kry sal ek omtrent 456 jaar oud moet word. Daarom het ek rakke van boeke wat ek beslis nog gaan lees, hopies wat ek definitief beslis nog gaan lees, ’n hopie wat ek absoluut beslis definitief nog gaan lees, en die handvol wat ek nou gaan lees.

In laasgenoemde lê op die oomblik Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, Jane Rogoyska se Kozlowski, Philip Kerr se Doodsbleek (ek is baie opgewonde oor Zirk van den Berg se Afrikaanse vertaling), Yoko Ogawa se The Memory Police en Shoshana Zuboff se The Age of Surveillance Capitalism.

In my Kerskous wil ek tyd hê (om te kan lees en skryf) en ’n Aston Martin (enige model, dankie).

Kerneels Breytenbach

Die boeke wat ek opsy geskuif het vir Desember, maak my benoud. As ek hulle nie nou lees nie, sal ek nooit nie.

Dus, sodra ek klaar is metEtienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld, begin ek met Helen FitzGerald se Worst Case Scenario, Morag Joss se Half Broken Things, John le Carré se Agent Running in the Field, en Yuri Herrera se Signs Preceding the End of the World.

As dit dan nog nie Januarie is nie, wag Leo Damrosch se The Club: Johnson, Boswell, and the Friends Who Shaped an Age.

Wat ek graag in die Kerskous wil hê? Dat ek Kersoggend wakker word en skielik weet dat die hele Zuma-era net ’n nagmerrie was, en die lewe is steeds ’n fees.

Gert van der Westhuizen

My leeslys vir die Kerstyd klink soos ’n plaaslyn van ouds: twee kortetjies en ’n lange.

Ek het James Joyce se Giacomo Joyce ná ’n lang gesoek uiteindelik onlangs raakgeloop en kan nie wag om dit ’n keer of drie te lees nie. Daarna wag Peter Handke se A Sorrow Beyond Dreams, net so ’n verrassende ontdekking. Olga Tokarczuk se Drive Your Plow Over the Bones of the Dead was ’n geskenk, maar ek gaan dit beslis nie lees omdat ek verplig voel nie. Haar Flights het onlangs van my ’n oortuigde bewonderaar gemaak.

Intussen sal ek aanhou om brief per brief te proe aan Lie on Your Wounds, ’n versameling van Robert Sobukwe se liriese en roerende korrespondensie in gevangenskap. Ek wou niemand opsaal met my lywige wenslys vir Kersfees nie en het besluit om myself eerder te bederf met Karel Schoeman se drieledige Bailie’s Party

Jonathan Amid

Die vierde kwartaal van 2019 het die allerheerlikste leesstof gelewer.

Marita van der Vyver se Grensgeval, Chris Karsten se Anderman se vrou en Irma Venter se Sewe-en-Veertig het my beïndruk, so ook Jonny Steinberg se One day in Bethlehem, terwyl Finuala Dowling se Okay, Okay, Okay en Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld, my enduit geboei en geprikkel het.

Veral Van Heerden se roman sal ’n uitstekende Kersgeskenk wees, so ook Carina Stander se Die wonderwese, die tweede van drie boeke in haar fantastiese reismistiek-reeks.

Ek sien uit om die vertaling van Deon Meyer se Prooi, The Last Hunt, Salman Rushdie se Quichotte, Lee Child se boek oor helde, The Hero, Malcolm Gladwell se Talking to Strangers en The Age of Surveillance Capitalism deur Shoshana Zuboff oor die feestyd te lees.

Meer oor:  Lees  |  Boeke  |  Vakansie  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.