Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boeke vlek tabakbedryf wawyd oop

Is die verbod op tabakhandel konstitusioneel geregverdig? Waar lê die balans tussen individuele menseregte en die openbare belang, wonder Johann Kriegler nadat hy Telita Snyckers se ‘Dirty Tobacco’ en ‘Tobacco Wars’ deur Johann van Loggerenberg onder oë gehad het.

Dirty Tobacco: Spies, Lies and Mega-Profits – A SARS Insider Spills the Beans on Global Crime deur Telita Snyckers. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R295.

Tobacco Wars: Inside the Spy Games and Dirty Tricks of Southern Africa’s Cigarette Trade deur Johann van Loggerenberg. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R320.

Die verbod op tabakhandel het landwyd heftige weerstand ontketen en ’n mens wonder wat op aarde die regering besiel het om te gaan staan en krap waar dit nie jeuk nie – of ten minste wat nóú, in hierdie tyd van groot beproewing, nie juis so erg jeuk nie.

Dit is tog dwaas om ongevraagd teenstanders te skep wanneer ons – die owerheid én elkeen van ons – so dwingend bondgenote nodig het. ’n Mens se gesonde verstand sê om die noodsaaklike dog ongewilde maatreëls teen Covid-19 te bevorder – inderwaarheid hoegenaamd afdwingbaar te maak – is die heelhartige steun van die gemeenskap ’n voorvereiste. Dit bly daarom ’n raaisel waarom die kabinet ingestem het tot dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se tabakverbod wat ’n groot deel van die bevolking nie net vervreem nie, maar na die sluikhandelaars dryf.

Dit is tog verstaanbaar hoekom die rookgewoonte, ondanks al die waarskuwings en toenemend strenger optrede van owerheidsweë, wêreldwyd steeds floreer. Nikotien, die aktiewe bestanddeel in tabak, is ’n besonder verleidelike en verslawende stof (glo heelwat taaier as die opioïede), tegelyk ’n stimulant én kalmeermiddel, aptytwekker én hongerstiller, die arm man se trooster en veral ’n geliefde metgesel van alkohol, die wêreld se ander gunsteling-dwelm.

Bowendien beskik die tabakreuse almelewe oor baie geld en die magtigste, superbeste reklame- en bemarkingsghoeroes wat op iedere snaar van die feilbare mens kan tokkel. Wie kan vergeet hoeveel onuitgesproke beloftes daar vir die dofste bleeksiel in ’n Marlboro of Peter Stuyvesant geskuil het? Die tabakbedryf se beeldpoetsers laat Bell Pottinger-hulle soos Sondagskoolonderwysers lyk.

Sigarette is veerlig, handig verpak en gebruikersvriendelik; dit het ’n lang raklewe; dis gerieflik om te verpak, versprei, berg en verhandel; en dis verspotgoedkoop om te vervaardig – só goedkoop dat fabrikante, vernaam die Chinese nasionale vervaardiger, spesiaal “cheap whites” vervaardig vir die sluikhandel. Dié goed is natuurlik éérs ongesond met ’n oormaat nikotien en nugter weet watse onsuiwerhede. Ouer lesers sal moontlik die Rhodesiese Tom-Toms onthou wat teen tien vir ’n pennie onder mynwerkers met Max meegeding het.

Industrialisering en ’n wêreldekonomie het meegebring dat miljarde sigaretrokers van Beijing tot Brakpan deesdae etlike duisende miljarde sigarette verbrand. In 2012 is bereken daar is sowat 7,7 miljoen rokers in Suid-Afrika wat teen ’n gemiddeld van 11,4 sigarette elk per dag dus sowat 880 miljoen sigarette per dag rook. Dit kom neer op 32 miljard sigarette per jaar met ’n geldwaarde van R22 miljard (benewens die sowat R8 miljard in die sluikhandel).

Inaggenome dié enorme finansiële en maatskaplike impak van sigarethandel, wat is dan die verantwoordelike reaksie op die tabakverbod? Steun of teenstand, berusting of opstand? Daar is natuurlik etlike fasette om te oorweeg benewens die verontwaardiging (en onttrekkingsnood?) van ons miljoene rokers: verlies aan staatsinkomste, skade aan die hele tabakbedryf – van boer tot spazawinkelier – plus, natuurlik, die beginselvraag of die verbod grondwetlik geregverdig is, met ander woorde: Waar lê die balans in hierdie geval tussen individuele menseregte en die openbare belang?

Dít is netelige vrae en daarom is dit so ’n gelukkige toeval dat daar tans twéé boeke op plaaslike winkelrakke pryk wat fokus op die tabakbedryf in die Suider-Afrikaanse konteks. Albei boeke kyk uit wesenlik dieselfde invalshoek na die onderwerp, en gevolglik sou lesers wat daarin belang stel, met enigeen van die twee kon volstaan. Albei is opsigself onderhoudend-boeiend, toeganklik en kennelik propvol gesaghebbende inligting. Nietemin is dit ruim die koste en moeite werd om, soos hierdie resensent, die onderwerp aan die hand van albei te bekyk. Saam vorm die boeke ’n besonder insiggewende handleiding, die een breed benader, die ander skerper gefokus.

Snyckers se Dirty Tobacco bied ’n breë historiese en geografiese oorsig van die ganse tabakwêreld en boekstaaf met vers en kapittel hoe verwerplik-smerig die bedryf is en zoem dan in op die gebeure in en om Suid-Afrika. Van Loggerenberg se paar maande ouer Tobacco Wars verskaf voetsoldaatbesonderhede vanuit die buik van die dier.

Die bewerings en bewysplase is skrikwekkend, nie net weens die misdadigheid wat dit blootlê nie, maar ook weens die omvang daarvan.

Snyckers is saaklik en gesaghebbend met haar bekendstelling van die hoofrolspelers en hul oneindig geslepe invloed in die reuse- internasionale tabakbedryf (“misdadigheid is in hul DNS”).

Van Loggerenberg, daarenteen, praat uit die hart (ofskoon dit soms ’n bietjie forensies klink) en bied onbeskaamd sý siening van sake. Hy is ’n slagoffer van die konkelaars en sy ontgogeling en pyn lê nog baie vlak. ’n Mens word vertel hoe hy ten behoewe van die tabakskurke verlei, verraai en verneder is, hoe die kritieke veldslag wat hy teen die tabakboewe sou begin, op die nippertjie gefnuik, sy naam beswadder en sy loopbaan geknak is.

Albei boeke is eerlik en onpretensieus, soos die Engelse sê: WYSIWYG (wat jy sien is wat jy kry). Dirty Tobacco is ’n verdoemende klagskrif teen die internasionale tabakbedryf as sodanig wat bewys hoe oorheersend gevaarlik, bedrieglik en vernietigend tabakreuse soos British American Tobacco (BAT) en Philip Morris International eintlik is. Op sy beurt is Tobacco Wars ’n soms driftige dog deurgaans geloofwaardige gids deur die mynveld wat in en om die tabakhandel in Suid-Afrika aangelê is en ons steeds bedreig.

Die oorkoepelende onderwerp van die twee boeke is die invloed wat die tabak-kolosse wêreldwyd uitoefen, en die tentakels wat hulle in talle lande se wetstoepassings-, veiligheids- en belastingstelsels ingeslaan het, selfs in hul wetgewende organe. Let wel, dis nie belastingontduiking, geldwassery en dergelike kunsgrepe van internasionale woekeraars nie, maar hoogs verfynde rampokkery en koverte gekonkel – “molle” en meeluistering, infiltrasie, spioenasie, afpersing, vervalsing en bedrog, moorddadige roof- en kaaptogte en, natuurlik, korrupsie.

Die bewerings en bewysplase in Dirty Tobacco is skrikwekkend, nie net weens die misdadigheid wat dit blootlê nie, maar ook – en straks meer – weens die omvang daarvan. Die British American Tobacco’s, Philip Morris Internationals en Japan Tobacco Internationals is magtiger, hul kapitaalreserwes vetter en hul vaardighede skerper as die oorgrote meerderheid nasionale regerings met wie hulle dekades lank in ’n wanverhouding voortbestaan. Snyckers is besonder skerp in haar ontbloting van die wanvoorligting, fopnuus, skynwetenskap en gewoonweg leuenagtigheid waarmee die groot sigaretvervaardigers die feite bewimpel en verdraai, en fortuine bestee aan skynheilige liefdadigheid ter behoud van hulle verwerplike produk.

Maar hoewel dit fundamenteel gaan om gewigtige stof, veral staatsintegriteit en ondermyning van die regsorde, is die tabakstorie inherent ook ’n spanningsverhaal. Dis trouens ’n fassinerende relaas waar die feite dikwels vreemder is as fiksie. Snyckers laat volwaardig reg geskied aan hierdie intrige, soms met ’n tikkie droë sinisme. Belangriker uit die lesersoogpunt is dat albei boeke betreklik ligte leesstof is, die taal netjies versorg, die styl gemaklik. (Durf ’n Afrikaanssprekende resensent ’n waarde-oordeel waag oor die Engels van ’n Afrikaanssprekende skrywer wat ’n Engelstalige boek geskryf het?)

Snyckers verstrek ’n menigte bewysstukke – dokumente, opnames en e-materiaal – wat oortuigend aandui hoe BAT vanuit Londen vir sy Suid-Afrikaanse filiaal, Batsa, die nodige deskundigheid verskaf deur middel van skadufigure uit die Britse spioenasiedienste (MI5 ingesluit – James Bond se mense).

Soms knoei hulle in samespanning met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Valke en misdaadintelligensie, ook spoke uit ons staatsveiligheid en selfs die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Van Loggerenberg voltooi die detail haarfyn en beskryf saaklik en oortuigend hoe dié groepering vir hom en sy span spesiale SAID-ondersoekers die lewe versuur en hulle om elke draai probeer dwarsboom het.

Die verhaal wemel van skadukarakters, die “usual suspects”, soos die huurmoordenaar Mikey Schultz, die sterkman Mark Lifman, Glenn Agliotti, Julius Malema se huisbaas en gabba Adriano Mazzotti, Tom Moyane en Vittorio Massone van die eens befaamde Bain & Company plus, vanselfsprekend, oudpres. Jacob Zuma en sy seun. Daar’s talle besonderse rolspelers só uit Hollywood se central casting: Hendrik “Highway Hennie” Delport, ’n bobaas-smokkelaar; Tribert Ayabatwa, ’n Burundese multimiljoenêr wat af en toe sy lyf sigaretsmous hou; Lonrho, wat kapitalisme sy slegte naam gegee het; en sulke alte bekend-klinkende boerename soos Peerie Spangenberg, lt.kol. Hennie Sus en brigadier Casper So (dalk vergete oorblyfsels uit die ou bedeling?).

Snyckers is plek-plek so amper in die Le Carré-klas met ’n verhaal van komplotte, teenkomplotte, komplotte binne komplotte, “diep molle”, spioene en die fataalste femme fatale sedert Delila: Be­linda Walter is ’n eertydse prokureur van Pretoria wat in ’n ongelooflike kragtoer tegelyk gespioeneer het vir en teen die Staatsveiligheidsagentskap, maar ook vir en teen BAT en sy veiligheidskonsultant, Forensic Security Services, én dié se geswore mededinger Carnilinx. Intussen stig en lei sy ’n sigaretvervaardigersdrukgroep.

Dít alles vermag me. Walter sito-sito bedags terwyl sy ná-ure Van Loggerenberg, die hoof van die belastingspeurders, in die kooi fopinligting voer en pols om geheime te verklap. Middelerwyl is sy sommer ook Carnilinx se prokureur en voer sy dienswillige joernaliste fopnuus oor haar minnaar en sy span. Heel vanpas word haar vertoning afgesluit met ’n verrassende kunsgreep: Eensklaps verdwyn die dame spoorloos. (Ingeligte bronne wil dit hê sy’s in Somalië, glo saam met haar voormalige hanteerder by die Staatsveiligheidsagentskap.)

Die grootste haan op die Suider-Afrikaanse tabakhoop is ongetwyfeld Batsa, filiaal van wat op twee na die grootste tabakhandelaar ter wêreld is, ’n magtige internasionale speler met ’n asemrowende omset. Van Loggerenberg stel Batsa se markkapitalisering in 2016 op sowat R1,5 duisend miljard, met 14 000 werknemers en 150 000 kleinhandel-verkooppunte.

Die kernmoment in Tobacco Wars, tot die mate wat daar een is, gaan om Van Loggerenberg en sy span se Project Honey Badger, ’n haarfyn beplande en landwyd gekoördineerde operasie waarmee hulle in 2013-’14 beoog het om die tabaksluikhandel in die land ’n nekslag te gee en, in die verbygaan, die staatskas met honderde miljoene se boetes te styf. Die meeste van ons weet so breedweg dat die plan gekelder is toe Van Loggerenberg en feitlik die hele bestuurspan by die SAID summier deur die pas aangestelde kommissaris, Moyane, in die pad gesteek is. Hulle planne is laat vaar, hul strukture afgetakel en die land is ’n enorme aksynsverlies toegedien. Die skurke het gewen, soos gewoonlik. Van Loggerenberg was daar en vertel hou vir hou hoe en hoekom dit gebeur het.

Beroepswedders se geld sou deurgaans op die twakmanne gewees het. Snyckers s’n ook. Sy weet Groot Tabak gooi nooit tou op nie en vertel hoe smokkelaars en aksynsmanne lankal hul dodelike spel speel, feitlik sedert tabak doer in die 16de eeu in Europa aangekom het, lank voor die Mafia en die Colombiaanse dwelmkonings. Sigarette is sedert hul gemeganiseerde vervaardiging in die 1880’s die primêre (wettige en onwettige) tabakproduk, met astronomiese winsmarges. Die grootste pluspunt is egter hul relatiewe legitimiteit. Die gereg stuur tikhandelaars voor die voet en lánk tronk toe, terwyl ’n sigaretsluikhandelaar hoogstens ’n boete riskeer. Sy produk is mos nie opsigself onwettig nie, net die wyse waarop jy daarmee handel dryf.

Snyckers vertel (in een van verskeie uiters interessante byvoegsels) van ’n voorkomingsopdrag tydens die Groot Pes van 1665 aan skoolseuns op Eton dat daar geróók moet word. Ten tyde van die skryf van die boek was die skrywer natuurlik onbewus van die kostelike ironie dat ons vir ons beskerming teen die Groot Pes van 2020 met tronkstraf bedreig sou word as ons sou durf om ’n rookdingetjie te koop.

Ewenwel, volgens ’n navorsingseenheid aan die Universiteit van Kaapstad kry 93% van respondente steeds sigarette in die hande, weliswaar teen aansienlik verhoogde pryse, terwyl die gevaarlike deelrook van sigarette met 430% toegeneem het. Die doelwit van die tabakverbod – om rokers gesondheidshalwe te dwing om op te hou – word dus ondermyn: Hulle rook steeds, deelrook neem toe, en die skelms lag al die pad bank toe.

Daar is ’n tegniese nagedagte. Dirty Tobacco se bronnelys is ’n goudmyn van tersaaklike inligting. Enigiemand wat meer oor enige aspek van die onderwerp wil uitvind, hoef niks verder as Dirty Tobacco se bronnelys te gaan soek nie. Oor die indeks swyg ’n mens liewer. Tobacco Wars, weer, maak geen aanspraak op akademiese diepte nie. Dit is ’n feiteryke relaas van ’n ingewikkelde en aaneenlopende reeks skermutselings teen diverse konkelaars aan verskeie fronte en wyses. Dié word alles in ’n deeglike indeks georden en toeganklik gemaak.

Van Loggerenberg en Snyckers het vir ons die feite en uitdagings uitgestippel. Daarvoor is ons hulle dank verskuldig.

’n Mens vra dan wat gemaak moet word met Dlamini-Zuma se hubris. En moet ons lag of huil as Bheki Cele, minister van polisie, breëbors verkondig hý sal met padblokkades en klopjagte die verkoop van drank en tabak verhoed? Glo hy werklik dié snert, of dink hy óns glo dit? Afgesien van die futiliteit van die oefening meen NDZ en haar meestanders werklik jy kan ’n gevestigde gemeenskapsgebruik met ’n pennestreep, stywe lippies en kragdadigheid uitwis? Die rookgewoonte bestaan immers feitlik so lank as die mensdom self, en daarmee saam die stryd om beheer daaroor.

Is dit nie nietemin noodsaaklik dat die staat dit sy erns maak om doelgerig en doelmatig die daad by die woord te probeer voeg nie? Enersyds is dit ter behoud van die regsorde noodsaaklik dat die staat se “nee” inderwaarheid sy nee is; andersyds durf ons nie ons beperkte middele in bodemlose putte smyt nie. Maar ook: Is dit staatkundig verantwoord om miljoene andersins wetsgehoorsame nikotienverslaafdes tot misdadigheid te dryf – en gaan ons werklik honderde of duisende strafsake sien waar desperate rokers teregstaan op aanklag van die onwettige koop van sigarette?

Ongeag wat van owerheidskant besluit (of gedoen) word, wat staan ons as verantwoordelike burgers te doen?

Op die oog af is daar vir hierdie resensent geen duidelike aanduiding duskant of anderkant toe nie, ten beste ’n minder slegte keuse.

Moontlik lojale verset?

  • Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.