Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Akademie verpas ‘hype’-bus met g’n kortlyste
Jo Prins

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se toekenning van die Hertzog- en Eugène Marais-prys was vanjaar weer besielde keuses.

Ek kan my beswaarlik ’n meer verdienstelike digbundel as Johan Myburg se Uittogboek indink vir die Hertzog – en dieselfde geld Zola van Johan Jack Smith vir die Marais-prys.

Sou dit sinvol gewees het om te weet watter ander boeke in oorweging was? Het dit enige waarde vir die leser om ’n vlieg op die muur in die binnekamer van die Akademie te wees?

In enige ander tyd is dié erkenning deur die Akademie goud werd en dien dit as inspirasie vir die wenners, sowel as ander skrywers en voornemende skrywers.

Om nie eens van die geld te praat nie . . .

Kon die Akademie meer gedoen het met die aankondiging van die pryse? Moes daar kortlyste gewees het?

Maar in dié tyd waarin dit voel of die geskrewe woord al hoe meer onder beleg is, voel dit of pryse soos dié se gewig vertienvoudig het. Dink maar aan die beroerde situasie waarin koerante hulle bevind, tydskrifte wat hul deure sluit en die verkoop van boeke.

Kon die Akademie meer gedoen het met die aankondiging van die pryse? Moes daar kortlyste gewees het?

Na my gevoel: Nog ’n jaar, nog ’n kans verspeel.

Die Akademie, wat hom deur sy letterkundekommissie laat lei, val as’t ware gewoon uit die lug met dié pryse. Geen kortlyste vooraf nie, net: Hierso! Die wenners!

Nou, mense wat vertroud is met die situasie meen dit is die kommissie se werkwyse wat die bekendmaking van ’n kortlys belemmer.

Die kommissie wys vir elke prys ’n “verkenner” aan wat ’n soort kortlys saamstel van die boeke wat as pryswenners oorweeg behoort te word.

Hierdie kortlyste word op die vergaderings as riglyn vir besprekings gebruik, maar dien nie as amptelike kortlys nie, want dit gebeur dikwels dat kommissielede sterk motiverings bring vir boeke wat die “verkenner” oor die hoof gesien het.

Die laaste ding wat jy wil doen, is om verwarring te skep en afbreuk te doen aan die aard en statuur van die pryse . . . dat verskillende kortlyste “uitlek”.

Die kommissie sou ’n voorvergadering moes hou om eers oor kortlyste te beraadslaag wat ’n reeds tydrowende proses nóg meer sou vertraag.

Maar so what? Hoekom dié gesanik oor kortlyste?

Waar die bekendmaking van ’n Hertzog- of ’n Marais-prys goud werd is vir die wenners sou die boeke en skrywers op ’n kortlys geweldig baie baat kon vind bloot uit ’n bemarkingsoogpunt.

Dink maar aan ’n plakkertjie voorop skrywer X se boek wat lui: “Op die kortlys vir die Hertzogprys in 2020.”

Die boek én die skrywer wen en die lesende publiek kom onder die indruk van die prosesse agter die skerms, sowel as wat daar miskien nog gelees behoort te word.

Dis of die Akademie nie altyd die “mediamasjien” snap nie.

Maak jy die kortlyste (van, sê maar, vyf ander boeke) ’n week voor die wenners bekend, skep jy ’n teenwoordigheid in die eter vir die titels en die skrywers.

In gesprekke aanlyn en op sosiale media kan bespiegel word oor wie nou eintlik die wenner behoort te wees en dít, liewe Akademie, noem ’n mens gewoon die skep van ’n bietjie hype.

Doen dit afbreuk aan die statuur van die Akademie se pryse?

Vir my gevoel, glad nie.

Dis tyd, mense.

Tyd dat die Akademie en sy letterkundekommissie die deur op ’n skreef oopmaak.

* Jo Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg en redakteur van Boeke24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.