Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Die akrobatiese manipulering van taal

Dit vang jou onkant hoe mense gal afgaan as ’n woord hulle aanstoot gee. Mense breek potlode as hulle van ’n “toep” hoor of iemand in hul omgewing “potgooi”. Op Facebook tik die beleefste tannies in hoofletters as jy die MET!!! van SAAM MET weglaat.

Taal sit styf aan ons binnegoed vasgeplak. Dit is ’n reguit pad na ons hart; maar ook ’n handige lat om ’n ander mens mee by te kom. Deur die jare het ’n stel mites ontwikkel oor woorde wat kwansuis ongewens is. Foute, word hulle genoem. As ’n teksredigeerder (’n subredakteur of net sub) kan ek rapporteer hulle word amper nét deur ander subs foute genoem. Ek wil graag ’n lansie breek vir die ongewensde woorde, die woorde wat amper almal sê, maar nie op papier toegelaat word nie.

Soos “handig”, wat ek hier bo inspan. Subs word geleer om “handig” met “nuttig” te vervang, maar sedert die 1500’s word handig gebruik vir dinge wat gerieflik in die hand pas of na aan die hand is. Dit “kom handig te pas”, want dit pas in die hand. Die verbod op handig spruit uit die blote bestaan van die Engelse “handy”.

Taal sit styf aan ons binnegoed vasgeplak. Dit is ’n reguit pad na ons hart; maar ook ’n handige lat om ’n ander mens mee by te kom.

So mag vuurwerk nie ’n meervoud hê nie, het jy geweet? Jy neem ’n hand vol vuurwerk en skiet vuurwerk die lug in. Toe ek as sub begin het, kon ek my ore nie glo nie, maar oral waar ek gevra het, het subs geantwoord: “Ek het ook altyd gedink dis vuurwerke, maar het hier geleer dis net enkelvoud.” Jinne, het jy en al jou vriende dan jou hele lewe lank jou eie taal verkeerd gepraat? Hoekom so maklik aanvaar die koerant se subkantoor is reg? Net so met die verbod op mense wat “op ’n stadium” sê. In die taal mag jy net “in ’n stadium” skryf. Gesoute subs sê self “op ’n stadium”, maar almal skryf “in ’n stadium,” want wat sal die ander subs sê?

Nog verbode woorde: spandabelrig, spaarsamig, tweedehandse winkel (“dis mos nie die winkel wat tweedehands is nie,” lui die pedantisme). Maar dié logika maak ’n bespotting van “elektriese ingenieur” en “maatskaplike werker”.

Taal is nie wiskunde nie; dis konvensie: Dít wat mense sê, is reg.

Onmiddellik hoor ek iemand sê: “Selfs al skryf almal onmiddelik met net een L, sal dit nooit reg wees nie!”

Sal dit nie? Het jy geweet “aggressief” het in Nederlands net een G? Agressief. Waar kom die ekstra G vandaan? ’n Foutjie? Uit Engels? Wel. Almal skryf hom nou met twee G’s. En dis reg so.

Die woord wat my hier gebring het, is daardie nemesis van Afrikaanse subs: juggle. Jy weet, die akrobatiese manipulering van balle.

Miskien weet party van julle wat dit volgens die woordeboeke is: In Afrikaans “jongleer” ’n “jongleur”.

Kan ek asseblief rapporteer dat niemand in my familie- of vriendekring ’n blou benul gehad het wat dit konstateer nie. “Juggle” is wat ons sê wanneer ons juggle bedoel. Die woord kom net nie genoeg voor dat ons omgee om gou ons toon in die Rooisee te dompel nie. So wat van jongleer? Hy staan in woordeboeke en word af en toe opgesoek en deur hoopvolle vertalers gebruik. Maar amper altyd vind jy tog maar die “Engels” agterna in hakies. Wanneer word juggle Afrikaans?

Wat ek graag sou wou sien, is dat mense foto’s gewys word van dinge soos iemand wat jongleer, ’n “wipwa”, ’n “jenewer-en-kinawater”, ’n hand vol “vuurwerk”, ’n “vleiskoekie”, ’n “rymkletser”, ’n “skerpskertser”, ’n “blitskitswinkel”...En dan vra ’n mens net wat dit is. Nie “Wat dink jy moet dit in Afrikaans wees nie?”

Dís wat ek dink die ou Genootskap van Regte Afrikaners met hul naam bedoel het. Hulle wou hê mense moet Regte Afrikaans gebruik, nie opgemaakte wensdenkery nie. Daar is nog blou boeke vol taalmites – woorde, frases en konstruksies – wat subs moet afweer uit die taal uit, maar wat gewone mense daagliks uiter. Dit sou my hoendervleis gee as subs ophou sub vir ander subs.

  • Marius Visser is ’n subredakteur by Huisgenoot.
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.