Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Die digterlike insigte van betekenisvolle toeval
Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

Die sielkundige Carl Gustav Jung het die term sinkronisiteit gemunt vir ’n verskynsel wat hy as “betekenisvolle toeval” omskryf.

Vir hom het dit psigologiese implikasies ingehou wat hy selfs kon gebruik in terapeutiese sessies met sy pasiënte. Twee of meer onverwante gebeure kruis mekaar op ’n gegewe moment en het ’n verhelderende uitwerking op die waarnemer. Dié verbandlegging is natuurlik erg persoonlik van aard.

Ná dekades van leeswerk het sinkronisiteit vir my ’n literêre begrip geword. Soms beleef ek iets wat dan kort daarna korrespondeer met ’n gedagte of beeld in ’n gedig wat ek “toevallig” onder oë kry. Dit blyk dan dat die toeval allesbehalwe toevallig was. Onlangs het ek weer so ’n ervaring gehad.

Tydens my onderhoud met Johann de Lange vir Ek wou nog sê – Avbob se reeks TV-gesprekke met digters – vertel hy dat hy jare lank na die korrekte woord gesoek het vir die unieke rooi kleur wat in die wandskilderye van Pompeji voorkom. Hy het dit nodig gehad vir ’n gedig, maar moes die soektog deur kunsboeke en kleurhandleidings, op die internet en by kunsskilders later opgee. Die woord was onopspoorbaar en hy kon daarom nooit die gedig voltooi nie.

Die ondergang van die stad was terselfdertyd die redding van die skilderye wat eeue later eers deur argeoloë ontdek is.

In 79 n.C. is Pompeji onder vulkaniese as begrawe toe Vesuvius uitgebars het. Die ondergang van die stad was terselfdertyd die redding van die skilderye wat eeue later eers deur argeoloë ontdek is. D.J. Opperman praat in sy gedig “Dennebol” (in Dolosse, 1963) van Pompeji as “die bose stad gekrap uit die ashoop”. Die boosheid is ’n verwysing na die eksplisiet erotiese tonele wat op die binnemure van huise gevind is.

Die dag ná my gesprek met De Lange ry ek na Stellenbosch om bokse boeke uit my oom Piet Conradie se biblioteek te gaan haal. Hy was ’n professor in die klassieke tale en het na ’n versorgingsoord verhuis waar daar nie plek is vir sy uitgebreide boekversameling nie. Tussen die boeke vind ek T.J. Haarhoff – ook ’n professor van Grieks en Latyn – se Die liefde van Catullus (1933).

In dié bundel word die Latynse digter Gaius Valerius Catullus (84-54 v.C.) se kort maar hartstogtelike lewe berym. Hy was naamlik verlief op ’n beeldskoon ouer, getroude vrou (Clodia), wat hy in sy gedigte Lesbia noem. Haarhoff se bundel bevat ook vertalings van Catullus se verse, waarvan sommige in die oorspronklike Latyn seksueel ewe openhartig is as die muurskilderings van Pompeji. Haarhoff is besonder terughoudend in hierdie opsig. Die mees gewaagde strofe is die volgende uitbeelding van Clodia se liggaam wat slegs “vir liefde lewe”:

Groot, donker oë vol geheime vuur;

’n Tong so skerp as winterwinde guur;

’n Liggaam lenig, lomerig-lui en sterk

Om weelde of ontbering te verduur.

Wat opval, is dat hy die kleur as “dof-rooi” bestempel, terwyl dit in werklikheid diep-rooi is.

In die 11de gedig beskryf Haarhoff Clodia se rykmanshuis met marmer, mosaïek en muurskilderings: “ . . . wandtonele, goud met rooi, dof-rooi, / en sinnelik ryk en weelderig mooi.” In sy aantekeninge agterin die boek verwys Haarhoff na die muurskilderye van Pompeji met hul kenmerkende rooi agtergrond. Hy het dié gegewe dus verplaas na Clodia se huis in Rome. Wat opval, is dat hy die kleur as “dof-rooi” bestempel, terwyl dit in werklikheid diep-rooi is. Net soos De Lange het Haarhoff dus ’n goeie beskrywende woord kortgekom.

Sinkronisiteit het my tot op hierdie punt gebring. Maar is dit werklik ’n voorbeeld van “betekenisvolle toeval”? Wat het ek uit die ervaring geleer? Beslis die volgende. ’n Goeie digter, soos De Lange, sal ’n hele gedig opoffer as hy nie presies die regte woord kan vind nie, eerder as om onnoukeurig voort te ploeter soos wat Haarhoff in die meeste van sy gedigte doen.

Maar dit is nie waar my sinkronistiese leeservaring geëindig het nie. In een van oom Piet se boekbokse kry ek my ander oom, André Hugo, se intreerede by die Universiteit van Kaapstad – ook in die departement van klassieke tale. Aan die einde van sy lesing bedank hy Haarhoff in Latyn. Hy noem hom “magister venerabilis” (geëerde meester) en spreek sy spyt uit dat die bejaarde afgetredene weens swak gesondheid nie die plegtigheid kon bywoon nie. Die intreerede is op 11 Mei 1970 gehou en Haarhoff is op 30 Augustus 1971 oorlede.

En die insig wat hierdie laaste sinkronistiese toeval oplewer? Haarhoff was ’n goeie Latinis, maar moes liewer nie sy hand aan die dig- en vertaalkuns gewaag het nie.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.
Meer oor:  Johann De Lange  |  Daniel Hugo  |  Boekevat  |  Gedigte  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.