Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Die eenvoudige les van Silwer Moolman

My sewejarige seun, Alexander, is nie die grootste leser nie.

Dít ten spyte van die feit dat ons saans, elke aand, vir hom en vir sy ouer sussie lees en self laat lees.

Nee, Alexander sit eerder met ’n hoop Lego voor hom en volg die instruksies van ’n nuwe model ver bo sy ouderdom stap vir stap.

Jo Prins

Vir hóm is “lees” die stappe in die instruksies, die syfers wat hy gewoon sistematies moet volg.

En moenie probeer om hom te help nie . . .

In dié opsig volg klein Alexander, die veroweraar van veral sy ma se hart, in ’n lang lyn Prinse wat glad nie van lees gehou het nie.

Maar laat ek nou nie die storie by die oupagrootjies gaan haal nie, maar eerder sy oupa, my pa.

Waar my ma onophoudelik alles gelees het wat sy in die hande kon kry en ’n groot blokkiesraaiselvraat was, kan ek in my hele lewe nie een dag onthou waar my pa vir ontspanning êrens in die huis sit en lees het nie.

Niefiksie, dié sou hy lees . . . veral wat met sy werk – tandheelkunde – te doen gehad het, maar jy’t hom nie sommer met sy voete op en met ’n lekker roman gevang nie.

Die Bybel en Die Burger, ja . . . die politiek van die dag was belangrik.

En vir ’n man wat nie gelees het nie, het F.X. Prins meer grade gehad as wat ek kan onthou of opnoem.

Hy het ook die vermoë gehad om moeilike, wetenskaplike konsepte in gewone Afrikaans te omskep en, die heel belangrikste van alles, om dit selfs opwindend te laat klink.

Ek sal in my lewe nooit vergeet hoe gewone suiker se chemiese verbinding werk en lyk nie, en watter ánder dinge ’n mens ook met koolstof, waterstof en suurstof in verbindings kan aanvang nie . . .

’n Uur lange periode van letterkunde strek voor ons uit soos die pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg en die sonbesies buite hou oorverdowend maat met dié bloedige Bolandse somer.

Dit bring my by ’n onderwyser wat hier in st. 8, st. 9 vir die eerste keer daarin kon slaag om ’n liefde vir lees by dié kind van F.X. te kweek.

Die impak van dié enkele onderwyser het rimpelings heelwat verder as dié skool aan die walle van die Eersterivier die wêreld in gestuur.

Lank voor rolprente soos Dead Poets Society was daar ’n man met die naam Bill Moolman wat Afrikaans gegee het aan die Paul Roos Gimnasium.

Die geneuk was dat daar twee menere Moolman, albei met voorname Bill, by die skool was. Die een was die viserektor by wie jy nie wou pak hê nie . . . en dan “ons” ene. Om te onderskei het die kinders ons meneer Silwer genoem, “Silwer Moolman”, want hy het so ’n lekker bos silwer hare gehad.

Ou Silwer het sy dae gehad om óns klas – wat die kombinasie aardrykskunde en houtwerk as hoofvakke gehad het – in letterkunde te laat belangstel.

Boonop het die skool ’n negedagrooster gehad, so jy moes kophou om elke dag die regte boeke in te pak.

Ek het meer as een keer deurgeloop vir die verkeerde boeke, maar dié verskoning was natuurlik ook gerieflik wanneer jy nie jou huiswerk gedoen het nie.

Hoe ook al, ou Silwer staan dié dag daar voor ons.

18 verveelde seuns.

’n Uur lange periode van letterkunde strek voor ons uit soos die pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg en die sonbesies buite hou oorverdowend maat met dié bloedige Bolandse somer.

Ons klasse sou voortaan nooit weer dieselfde wees nie, want letterkunde het beteken dat ons anders na die wêreld en na onsself kyk.

Ou Silwer, met sy safaripak en Grasshoppers, staan daar met D.J. Opperman se Groot Verseboek . . . ’n mens kan eintlik die ratte in sy kop sien draai.

“Kry julle warm?” vra hy.

“Ja meneer!” kom dit soos een man van die klas af.

“Ek ook,” brom Silwer en nét daar voor ons trek hy sy hemp en frokkie uit en vou dit oor ’n stoel.

Daar staan Silwer, kaalbolyf, en die silwer op sy kop is ook te sien op sy borskas.

“Waarvoor wag julle?” vra Silwer.

Binne ’n oomblik is die hele klas se hemde uit.

Agttien seuns is binne ’n oogwink wakker en jou wragtig, ons let vir die eerste keer op wat Silwer bedoel met rym, paarrym . . . hel, selfs Breyten Breytenbach feature.

Met dié eenvoudige gebaar het meneer Moolman daarin geslaag om ’n muur tussen hom en ons af te breek.

Ons klasse sou voortaan nooit weer dieselfde wees nie, want letterkunde het beteken dat ons anders na die wêreld en na onsself kyk.

En ék het begin lees.

  • Jo Prins is die redakteur van Boeke24.
Meer oor:  Jo Prins  |  Lees  |  Boeke  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.