Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Die ‘suiwer wiskunde’ van die vertaalkuns
Wellington
Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

In die jaar 1999 skryf die geniale Gerrit Komrij weekliks ’n sonnet vir die Nederlandse koerant Algemeen Dagblad.

Om afskeid te neem van die laaste jaar van die 20ste eeu is sy tema telkens die tyd en tydsverloop. Die gedigte verskyn in 2000 by die uitgewery Bert Bakker in Amsterdam onder die titel 52 sonnetten bij het verglijden van de eeuw.

Op 1 Februarie 1999 verskyn die gedig “Het einde van de geschiedenis” in die koerant. Daarin staan die volgende strofe:

Er hangt een dichte mist in het heelal.

De bergforel die opsprong is bevroren,

De gier is blijven hangen in zijn val.

Er nestelen sponzen in de klokkentoren.

Hierdie reëls het my dadelik laat dink aan N.P. Van Wyk Louw se gedig “Suiwer wiskunde” (uit Nuwe verse, 1954):

Die uurwerk kantel. En die ligbruin by

hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug

word, nooit sal saadskiet, welk, en nooit verby

hierdie verstarde uur sal groei. Die lug

het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.

Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,

bly in sy ligte sirkels vasgehou

en moet sy see ’n ewigheid versuim.

Die bergforel vries waar hy stroomop spring.

Komrij laat die forel bevries in plaas van die lug, soos by Louw. En Louw se brander wat nie kan oorbuig en breek nie, word by Komrij die gier wat in sy duikvlug in die lug stol. Komrij gebruik ook die woord “val”.

Toe Komrij sy sonnet geskryf het, was hy bewysbaar bewus van Louw se gedig. In dieselfde jaar verskyn naamlik sy omvangryke bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte (Bert Bakker, 1999) en daarin neem hy onder meer Louw se “Suiwer wiskunde” op.

Toe ek ’n paar jaar later ’n keuse uit Komrij se gedigte vertaal, kon ek nie die versoeking weerstaan om hierdie interteks by wyse­ van spreke aan die groot klok te hang nie.

Daar hang ’n digte mis in die heelal.

Die bergforel vries waar hy stroomop spring.

Die lammervanger bly hang in sy val.

Die uurwerk staan stil in die kloktoring.

(Uit: Die elektries gelaaide hand, Protea Boekhuis, 2005)

Selfs al is Afrikaans en Nederlands nouverwante tale, kom dit selde voor dat ’n mens so direk kan vertaal soos in die eerste reël. Die afwykings in reëls 2 en 3 is te wyte aan die grammatikale en leksikale verskille tussen Nederlands en Afrikaans.

Die en-uitgange by die werkwoorde in die Nederlandse teks verval uiteraard in Afrikaans. In die reël “De gier is blijven hangen in zijn val” verdwyn om hierdie rede twee lettergrepe in Afrikaans: “blijven hangen” word “bly hang”. Daarom word die eenlettergrepige “gier” in my vertaling die “lammervanger” met sy vier sillabes. Op dié manier word die tien lettergrepe van die Afrikaanse versreël gevul.

Die wysiging van die tweede reël was noodsaaklik ter wille van die rym op “kloktoring”. In die oorspronklike teks rym “klokkentoren” op “bevroren” – iets wat nie in Afrikaans moontlik is nie.

En daarmee is terselfdertyd die “suiwer wiskunde” van die vertaalkuns geïllustreer.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Boekevat  |  Vertaling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.